Harde lesse in Rio geleer, sê Schickerling

Olimpiese Spele
Andrew Poolman
’n Paar harde lesse is voor, tydens en ná die afgelope Olimpiese Spele geleer, het topbeamptes van die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee gister erken.
Op ’n nuuskonferensie gister het die missiehoof van die Namibiese span wat uit Rio de Janeiro teruggekeer het, gesê die lesse moet ter harte geneem word indien die land hoop om beter uitslae by toekomstige Speles te behaal.
Geeneen van die tien Namibiese atlete het medaljes gewen nie.
Schickerling het onthul dat die span twee dae ná hul aankoms in Rio de Janeiro gekonfronteer is met ’n appèl­aansoek wat die naelloper Tjipekapora Herunga by die Hof vir Arbitrasie in Sport (CAS) ingedien het waarin sy haar weglating uit die span teenstaan.
Herunga, ’n semifinalis by die Spele vier jaar gelede in Londen, en Atletiek Namibië was in ’n dispuut met die Olimpiese Komitee oor die vereiste getal kere dat die atleet kwalifiserende tye vir Rio 2016 behaal het.
“Ons het tyd verloor terwyl ons onsself moes verdedig, in stede van te fokus op tegniese vergaderings en om oefensessies vir ons atlete te organiseer.”
Die CAS, die hoogste hof vir dispute in sport, het Herunga se aansoek verwerp omdat Olimpiese komitees die beslissende gesag is wat elke land se span na die Spele bepaal. “Geen atleet kan aanspraak maak op ’n reg om ingesluit te word nie.”

JUNIAS JONAS
Nog ’n onverwagse beslommernis was die terugslag toe die bokser Junias Jonas hom eensklaps teen ’n klag van seksuele aanranding moes verdedig.
“Hierdie saak het ook geweldig baie tyd uit ons skedule geneem, omdat ons moes verseker dat hy so gou as moontlik vrygelaat word.”
Voordat Jonas uiteindelik ná vier nagte in die tronk vrygelaat is, is altesame vier appèlaansoeke binne vier dae by die Brasiliaanse owerhede ingedien, het Schickerling gesê.
Jonas is eers om vieruur die oggend, voor sy openingsgeveg later daardie aand, in die sorg van die Namibiese ambassade vrygelaat.
Die Swakopmunder is steeds in Brasilië in afwagting op sy volgende verskyning in die hof.
Die NNOK se president, mnr. Abner Xoagub, het gesê sy organisasie sal in die toekoms regsversekering uitneem vir ingeval atlete in die buiteland in regskwessies verstrengel raak.

GELD PRAAT
In terme van voorbereiding het Schickerling uitgewys dat Namibiese atlete nie behoorlik voorberei was vir die Spele in vergelyking met hul opposisie nie en dat ’n gebrek aan geld ’n groot rol hierin gespeel het.
“Gemiddeld kos dit agt jaar om ’n atleet voor te berei wat ’n medalje by die Olimpiese Spele losslaan, met totale finansiering van tussen 1 miljoen en 1.5 miljoen Amerikaanse dollar per jaar. Die NNOK het net N$100 000 per atleet beskikbaar gestel.”
Schckerling het gesê die nasionale Olimpiese Komitee het in 2013 al die sportbeheerliggame in Namibië versoek om die name en besonderhede te verskaf van atlete wat moontlik kon kwalifiseer en om medaljes by Rio 2016 kon meeding.
“Die eerste atlete is egter eers in die middel van verlede jaar geïdentifiseer, wat heeltemal te laat is om hulle na behore vir die Spele voor te berei.”
Veral met baan- en veldatletiek in gedagte, het hy gesê die Namibiese kandidate het aan heeltemal te min kwalifiserende byeenkomste deelgeneem. Sodoende is hul kanse om vroegtydig te kwalifiseer, grootliks benadeel en uiteindelik het niemand die paal gehaal nie, afgesien van drie vroue en een man in die marathon-padwedlope.
Ondanks al hierdie uitdagings sê die NNOK hy het waardering vir die Namibiese atlete wat vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer het. Iemand soos die kleiteikenskut Gaby Ahrens het byvoorbeeld met haar negende plek ’n goeie eindposisie behaal en grootliks op haar vorige vertonings verbeter.
Die NNOK het ook onderneem om met nouer samewerking van die nasionale federasies en ander rolspelers seker te maak dat Namibië sy vertoning op verskeie gebiede opskerp tot voordeel van die atlete. - Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!