Harde woorde val by visvergadering
Aanlandige maasbankerverwerkings het die visseryeminister versoek om gebiede te skep waar net hulle vissersbote mag visvang.
Ronelle Rademeyer
Harde woorde het Vrydag geval toe Namibië se aanlandige maasbankerverwerkers 'n twee uur lange noodvergadering met dr. Albert Kawana, minister van visserye en mariene hulpbronne, oor die krisis in dié segment van die visbedryf gehad het.
Dit volg nadat Kawana die Erongostreek verlede week besoek het om met verskeie belanghebbendes in die visbedryf te vergader.
Die visbedryf bloei ná die regering se viskwotaveiling in 2020 misluk het en nie die ekonomiese oplewing gebring het waarop gehoop is nie.
Die eienaars van visfabrieke wat maasbanker vang en wal toe bring om aanlandig te verwerk, probeer reeds maande lank hul “komplekse en tegniese” uitdagings onder die regering se aandag bring en het vroeër vanjaar in briewe aan Kawana en pres. Hage Geingob gevra 'n uitvoerende taakspan bestaande uit kundiges moet aangestel word om aan hul dilemma aandag te gee.
Die aanlandige maasbankerverwerkers dring onder meer daarop aan dat eksklusiewe visvangsones vir hulle geskep word. As dit nie gebeur nie, staan hulle gevaar om binne die volgende twee maande onder te gaan, waarna meer as 2 000 werknemers op straat sal beland.
Hulle soek in pas met die gebruik elders in die wêreld 'n “voorgeegebied” van 30 m tot 50 m waar dié maatskappye met groot fabrieksbote wat bevriesing op see doen, nie toegelaat word om saam met die aanlandige verwerkers se kleiner vissersbote vis te vang nie.
Alternatiewelik vra hulle dat net hul vissersbote tussen sekere breedtegrade langs die Namibiese noordkus toegelaat word.
Dié verwerkers het aanvanklik gevra die isobar-beperking wat hul vangste tot 'n diepte van 200 m beperk, moet opgeskort word.
Kawana het verduidelik dit is nie moontlik nie aangesien Namibië een van 14 lande is wat die Blou Ekonomie-beleid aanvaar het.
Die isobar-beperking is 'n meganisme om visbronne te beskerm.
'n Bron in die visbedryf wat verkies om anoniem te bly, het egter gister by navraag aan Republikein verduidelik dat maasbankervangste in Suid-Afrika, waar aansienlik meer wetenskaplike navorsing gedoen word, tot op 300 m toegelaat word.
Volgens mnr. Jason Angala, voorsitter van die Vereniging vir Aanlandige Maasbankerverwerkers, maak die 200 m-beperking dit vir die vissersbote van aanlandige verwerkers onmoontlik om vanaf einde Julie tot vroeg in November vis te vang.
“Hoewel die aanlandige maasbankeraanlegte jaarliks meer as 155 000 ton maasbanker kan verwerk, is ons vir ten minste die helfte van die jaar nie operasioneel nie,” sê Angala.
Dit is teen dié agtergrond dat die aanlandige verwerkers op 'n eksklusiewe voorgeegebied aandring waar hulle nie met die groot fabrieksbote vir maasbankervangste hoef mee te ding nie.
Mnr. AJ Louw, voorsitter van Seaflower Pelagic Processing (SPP), het Vrydagmiddag in 'n stemnota aan ander aanlandige maasbankerverwerkers gesê dít was die boodskap wat hy tydens die vergadering aan Kawana wou oordra.
Die ander maatskappye naas SPP wat aanlandige verwerking doen, is Gendev Fishing Group en Tunacor.
Die visseryeminister het Louw egter ná drie minute in die rede geval en wou hom nie kans gee om klaar te praat nie.
'n Klankgreep van die woordewisseling tussen Louw en Kawana sirkuleer tans op WhatsApp onder belanghebbendes in die visbedryf.
Louw het Kawana daarop gewys dat hy deel was van die kabinet se besluit in 2011 om die maasbankerbedryf tot voordeel van alle Namibiërs te hervorm, en gesê dit het misluk.
Die maasbankerverwerkers het in 'n voorlegging aan Kawana gesê hulle het meer as N$2 miljard belê en meer as 2 000 werksgeleenthede geskep, maar word nie oor dieselfde kam geskeer as die stokvisbedryf nie.
“In die stokvisbedryf het 100% van die kwotas aanvanklik aan die fabrieksbote gegaan, maar dit is mettertyd aangepas en nou kry die aanlandige stokvisverwerkers 70% van die kwota en verskaf werk aan 10 000 Namibiërs,” sê Louw.
In die maasbankerbedryf is die kwotaratio tussen die fabrieksbote en die aanlandige verwerkers 60:40, terwyl net sowat 400 werksgeleenthede deur die fabrieksbote geskep word waar vis aan boord gevries en uitgevoer word. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie