Hardap-sluise nu00f3g groter getrek
Hardap-sluise nu00f3g groter getrek

Hardap-sluise nóg groter getrek

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Hardapdam se sluise is om 10:30 nóg groter oopgetrek sodat dit nou 300 m³ water per sekonde uitlaat – ‘n aanpassing wat nodig is omdat die dam tans meer water ontvang as wat uitgelaat word.

Die dam sal na verwagting vanaand die 75%-merk bereik.

Dit volg nadat die sluise omstreeks 00:00 vanoggend sowat 1,1 m oopgetrek is om 200 m³ water per sekonde uit te laat.

Mnr. Dawie de Klerk, 'n besproeiingsboer op die Hardapskema, het gesê om 08:00 was die dam se vlak 72,3%. Tóé het die dam water teen sowat 367 m³ per sekonde ontvang.

De Klerk het gerugte ontken dat een besproeiingsland reeds besig was om te oorstroom. “Dit is bloot net ‘n dreineringsloot waar die water in een persoon se land opstoot. Daar is op die stadium hoegenaamd geen skade nie, alles loop mooi. Alles word mooi bestuur en gemonitor,” het hy gesê.

De Klerk is sedert gisternag al op die toneel en monitor die situasie voortdurend.

75%-MERK
Volgens inligting wat vroeër vandag deur die Namibiese weerkantoor verskaf is, sal die dam na verwagting vanaand die 75%-merk bereik. Sedert die vloed van 2006 toe Mariental oorstroom het, is daar ooreengekom dat die damvlak om veiligheidsredes rondom 70% gehou sal word.

“Meer water behoort vrygelaat te word omdat die watervlakke in stroomop-riviere nie werklik daal nie. Na verwagting sal die invloei van water voortgeset word, soos oor die afgelope paar dae,” lui die e-pos, terwyl genoem word dat die Aub-rivier ook sterk loop.
Daar word genoem dat sonder die aanwesigheid van riete in die rivier waar die water uitloop, sou water selfs teen 800 of 900 m³ per sekonde vrygelaat kon word, sonder dat besproeiingslande verspoel.

Hidrologie-stasies op die Visrivier dui tans op ‘n sterk vloei van water. By Draaihoek vloei die water tans 0,93 m diep en teen 48 m³ per sekonde, terwyl Dirichas se watervlakke 1,09 m diep is en teen 54 m³ per sekonde vloei.

By Grass vloei die water 1,09 m diep teen 441 m³ per sekonde, terwyl water by Karris ook 1,14 m diep teen 117 m³ per sekonde vloei. By Kub vloei daar minder as 100 m³ per sekonde, terwyl daar geen water by Schlip of Ommamas is nie.

NOG REËN
Intussen het Odillo Kgobetsi, hoof weervoorspeller by die Namibiese weerkantoor, aan Republikein bevestig dat meer reën oor die naweek in die suide verwag word.

“Vandag sal reënneerslae sterker oor die suidwestelike dele van die land gefokus wees, maar vanaf môre word sterk buie suid van Mariental, tot by Keetmanshoop en Sesriem verwag. Die weer kan dan ook so ver as tot teen Rehoboth optrek,” het hy bevestig.

NamWater het om middernag die Hardapdam se sluise getrek toe die dam sy 70% merk bereik het. Die dam was gister teen 22:30 69,4% vol, waar dit die afgelope Maandag nog net 47,7% water bevat het.

VERSLAG
Láát gistermiddag het NamWater ‘n tussentydse damverslag uitgereik, wat wys dat die Hardapdam tussen Maandag en gistermiddag 14:10 altesaam 51,152 miljoen kubieke meter (Mm³) water ingekry het.

Volgens NamWater staan die Neckartaldam ook nou op 94,3% vol en het dit tussen Maandag en gistermiddag 15,130 Mm³ water ingekry. Dit was die afgelope Maandag nog 92,6% vol. Woensdag om 22:00 het water die dam teen 110 m³ per sekonde binne gevloei.
Die Nautedam, waarvan die sluise die afgelope Dinsdag oopgemaak is toe die dam 108,2% vol was, het ook weer water bygekry en staan tans weer op 100,1%. Gister om 15:50 het dit sowat 6,5 m³ water per sekonde bygekry.

Die Von Bachdam asook die Friedenau dam binne het sedert Maandag ook met onderskeidelik 0,1% en 2,7% gestyg.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!