Harry, Meghan op pad na buurlande
Harry, Meghan op pad na buurlande

Harry, Meghan op pad na buurlande

Die Londense Sunday Times het vroeër vanjaar berig dat prins Harry ’n deel van vanjaar in Afrika gaan deurbring – Suid-Afrika is toe reeds as bestemming genoem.
Die Sussex-egpaar gaan in Suid-Afrika kom kuier!

Hoewel die presiese datum nog nie bekend is nie, sal die paartjie ook Malawi en Angola besoek.

Die besoek sal saamval met die liefdadigheidsorganisasie Sentebale se uitbreiding na Malawi, berig Chris Skip, redakteur van ITV.

Harry en prins Seeiso van Lesotho het Sentebale saam begin as huldeblyk aan hul onderskeie ma’s wat albei vroeg oorlede is. Sentebale beteken “vergeet my nie” en fokus op die voorkoming van MIV.

Die twee prinse het Dinsdagaand ’n galakonsert ten bate van Sentebale in Hampton Court-paleis bygewoon. Meghan, wat nog met kraamverlof is, het nie die konsert bygewoon nie. Sy was wel Saterdag aan Harry se sy met die Vaandeldagparade en verskyning op Buckingham-paleis se balkon omdat dit as ’n familieverpligting beskou word. Die Vaandeldagparade is die amptelike viering van koningin Elizabeth se verjaardag.

Die doel van die besoek aan Angola is om soos sy oorlede ma, Diana, prinses van Wallis, ’n bewustheid te kweek van landmyne in die land en die veldtog om dit onskadelik te maak.

TEENLANDMYNVELDTOG

Diana se betrokkenheid by die veldtog en haar besoek aan Angola sewe maande voor haar dood in Augustus 1997 het destyds wêreldwyd stukrag aan dié veldtog gegee, maar haar ook die toorn van Britse politici op die hals gehaal.

Diana is destyds as ’n jukskeibreker bestempel omdat sy haar gewig agter die Halo-trust se werk met die verwydering van landmyne in oorlogsgebiede ingegooi het.

Kort ná haar dood is landmyne egter wêreldwyd verbied.

Harry het sy ma se nalatenskap by die teenlandmynveldtog voortgesit en sal volgende week ’n konferensie daaroor bywoon.

Die Londense Sunday Times het vroeër vanjaar berig dat Harry ’n deel van vanjaar in Afrika gaan deurbring – Suid-Afrika is toe reeds as bestemming genoem. Hoewel aanvanklik gemeen is dat dit ’n tipe sabbatsverlof sal wees, het dit later duidelik geword dat Harry sy eie paadjie op die koninklike verhoog wil uitkap.

Harry het as tweede seun van die Britse troonopvolger, prins Charles, meer vryheid oor watter organisasies of veldtogte hy wil ondersteun en hoe hy sy betrokkenheid uitleef. Hy word ook minder gebind deur die tradisionele rol wat van ’n troonopvolger soos prins William, sy broer, verwag word.

PASSIEVOL OOR BEWARING

Meghan fokus weer op onderrig vir vroue en vrouebemagtiging en het ook reeds as ambassadeur van die Verenigde Nasies se kinderfonds (Unicef) liefdadigheidswerk in Afrika gedoen. Sy moes dié rol laat vaar toe sy met Harry getrou het.

Albei is passievol oor bewaring en het reeds foto’s oor hul werk op die vasteland op hul gewilde Instagram-profiel @Sussex_Royal gedeel.

Meghan se kraamverlof eindig einde Augustus.

Hoewel daar, volgens Skip, nog nie duidelikheid is of die paartjie hul baba, Archie, op hul besoek gaan saamneem nie, sal Harry ondanks die veiligheidsaspekte en reisreëlings nie maklik hul kind in Brittanje agterlaat nie.

Ook Diana het verseg om sonder haar kinders te reis. Op haar en Charles se toer na Australië het sy baba William saamgeneem. William en sy oppasser het op ’n plaas gebly terwyl Charles en Diana elke paar dae na die plaas teruggekeer het. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer