Hardnekkige Uganda eindelik gebu00eare
Hardnekkige Uganda eindelik gebu00eare

Hardnekkige Uganda eindelik gebêre

Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die rugbymissie na Kampala was suksesvol, maar Phil Davies en sy afrigterspan sal gewis hoër standaarde in die twee oorblywende Afrikabeker-wedstryde verwag.
As die verdedigende kampioen het Namibië Saterdag sy wegwedstryd teen Uganda met 40-31 gewen, maar die drieëtelling van ses teen vyf getuig dat dit geensins ’n foutlose vertoning was nie.
Op beide die aanval en verdediging het oorhaastigheid aan die Namibiese kant hulle duur te staan gekom. Swak beskerming van balbesit, swak hanteerwerk en foute op die verdeding het gesorg dat die Oos-Afrikane tot laat in die wedstryd nie heeltemal buite rekening was nie.
In die komende tuiswedstryde teen die sterker opposisie van Kenia (16 Julie) en Zimbabwe (6 Augustus) sal hierdie tipe onnodige foute nie bekostig kan word nie.
Ten minste kon Uganda, wat vir 2016 se Afrikabeker uit die 1B- tot die 1A-afdeling bevorder is, nie weer die volslae gunstelinge skok soos in 2007 kort voor die Wêreldbeker nie.
Die Namibiërs was rustyd met 21-12 voor. Die haastige linkervleuel Gino Wilson het in sy tweede toetswedstryd sy eerste twee toetsdrieë gedruk.
Op die regtervleuel het Chrysander Botha ook met een drie in elke helfte sy totaal tot 18 in 39 toetse opgeskuif – meer as enige ander Namibiese speler wat tans aktief is. Botha is nou in sig van Eden Meyer, wie se 21 drieë die tweede meeste ná Gerhard Mans se nasionale rekord van 27 is.
Die buitesenter JC Greyling het ook vir sy sesde toetsdrie deurgenael, terwyl die voorspelers hul oorheersing van die skrums gebruik het om die Suid-Afrikaanse skeidsregter Rasta Rasivhenge te oortuig om ’n strafdrie in die tweede helfte toe te ken.
Losskakel Theuns Kotzé het met vyf uit ses doelskoppe geslaag, benewens sy rol as planmaker in verskeie van die drieë. Hy is reeds Namibië se voorste puntemaker in toetsrugby.
Uganda se agterlyn het heelwat ondernemingsgees gewys en het soms met gans te veel gemak die gate in die verdedigingslyn gevind. Uit vorige ondervinding kan verwag word dat Kenia en Zimbabwe selfs meer spoed en vernuf agterlangs kan hê.
Namibië se motivering vir die 2016-reeks is om weer as die nommer een span te eindig. Dié status sal dan meebring dat hy in 2017 net een wegwedstryd (teen nommer vier) sal moet speel en dus die tuisvoordeel teen Kenia en Zimbabwe as sy voorste uitdagers sal verkry. Die 2017 Afrika-bekerkampioen sal sy regstreekse kwalifikasie vir die 2019 Wêreldbekertoernooi in Japan verseker – ’n volle twee jaar voor die groot skouspel.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer