Hartlief staak steeds

Die werkers en hul vakbond Nafau bly vasbeslote, terwyl O&L nog by sy aanbod van 3% volstaan.
Augetto Graig
Augetto Graig en Tanja Bause – Die staking by Ohlthaver en List (O&L) se kleinhandelaar Hartlief duur steeds sedert 28 Desember voort.

Volgens mnr. Lister Tawana, die Namibiese Unie vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau) se nasionale koördineerder vir opleiding en navorsing, is die staking van meer as 200 werknemers wettig en die vakbond bly vasbeslote ten spyte van 'n tekort aan kommunikasie vanaf die maatskappy.

Volgens mnr. Ruben Nghifimule wat die werkers buite die perseel verteenwoordig, het hulle 'n verhoging van N$770 geëis. Verlede jaar in Maart het die bestuur van Hartlief, die werkers en Nafau loononderhandelinge aangegaan, sê hy.

“Die maatskappy het egter teruggekom en gesê hulle kan slegs in persentasies onderhandel en nie in vasgestelde geldbedrae nie. Hulle het in Junie na ons teruggekom en gesê hulle kan vir ons 3% gee. Net voor dit het hulle vir al die bestuurders 'n verhoging van 3% gegee. Vir die werkers sal die 3% gemiddeld N$70 wees en ons het die aanbod van die hand gewys, want 3% is baie as jy N$35 000 per maand verdien, maar nie as jy N$5 000 verdien nie,” het hy gesê.

Die werkers het ook geëis dat die huislenings vir almal regverdig aangepas moet word.

“Sommige werkers kry 'n huislening van N$1 770, terwyl ander slegs N$500 kry. Dieselfde geld vir die maatskappy se bydrae tot die pensioen. Olthaver & List gee vir hul werkers 11% van die pensioenbydrae en Hartlief-werkers wat deel van die groep is, kry slegs 8%. Dis nie regverdig nie en moet aangepas word.”

Die werkers, met die uitsondering van nege, en die bestuurders is sedert 28 Desember op 'n staking. Hulle hanteer elke dag soos 'n gewone werksdag en kom soggens om 06:00 by Hartlief bymekaar en wag om van die maatskappy te hoor.

“Ons is bereid om van ons eise te laat vaar as hulle vir ons 'n regverdige aanbod maak, maar op die oomblik staan hulle vas en ons is nie bereid om in te gee nie. Ons hoor ook niks van hulle nie.

“Ons sien hulle elke oggend by die werk aankom, maar niemand praat met ons nie. Dis 'n Namibiese maat­skappy en ons is nie buitelanders nie. Ons het geen ander keuse nie as om te veg vir wat reg is,” sê Nghifimule.

Volgens die O&L-groep se woordvoerder, me. Roux-ché Locke, het Hartlief die werknemers deur die vakbond ingelig dat hulle volstaan by hul aanbod van 'n 3%-verhoging en herklassifisering van die N$200-skoftoelaag vanaf aansporing na basiese vergoeding.

“Soos in die ooreengekome sta­kingsreëls geld die beginsel van geen werk, geen betaling vir alle deelnemende werknemers. Teen 4 Januarie bly die kwessie onopgelos, omdat geen van die partye nog kon ooreenstem nie. Nogtans verwag ons die onderhandeling sal binnekort hervat,” sê sy.

[email protected]

FOTO
Hartlief se werkers staak steeds. Foto Tanja Bause

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!