Harte vir 'n nuwe hart
'n Hele familie én hul bure en vriende maak hartjies uit materiaal om lewens te red.
Tanja Bause
Om 'n groot tafel in 'n voorkamer in die hoofstad sit 'n klomp mense en hartjies maak.
Kleintjies, grotes, hartjiesleutelhouers en ophanghartjies.
Dít alles omdat vier broers hul ma se hart probeer red.
Die Deck-broers, Rudi, Etienne, Werner en Quinton, het die Ellen's Heart Charity-trust gestig om nie net geld vir hul ma se broodnodige hartoorplanting in te samel nie, maar ook om ander mense te help wat hartprosedures nodig het en dit nie kan bekostig nie.
“Ek het aan die einde van 2017 griep gekry en net nie gesond geword nie. Dit was vir my onverwags omdat ek my hele lewe lank nog nooit regtig siek was nie. Ek het snags wakker geword omdat ek nie asem kon kry nie, en my longe het geroggel. Dit het gevoel of ek doodgaan,” het me. Ellen Deck gesê.
Sy het 'n dokter besoek, wat 'n elektrokardiogram (EKG) laat doen het.
“Die dokter het my twee weke lank afgeboek en gesê ek het hartversaking en daar is groot fout,” sê sy.
In Januarie verlede jaar het Ellen 'n hartspesialis besoek en daar is vasgestel slegs 25% van haar hart funksioneer steeds.
Haar hart is vergroot en pomp bloed nie meer na behore deur haar lyf nie.
“Volgens die dokter het 'n virus dit veroorsaak. Ek is nou op medikasie en het tans 30% hartfunksie. Die korttermynoplossing is dat ek nou 'n spesiale pasaangeër kry, wat sal verseker die hart funksioneer. Maar die langtermynoplossing is 'n hartoorplanting. Dit is 'n groot skok vir my.”
Ellen werk bedags en rus saans, wanneer sy tuiskom, 'n uur lank voor sy by die gesin aansluit om materiaalhartjies te maak.
Dít om die trustfonds, wat einde verlede jaar gestig is, aan te sterk.
“Ons ma is ons alles en ons sal tot die einde van die aarde vir haar loop,” het Rudi, een van die vier broers, gesê.
“Ons het die trust gestig sodat ons ons ma kan help, maar ook om ander mense wat in dieselfde situasie is, te help. Toetse om uit te vind of iemand 'n hartprobleem het, is baie duur. Daar is baie mense wat nie die nodige fondse hiervoor het nie, en ons kan deur middel van die trust help,” het hy gesê.
Die broers en hul gesinne wou nie individue en ondernemings om geld nader nie, maar wou iets daadwerkliks doen om geld in te samel.
Christine, Rudi se vrou, het met die idee om materiaalhartjies te maak, vorendag gekom.
“Ek het nog nooit in my lewe naaldwerk gedoen nie. Ek het materiaal gevat en harte begin maak. Die idee was om klein hartjies te maak en dit as sleutelhouers te verkoop om fondse vir die trust te kry. Die eerste paar probeerslae het glad nie soos harte gelyk nie. Maar ek het aangehou en vandag het ons as familie, vriende en kennisse al meer as 1 400 harte gemaak en verkoop,” het sy gesê.
Ouma Susann Sowden (73) is die oudste hartjiemaker in die familie en Mikayla Deck (8) die jongste.
Natuurlik maak al vier broers ook harte. “Dit is ongelooflik hoe dit nie net vir ons as familie nie, maar ook ander mense bymekaargebring het. In Desember het familie uit Suid-Afrika kom kuier en selfs die grootooms het hand bygesit. Niemand is te oud of te jonk daarvoor nie,” het Etienne gesê.
Volgens buurvrou Kobi Kuhnn is dit “nie net verslawend nie, maar ook baie lekker om te sien wat jy met jou hande gemaak het. My man, Cobus, werk sewe dae 'n week, maar elke aand wanneer hy by die huis kom, begin hy hartjies maak.”
“Oom Cobus is nie die enigste man wat harte maak nie, maar hy is wel die fluksste. Hy maak elke aand, selfs naweke, sowat 40 harte,” het Etienne bygevoeg.
Die hartjieverkope het tot dusver N$17 000 vir die trust ingebring. “Dit is nie baie geld nie, maar dit is konstant. Ons hoop die trust is eendag sterk genoeg om nie net ons ma te kan help nie, maar ook baie ander mense, en intussen bring die maak van die harte ons as familie, vriende, bure en kennisse nader aan mekaar,” het Rudi gesê.
Om die trust 'n hupstoot te gee, hou die broers op 2 November 'n pretdag by die United-sportterrein in Windhoek met valskermspringers, kindervermaak en musiek.
Vir meer inligting, kontak Christine by 081 288 4299, [email protected], of die Ellen's Heart Charity Trust se Facebook-blad.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie