Hardapboere skaal 40% af
Die Hardapdam sal na raming nou ‘n maand langer water aan besproeiingsboere kan verskaf - mits hulle 40% van hul lande opoffer.
Elvira Hattingh - Hardapskemaboere en NamWater het ooreengekom om vanaf begin November besproeiing op 40% van hul landerye te staak - ‘n noodmaatreël om besproeiingswater ‘n maand langer te laat hou.
Dit kom egter reeds neer op ‘n verlies aan produksie en inkomste, die aflegging van werkers en ‘n onvermydelike tekort aan voer vir suiwelplase in die omgewing.
Dit volg nadat NamWater vroeër vanjaar aangekondig het dit sal vir die eerste keer in geskiedenis, sodra damvlakke die 4,5%-punt bereik, nie watertoevoer na besproeiingsboere rondom die Hardapdam kan volhou nie.
Volgens die jongste damverslag het die Hardapdam tans 11,1% water oor.
Danksy die nuwe noodmaatreël sal die afsnypunt van 4,5% na verwagting teen die einde van Desember bereik word. Hiersonder sou besproeiingswater dalk reeds begin Desember afgesny gewees het.
Mnr. Willie Agenbach van Goedbegin Melkboerdery sê die feit dat hy nou net 60% van sy gewasse kan besproei, kom daarop neer dat hy 30 hektaar se lusern moet laat vrek. Hy sê hy oes sowat 25 ton lusern per ha per jaar.
Agenbach, wat een van die drie melkplase in dié omgewing besit, sê hy moet noodgedwonge sy melkboerdery verklein. “Ek verwyder tans swakker melkkoeie en beoog om my melkboerdery met 15% te sny,” het hy gesê.
Agenbach sê die ooreenkoms sal boere wel help om die einde van Desember te haal, waarna watertoevoer vir besproeiingsdoeleindes moontlik heeltemal gestaak kan word. “Tans is die situasie nog uithoudbaar, maar ek glo dit gaan binne ‘n maand of drie tot voertekorte vir veral suiwelprodusente by Hardap lei.”
Hy het besluit om eerder sy lusern te laat vrek en te probeer om sy mielie-aanplantings deur te trek tot begin Januarie, wanneer dit gereed vir oes sal wees.
“My grootste krisis is drinkwater vir die beeste,” sê hy en voeg by dat hy reeds planne beraam het om ‘n boorgat te sink, maar dat dit groot onkoste gaan behels. “Suiwelprodusente oorweeg om voorts ook riete in die rivier as voer vir hul beeste te gebruik,” het hy gesê.
Bothma Agri se mnr. Dolf Bothma, ‘n besproeiingsboer, sê hy is besig om sy koring te stroop en sal daarna nie weer iets op dié lande plant nie. Dit beteken 42 ha van die 74 ha wat hy besproei, sal uit produksie gehaal word.
Nog ‘n besproeiingsboer, mnr. Louw Nolte van Nolte Boerdery, sê die waterbeperking is soos om skielik net die helfte van jou salaris te ontvang en steeds dieselfde uitgawes te moet dek.
“Ek het voorsien dat ‘n watertekort kom en hiervoor beplan deur nie koring te plant nie, al kon ek meer geld daarmee maak. Ek het ook nie lusern aangeplant nie, maar eerder hawer wat ‘n korter tydperk tot oes nodig het.
“Daar is egter boere wat niks kon doen nie omdat hulle reeds langtermyngewasse op die lande gehad het.”
Nolte sê hul enigste hoop is dat dit kom reën en die dam water sal inkry. “Daar is nie meer ander planne om te maak nie. Dit is soos ‘n boer wat glad nie meer veld of skape oor het nie en met skuld sit. Net die tyd sal leer,” het hy gesê.
NamWater het voorheen gesê sodra die Hardapdam se watervlak tot op 4,5% daal, sal Mariental self net genoeg water vir twee reënseisoene oorhê. Na raming is meer as ‘n duisend huisgesinne van die Hardapskema vir ‘n lewensbestaan afhanklik.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie