Hardap teen swaar reën gewaarsku
’n Weerkenner meen die verwagte uitgebreide en groot volumes reën binne die Hardapdam se groot opvangsgebied moet dopgehou word.
Elvira Hattingh - Terwyl die Namibiese weerkantoor vandag wéér verspreide tot wydverspreide donderbuie vir die Otjozondjupa-, Khomas- en Hardapstreek voorspel, het swaar reën reeds klein oorstromings by die Hardapskema veroorsaak.
Boonop is die skema se besproeiingskanaal beskadig en moes NamWater se hidrologie- en ingenieursafdeling gister inderhaas planne beraam om die skade so gou moontlik te herstel.
Mnr. Dawie de Klerk, ondervoorsitter van die Akkerbouprodusentevereniging (APV) en ’n besproeiingsboer op die Hardapskema, het gister aan Republikein gesê die oorstroming is veroorsaak deur swaar reën wat Woensdagaand in die Dabibrivier se opvangsgebied sowat 15 km noord van Mariental voorgekom het.
“Dié rivier het sy walle oorstroom en toe die skema se leë besproeiingskanaal bereik, waar dit 40 m se panele laat ineenstort het. Die water het ook hoofpyplyne oopgespoel,” het De Klerk gesê.
“Die rivier loop steeds sterk en het water in besproeiingsboere se landerye ingestoot. Dit voed egter nie die Hardapdam nie omdat dit eers ná die damwal by die Visrivier aansluit,” het hy gisteroggend gesê.
HERSTELWERK
De Klerk sê dis belangrik dat die kanaal so gou moontlik herstel word, “anders sal die besproeiingskanaal nie binne die afsienbare toekoms water na die skema toe kan voer nie”.
Hy sê NamWater se onlangse vergunning om 1 Mm³ besproeiingswater te gee om permanente skade aan gewasse te voorkom, het die afgelope Sondag tot ’n einde gekom.
“Intussen het dit op plekke in die skema gereën, wat weer ’n week of twee ‘koop’,” het De Klerk gesê.
“Dit behoort ook te help dat daar genoeg tyd is om die strukturele skade aan die kanaal te herstel,” het hy gesê.
“Die oomblik as die struktuur egter herstel is en daar is nie voldoende reën op die landerye self nie is ek seker NamWater sal weer besproeiingswater beskikbaar stel,” het hy gesê.
De Klerk het gesê die Hardapdam het gister water van die Kalfrivier en die Visrivier by Kupp ontvang.
“Ek verneem dat nog water ook van Nomtsas af op pad is.”
SWAAR REËN
Intussen het die nieregeringsorganisasie LandWater, wat satellietfoto’s wetenskaplik ontleed en interpreteer, opnuut gewaarsku in die Hardapdam-omgewing moet teen swaar reën gewaak word.
“Ons werk met drie goed: ’n groot opvangsgebied, uitgebreide en (by tye) groot volumes reën binne die hele opvangsgebied, asook kanse vir sterk afloop.”
LandWater sê die Hardapdam se opvangsgebied strek oor 13,600 km².
“Dit is hier waar enigiemand wat ’n idee het wat na die omgewing op pad is, sal begin regop sit. Ons kyk nie net na gesentraliseerde swaar reën nie, maar na uitgebreide fases van swaarder reën.
“Daar is ’n beduidende kans vir gekonsentreerde, swaar reën by tye. Dit kan oor etlike dae voorkom. Mariental behoort sake oor die volgende week en langer dop te hou, met Maart wat ook nog voorlê,” het LandWater gesê.
WATER VIR DAMME
NamWater se jongste damverslag wys die Hardapdam het Donderdagoggend om 08:00 steeds 114,2 m³ water per sekonde gekry. Die dam het toe die 9,3%-merk bereik en oornag met 2,1% gestyg.
Altesaam ses damme het die afgelope week ’n invloei van water gehad, met die Von Bachdam wat sedert Maandag met 20% gelig het. Donderdagoggend was dit 58,9% vol en het dit 89,6 m³ water per sekonde ontvang.
Die Swakoppoort- en Omatakodam was gisteroggend onderskeidelik 11,9% en 21% vol. Die Swakoppoort het toe 36,4 m³ water per sekonde gekry, terwyl 15,5 m³ water die Omatakodam elke sekonde binnegevloei het.
Die Ooste se Otjiverodam was 9% vol (8,8% op Maandag) en die Oanobdam het ook van 46,8% na 47,2% gelig.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie