Harvey: Plasings, twiets wyd versprei

Gelukkige en minder gelukkige stories doen die ronde van hoe vermiste mense in vloedgeteisterde Houston danksy sosiale media gevind is.
NAMPA
Plasings deur desperate familie­lede van mense wat as gevolg van die tropiese storm Harvey vermis word, sirkuleer op verskillende sosialemediaplatforms en word deur duisende mense hertwiet en aangestuur.

Hoewel geliefdes vrees die vermistes leef dalk nie meer nie, bestaan die moontlikheid dat hulle veilig is en net nie in staat is om met die buitewêreld kontak te maak nie, berig AP.

Teen Dinsdagaand was daar ná vier onseker dae van Storm Harvey nog geen amptelike syfer bekend gemaak van die aantal mense waarvan nie rekenskap gegee kan word nie. Volgens die owerhede kan die dodetal van 18 wat tot dusver aangemeld is, in die komende dae aansienlik styg.

Foto's van en pleidooie oor talle kleuters, broers en oupa's sirkuleer tans op Instagram, Facebook en Twitter.

Dit blyk dat die plasings suksesvol is, hoewel die nuus wat ontvang word, nie altyd goed is nie.

“Asseblieeeeef,” lees die Instagram-plasing waarin die agt maande oue Paige Booth gesoek word en die foto wys die baba op 'n rusbank met 'n fopspeen in die mond.

Haar ma en ouma is Maandag uit hul huis in Houston verwyder en het haar bo hul koppe gehou terwyl die water tot borshoogte gestyg en die stroom hulle voortgestu het.

“Dit het baie gereën en die water was hoog,” het Paige se ma, Bajauh Henix, gesê.

Hulle het die baba aan 'n polisiebeampte in 'n watervaartuig gegee wat haar na 'n hoërliggende gebied geneem en aan 'n gesin in 'n swart bakkie oorhandig het, sê Kennesha Grand, haar ouma.

Toe Grand en Henix later die gebied bereik waar klein Paige veronderstel was om te wees, het niemand geweet wat van haar geword het nie.

Die twee van hulle het dadelik nadat hulle by 'n veilige hawe aangekom het, foto's van die baba op Instagram en elders geplaas. “Almal het begin om dit ook te plaas en so te versprei,” het Grand vertel.

Ná byna vier uur het die ma 'n oproep van 'n familie ontvang. Paige was veilig in hul sorg, en heeltemal onbewus van die drama wat hom afgespeel het.

“Sy was so oulik. Sy was droog en het kos gehad. Sy het ons glad nie gemis het,” het Grand gesê.

'n Ander soektog op sosiale media het veel langer geduur en nie 'n gelukkige einde gehad nie.

Ruben Jordan (58), 'n voormalige sportafrigter van 'n hoërskool in die Houston-gebied, is sedert hy Saterdagnag verdwyn het, wyd gesoek.

“Help asseblief,” is op die ­digitale bannier op Facebook en Twitter gepleit. “Sy familie is desperaat vir enige inligting . . . Hy was besig om mense uit die diep water te red toe hy laas gesien is.”

Mense wat die plasing versprei het, het die afrigter se lof besing. “Afrigter Jordan het 'n enorme positiewe impak op my tweelingseuns se lewe gehad,” het Lee Jackson, 'n skrywer van Austin, in 'n herplasing gesê. “Hy het steeds kontak met hulle. Hulle is lief vir hom.”

Ná 48 uur se gesoek het sy twee volwasse kinders en die res van die familie Maandag by die polisie in Friendswood gehoor dat hy dood is, het Sandra Jordan Washongton, sy eksvrou, vertel.

'n Ander vermiste man, die 25-jarige Omar Rosales, het deeltyds by Wal-Mart gewerk en het, met sy karige inkomste, besluit om van sy selfoon afstand te doen en eerder versekering op sy voertuig uit te neem. Dit het meegebring dat hy vir 17 ure nadat Harvey begin het, nie gekontak kon word nie, het sy ma, Lydia Rosales, gesê. Sy suster het haar Sondag tot Instagram gewend in 'n poging om hom te vind. Rosales het Saterdag nadat hy van die werk weg is, besef die vinnig stygende water gaan hom nie toelaat om by die huis te kom nie en het met sy voertuig in 'n parkeerruimte gestop. Die water het ook daar te hoog gestyg en hy het verder gery totdat sy motor by 'n vulstasie gaan staan het. Daar het 'n man vir hom sy selfoon geleen sodat hy sy ma kon bel. Sy het in daardie stadium net ses blokke verder by vriende se huis teen die storm en vloedwater geskuil.

“Dit is net 'n wonderwerk,” het Rosales Dinsdagaand gesê en bygevoeg sy sal seker maak dat haar seun in die toekoms 'n selfoon het. – Nampa/AP

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!