Hartebeestloop-bul vir N$550 000 verkoop
'n Suid-Afrikaanse teler wat weer 'n topbul in Namibië gekoop het, sê die twee lande se landbougemeenskappe moet nouer saamwerk.
Ronelle Rademeyer
Die Suid-Afrikaanse megaboer en Bonsmarateler, mnr. Nick Serfontein, het vir die tweede jaar agtereenvolgens stof in ander kopers se oë geskop deur die hoogste prys te betaal vir 'n Hartebeestloop Bonsmara-bul van dr. Joggie Briedenhann.
Die hoogste bod van N$550 000 is Vrydag tydens Hartebeestloop se 15de produksieveiling naby Stampriet gesamentlik op Serfontein (van Sernick Bonsmaras) en die Namibiese teler, mnr. Richard Theron van Rehoboth, toegeslaan. Dit was vir die bul HART17-0276.
Die naashoogste pryse wat vir topbulle betaal is, was N$450 000, N$350 000 en N$240 000.
Net soos verlede jaar kon kopers weer aanlyn bie. Die aanbod het uit 50 Bonsmara-bulle en 'n groot hoeveelheid vroulike diere bestaan.
Serfontein het gister uit Edenville in die Vrystaat waar hy boer, gesê “dit was heerlik” om die veiling in persoon by te woon en nie soos verlede jaar, toe die grense toe was, aanlyn te bie nie.
Hy sê hy het gesien Theron stel in die bul belang en het toe aangebied dat hulle dit saam koop.
“Die bul sal vir die eerste twee tot drie jaar op sy plaas by Rehoboth loop.”
Hy sê hy het twee jaar gelede 'n Bonsmara-bul aan Theron verkoop en ondersteun hom sedertdien met sy boerdery.
Serfontein se Sernick-groep het in 2019 'n omset van R1,5 miljard gehad en verskaf werk aan 615 mense.
Hy sê landbou in Suid-Afrika en Namibië het deur 'n moeilike tyd gegaan – in Suid-Afrika vanweë politieke redes en in Namibië weens die droogte.
“Hier in Suid-Afrika betree ons nou 'n totaal nuwe era. Landbou is nou dié sektor wat hoop gee en die ekonomie en die mense dra. Daar is weer glimlagte op boere se gesigte,” sê Serfontein met verwysing na landbou se goeie prestasie te midde van Covid-19.
“By julle in Namibië het die goeie reën nuwe hoop gebring. Ons moet dit benut en saamwerk. Suid-Afrika moet sy vleisbedryf hervorm, en julle het ons genetika nodig,” sê hy.
Serfontein sê Suid-Afrika moet sy biosekuriteit verbeter sodat Namibië, wat 'n invoerverbod ingestel het nadat bek-en-klouseer in die buurland uitgebreek het, dit kan ophef.
“Die teeldiere in Namibië is uitgedun en telers daar gaan genetika nodig kry,” sê hy.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie