Havana kry krag
Seshonderd huisgesinne in Windhoekse nedersettings kry in Oktober krag, die eerste van sowat 1 285 wat beplan word.
Augetto Graig
Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, mnr. Erastus Utoni, het Woensdag amptelik die koppeling van die Windhoekse informele nedersettings Havana 1 en 3 en die Moses //Garoëb-kiesafdeling aan die nasionale kragnetwerk ingewy.
Die hoofstad se kragverskaffingsprojek vir informele nedersettings het met dié geleentheid die koppeling van die eerste 22 huise in Havana 3 gevier.
Saam met die ministerie sal Windhoek-munisipaliteit voor einde Oktober kragverbinding aan 600 huisgesinne voorsien. Volgens Utoni het sy ministerie N$15 miljoen beskikbaar gestel vir die projek wat altesaam 1 285 huise in die hoofstad aan die kragnetwerk koppel.
“Die regering is daartoe verbind om te verseker dienste word aan die mense gelewer. Die moeilike omstandighede in ons informele nedersettings landswyd is welbekend. Ons weet van uitdagings sover dit drinkwater, krag, die veiligheid van besittings en van mense self, asook sanitasie en siektes betref.
“Daar is ’n opvatting dat ons hierdie mense vergeet het, weens geen sekerheid van verblyfsreg, buitensporige huispryse en tekort aan laekostebehuisingsopsies. Ons het nie vergeet nie,” sê hy.
Die minister het bywoners herinner dat hy verlede Vrydag huise aan begunstigdes oorhandig het as deel van die opgradering van Windhoek se informele nedersetting. “Laas Vrydag is bekostigbare huise aan die nuwe eienaars gegee. Die pryse begin by N$90 000, N$100 000 of vir ’n tweeslaapkamerhuis net N$160 000. Die projek is om huise te bou vir die mense wat by informele markte hul handelsware verkoop. Julle is nie vergete nie, ons ken julle,” het Utoni gesê.
“Vandag is ’n teken van vordering en ’n bron van trots vir huiseienaars in Havana. Staatsgeld goed bestee,” het hy dit genoem.
“Die donkerte is binnekort iets van die verlede,” het Utoni gesê. Hy moedig inwoners en die munisipaliteit aan om gefokus te bly en as ’n span te werk. “Ek sal aanhou om meer finansiering van plaaslike owerhede te vra, omdat julle nader aan die mense is,” het hy gesê.
Die Windhoek-munisipaliteit se strategiese uitvoerende beampte vir elektrisiteit, mnr. O’Brien Henkandjo, het uitgebrei dat al die pale vir die kraglyne en straatligte in die gebied opgerig is; die grootmaatinfrastruktuur is in plek en die huise word aan die netwerk gekoppel.
Volgens Windhoek se burgemeester, me. Fransina Kahungu, toon die projek die vrugte van herprioritisering waarop die stadsraadlede laas week besluit het. “Ons herlei ons prioriteite na die brood-en-botter kwessies van ons mense,” sê sy.
Kahungu is veral bly dat inwoners van Havana nie meer duur sal betaal vir onwettige en onveilige kragkoppeling nie. “In hierdie gebied is ’n oorvloed onwettige elektriese aansluitings, maar nou kan inwoners totsiens sê aan onwettige aansluitings,” sê sy.
Volgens die burgemeester is toegang tot elektrisiteit nie ’n luukse nie, maar onontbeerlik in vandag se lewe. “Die stadsraad is dus besig om aan so veel as moontlik huise krag te voorsien,” sê sy.
Die raadslid vir die Moses //Garoëb-kiesafdeling, mnr. David Martin, sê sy gemeenskap is dankbaar om verandering ná meer as 20 jaar te sien gebeur. Hy sê inwoners het in 2012 tot formalisering van die nedersetting begin saamwerk en vandag is meer as 3 000 erwe in Havana uitgesit.
“Die stof staan in die lug soos die grond plat gemaak word. Water en rioolslote word gegrawe, krag en dienste word nader gebring. Die grond vir ’n hospitaal word ook voorberei en daar word drie skole in Havana gebou, waar ons kinders sal kan leer,” sê hy.
Die elektriese lig in die sinkhuis van mnr. Matheus Hitelwa (65) is persoonlik deur minister Utoni aangeskakel. Met sy huisgesin van ses kon Hitelwa vir die eerste keer in meer as 20 jaar elektrisiteit tuis gebruik.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie