Hartseer merrie neem vulletjie aan

Tanja Bause
Tanja Bause – Danksy weldoeners het ’n getraumatiseerde merrie wat by Kupferbergpas, buite Windhoek, op stal staan, ná die dood van haar pasgebore vul nuwe lus vir die lewe gekry.

Me. Shannon Grellmann van Windhoek sê sy het Sondagoggend ’n oproep van me. Andrea Watermeyer, ook van Windhoek, ontvang.

“Sy het my om hulp gevra ná ’n gemeenskaplike vriend, mnr. Daniel Digashu, se vulletjie dié oggend sowat 30 minute ná geboorte dood is. Ons vermoed die merrie, Amina, was ná die geboorte te swak om op te staan en die vul te help. Die vulletjie het toe in die amniotiese sak versmoor en is so deur Amina se eienaars gevind,” het Grellmann gesê.

Watermeyer het toevallig ’n paar dae tevore op Facebook gelees van ’n ander vulletjie, wat sy ma verloor het.

Sy het gehoop Grellmann kan haar help om dié plasing op te spoor sodat die twee verwese diere bymekaar kan uitkom.

“Amina was ná die verlies van haar vul ontsteld en depressief. Ons het gehoop ’n vul kan verligting bring omdat melk besig was om in haar uier op te bou en pyn veroorsaak het. Sy was té getraumatiseer vir ons om haar te melk.

“Ek kon nie die berig opspoor nie en het besluit om op my eie blad vir ’n weesvul te soek. Die boodskap is verskeie kere gedeel en Maandag het ek ’n oproep van me. Ilona Grahl ontvang. Haar buurman, mnr. Japie Coetzee, het ’n twee dae oue vul op sy plaas, wat dringend melk benodig omdat haar ma geen melk produseer nie, en die vulletjie verstoot het. Dit kan as gevolg van die droogte of weens die ma se hoë ouderdom wees,” het Grellmann gesê.

Maandagmiddag het Amina se eienaars, Grellmann en mnr. Johan Potgieter, van die Kupferberg-stalle, Gobabis toe gereis om dié vul te gaan haal.

“Japie het uit Gobabis gery en ons halfpad ontmoet om die vulletjie se stres te beperk,” het sy gesê.

By die stalle op Kupferbergpas is die vul met Amina se ontlasting bedek om haar aan te moedig om die vulletjie te aanvaar.

“Die vul is in die stal in gedra en voor Amina neergesit. Aanvanklik was Amina nie seker hoe om die vul te benader nie. Sy was ook eers huiwerig om die vul te laat drink – waarskynlik as gevolg van pyn in haar uier.

“Sy het wel later begin om die vul te aanvaar. Al wat hulle nou nodig het, is tyd.

“Net soos by mense kan ’n kind nooit vervang word nie, maar ’n nuwe lewe kan nuwe vreugde bring. In dié geval het Amina nou ’n nuwe baba waarvoor sy moet sorg en die vul het ’n nuwe mamma, wat vir haar kan sorg. Volgens my het hulle mekaar gered, en dit is ’n baie gelukkige einde vir wat vir beide ’n baie tragiese storie was,” het Grellmann gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!