Harde werk + Balans = Sukses

Vanjaar se toppresteerders gaan bykans deur die bank in moelike studierigtings soos medies, rekeningkunde en ingenieurswese studeer.
Ronelle Rademeyer
Onderwysredaksie - Vanjaar se slimkoppe wat die toptien-plekke in die graad 12- hoërvlak-eksamen (NSSCH) behaal het, stem saam prestasie val nie uit die lug nie.

Harde werk, dissipline en daarmee saam ook ’n gebalanseerde lewe wat sport en kulturele aktiwiteite insluit, is hulle wenresep.

Maurice Hinterholzer van Walvisbaai Private Hoërskool is 2019 se nommer een-leerlinge in Namibië. Sy raad? “Werk hard en gee jou beste in alles wat jy doen. Jy leer nie net vir jou eie vooruitgang nie, maar ook vir die vooruitgang van jou gesin, jou gemeenskap, jou land”. Hy gaan medies studeer aan die Universiteit Pretoria.

Karina Shikongo van St. Boniface College is tweede en sê: “Harde werk, maar ook gebed.” Sy wil ook ’n dokter word en het ingeskryf by die Universiteit van Namibië (Unam) se Mediese Skool.

Ndeshipanda Mulongeni, ook van St. Boniface College, stem saam dissipline, gebed en harde werk bring ’n mens bo uit. Sy saam gaan met Karina medies studeer by Unam.

Nog ’n leerling van St. Boniface wat presteer het, is Aduache Okore. Hy is vierde in die land. “Gebed en harde werk,” sê hy was die bestanddele wat hom op koers en gefokus gehou het. Hy gaan in die regte aan die Universiteit Pretoria studeer.

Timotheus (Tim) Borrman van die Sekondêre Skool Otjiwarongo is een van drie leerlinge van dié dorp in die sentrale Noorde wat onder die toptien geëindig het. Hy beplan om volgende jaar in Duitsland te studeer. Hy is nog nie seker watter rigting hy wil volg nie en is tans besig om navorsing oor die onderskeie moontlikhede in dié land te doen.

Windhoek Hoërskool se Ukarapo Kasaona se raad vir volgende jaar se graad 12’s is soos volg: “Doen elke dag ’n bietjie en teen die tyd wat jy eksamen skryf, is dit reeds in jou brein vasgelê.” Sy gaan BRek aan die Universiteit van Kaapstad studeer.

Louis Mouton van Edugate Akademie op Otjiwarongo sê sy resep vir sukses is balans. “Ek het gefokus op akademie, sport en kultuur. Só het ek nuwe mense ontmoet en myself verryk. Sport en kultuur was my ontspanning ná ek hard aan my akademie gewerk het.” Louis gaan volgende jaar megatroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

Nico Epler van die Sekondêre Skool Otjiwarongo sê hy glo ook sukses kom deur goeie balans. “Jy kan nie net op akademie fokus nie en moet ook sport en kultuur in jou lewe insluit,” sê hy. Nico gaan net soos Louis volgende jaar megatroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch studeer en beplan om daarna sy meestersgraad in biomediese ingenieurswese aan te pak.

Vir Marné Riekert, Windhoek Gimnasium se hoofmeisie, het “baie harde werk dwarsdeur die jaar en die ongelooflike ondersteuning van ’n skool en onderwysers wat altyd bereid is om te help”, die deurslag gegee. Sy is ingeskryf vir BRek by die Universiteit Stellenbosch volgende jaar.

Vra jy vir Michelle du Plessis, ook van die Walvisbaai Private Hoërskool, hoe sy dit reggekry het, is haar antwoord: “Ek het elke dag die betrokke dag se werk geleer, baie gebid en die goeie ondersteuning by my familie gekry.” Sy wil ’n geoktrooieerde rekenmeester word en is vir BRek by die Universiteit Stellenbosch gekeur.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!