Havana 4-Ways skuif dalk gou
Havana 4-Ways skuif dalk gou

Havana 4-Ways skuif dalk gou

Planne vir ’n nuwe sakesentrum beteken inwoners gaan ’n nuwe heenkome vind.
Augetto Graig
Augetto Graig - Waar Monte Christoweg in die hoofstad doodloop, is ’n kruising bekend as Havana 4-Ways, wat wemel van informele ondernemings, inwoners, besoekers en voetgangers.

Dié geroesemoes gaan egter ná ’n besluit van die Windhoekse stadsraad (CoW) moet skuif.

Die besluit is tydens ’n buitengewone sitting op 19 Februarie goedgekeur om toegang tot die reuse- Ongosvallei-ontwikkeling in dié gebied te verseker.

Die ontwikkeling betrek dele van die plaas Ongos nommer 38 en sal 1 743 ha beslaan.

Volgens CoW is die ontwikkelaar van plan om binne die volgende 15 tot 20 jaar 28 000 wooneenhede daar op te rig.

Die projek ter waarde van N$20 miljard sal sowat 114 000 mense van behuising verskaf.

Die eerste fase van die ontwikkeling het in Augustus laas jaar afgeskop en behels die bou van 4 500 huise waar sowat 18 500 mense binne die volgende vyf jaar kan intrek.

Water- en kragtoevoer na die ontwikkeling sal op die padreserwe aan beide kante van die pad aangebring word.

“Alle informele strukture moet so spoedig moontlik na ’n alternatiewe perseel verskuif word. Afgesien van die hervestiging van informele strukture binne die padreserwe moet die kwessie van verkeer by die Monte Christo- en Matshishi-kruising ook opgelos word,” sê CoW.

“Wat sake vererger, is die uitgestrekte informele mark en taxistaanplek vir die reuse- informele nedersettings wes van Havana, en noordwes en wes van Goreangab,” sê die munisipaliteit.

Die departement van behuising, eiendomsbestuur en menslike nedersettings het reeds rekord van al die strukture binne die Monte Christo-padreserwe geneem, en ’n uitleg vir nuwe erwe vir inwoners aan die buitewyke van Havana ontwerp, sê die munisipaliteit.

Die betrokke strukture sluit ’n kerk in en altesaam 256 huisgesinne is gelys wat regstreeks deur die projek geraak sal word, sê CoW.

Ongos het aangebied om ’n ope mark en taxistaanplek op eie koste by die betrokke hoek op te rig.

Volgens die stad se rekords woon 48 gesinne waar die nuwe ontwikkeling gebou gaan word.

Planne deur Agostinho Ferreira-argitekte vir die Monte Christo-gemeenskapspark en -taxistaanplek is deur Ongos laat teken en aan CoW voorgelê.

Volgens die munisipaliteit sal Ongos ook basiese dienste aan die hervestigingsperseel, tans bekend as Porsie A, wat dele van plaas 1030 en plaas 508 behels, verskaf.

Dít om te help dat verskuiwing so gou moontlik kan plaasvind omdat grondgryppogings reeds op Porsie A voorkom.

Die hervestigde gesinne en die betrokke kerk sal huurkontrakte met CoW aangaan.

Mnr. Abed Erastus, Ongos se woordvoerder, wou nie oor die ontwikkeling uitbrei nie.

“Ons kan tans nie kommentaar lewer nie, aangesien ons steeds met CoW onderhandel,” het hy gesê.

Erastus het belowe om meer bekend te maak sodra planne afgehandel is.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!