Harry Potter-skrywer reik gratis kinderboek uit

Aanhangers van J.K. Rowling, die skrywer van die Harry Potter-reeks, se dag is gemaak toe sy onverwags op haar webwerf aankondig sy het weer haar hand aan ’n kinderboek gewaag.

Dit het die kroon gespan toe Rowling (54) boonop Donderdag in ’n skrywe op www.jkrowling.com bevestig dat die nuwe boek The Ickabog heet én dat sy dit gratis aanlyn gaan uitreik aan jonk en oud wat tydens die Covid-19-pandemie vermaak broodnodig het.

Rowling se plan is om elke weeksdag tussen 26 Mei en 10 Julie “een of twee of drie” hoofstukke van die boek op www.ickabog.com te publiseer, en die hele boek later vanjaar in November as ’n gedrukte boek, e-boek en oudioboek uit te reik.

“Sodra The Ickabog uitgereik is, gee ek my woord dat al my outeurstantième aan groepe geskenk sal word wat deur die pandemie geraak is,” skryf sy.

Rowling sê sy het The Ickabog eintlik tien jaar gelede al geskryf en dat haar aanvanklike oogmerk was om dit ná die laaste Harry Potter-boek, Harry Potter and the Deathly Hallows, uit te gee.

“Ná die laaste Harry Potter-boek (in 2007) wou ek egter ’n blaaskans neem – wat eindelik sowat vyf jaar geduur het,” skryf sy.

“In daardie tyd het ek The Casual Vacancy en Robert Galbraith (haar skuilnaam) The Cuckoo’s Calling geskryf. Nadat ek daaroor geaarsel het – en my arme agent The Ickabog as handelsnaam geregistreer het – het ek egter besluit om ’n rukkie nie weer kinderboeke uit te gee nie.”

Hoewel sy The Ickabog saans vir haar twee jongste (van drie) kinders gelees het, het sy eindelik besluit om die manuskrip in haar solder weg te bêre. Toe die Covid-19-pandemie uitbreek, het sy gedink dit is ’n goeie tyd om die manuskrip letterlik af te stof en gratis aan veral haar jongste lesers wêreldwyd beskikbaar te stel.

Volgens The Guardian is The Ickabog ’n feëverhaal, wat Rowling op haar webwerf skryf en oor “die waarheid en magsmisbruik handel”.

“Ek het die idee vir die boek al meer as tien jaar gelede gehad, so dit is nie veronderstel om gelees te word as ’n reaksie op iets wat nou in die wêreld gebeur nie. Die temas is tydloos en is van toepassing op enige era en enige land.”

Sy sê kinders tussen sewe en nege jaar oud sal dit op hul eie kan lees.

Al agt Harry Potter-rolprente kan op Apple iTunes of Google Play Movies gehuur of gekoop word.

– Netwerk24/Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!