Hawe-projek in wegspringblokke
Christo Retief op Walvisbaai - Die multi-miljard dollar-projek vir die uitbreiding en ontwikkeling van Walvisbaai se hawe tot een van die grootste hawens in Afrika, het in rat gekom met fisiese konstruksiewerk wat vandeesmaand nog moet begin.
Te midde van wyd uiteenlopende bespiegelinge oor die gebrek aan sigbare vordering met dié reuse-projek, het NamPort die versekering gegee dat die projek nog op koers is.
Die hoof uitvoerende beampte van NamPort, mnr. Bisey /Uirab, het ook inligting vrygestel oor nuwe infrastruktuurprojekte op Walvisbaai wat uit die hawe-ontwikkeling sal voortspruit.
Dit sluit onder meer die bou van ‘n nuwe hoë-kapasiteit pad-, spoor-, pypleiding- en voerbandverbinding tussen die hawe en die nywerheidsontwikkeling by Duin 7 in. Hy het ook planne bekendgemaak vir die teer van die duinepad tussen Walvisbaai en Swakopmund om toekomstige vragmotorverkeer te hanteer.
Nog ‘n projek wat nie voorheen aangekondig is nie, is planne om ‘n skeeps- en boortoringherstelwerf op Walvisbaai te vestig. Hierdie skeepswerf sal van wêreldstandaard wees.
Ondersoek word nou ook ingestel om die bestaande rangeerwerf van TransNamib in die hawegebied te verskuif.
NamPort het die kontrak vir die projek op 8 November verlede jaar aan die Chinese hawemaatskappy, CHEC, toegeken en die projek moet teen 2017 voltooi wees.
Volgens /Uirab is die totale koste van die projek nou reeds nader aan N$4 miljard teenoor die aanvanklik beraamde koste van N$3 miljard.
“Die kontrak is toegeken. Ons is besig met die afhandeling van die ontwerpe en die toerusting word nou gemobiliseer. Daar is nie baie bedrywighede sigbaar op die dorp nie, maar die volgende stap (in die proses) is die drooglegging van grond en baggerwerk. Die mense sal egter nie veel sien gebeur nie omdat dit grootliks op see plaasvind. Sodra die grondherwinning klaar is, sal hulle begin om die bedrywighede te sien en ons weet die mense raak paniekerig omdat hulle nie betrokke is nie,” het /Uirab gesê.
Die herwinning van grond sal volgens hom altesaam 40 hektaar “nuwe grond” vir die nuwe vraghouerterminaal beskikbaar stel.
Hierdie drooglegging van die seebodem sal gepaard gaan met die bou van nuwe vasmeerplekke 9 tot 14. Dit sal meebring dat die bestaande kaai van 600 meter tot 1 500 meter vergroot word.
Die seebodem in die hawegebied waar die nuwe terminaal gebou gaan word, sal ook gebagger word met meer as vyf meter van die seebodem wat verwyder moet word. Alle aanduidings is dat van sleepbaggers gebruik gemaak gaan word.
“Die hawe is op die oomblik ingehok tussen die strandmeer, die dorp en die visbedryf en die hawe kan nie sy fisiese voetspoor sonder aansienlike grondherwinning uitbrei nie. Die enigste ander grond wat beskikbaar is, behoort aan TransNamib, maar selfs dit is te klein,” het /Uirab gesê.
Hy het ook bevestig dat groot getalle buitelandse werkers eersdaags op Walvisbaai verwag word. Hulle sal gehuisves word in ‘n konstruksiewerf wat deur NamPort aan die oostekant van Walvisbaai voorsien is.
Die totale haweprojek sal altesaam 3 810 nuwe werkgeleenthede skep waarvan 1 530 in die eerste fase van die nuwe vraghouer-terminaal sal wees. 1 200 van die werkgeleenthede sal egter ekstern van aard wees en volgens aanduidings sal die eerste 800 Chinese werkers teen volgende week op Walvisbaai aankom.
Die meeste werkgeleenthede (2 200 in totaal) sal met die bou van die nuwe SADC-poorthawe teenaan Dolfynstrand net noord van Walvisbaai geskep word.
/Uirab het aangekondig dat bouwerk aan hierdie nuwe hawe ook vanjaar nog ‘n aanvang sal neem.
Hierdie nuwe hawe sal oor tien kilometer vasmeerplekke en hawehoofde beskik en die bestaande hawegebied van die bestaande 105 hektaar tot 1 330 hektaar vergroot. Die nuwe noordhawe sal ook voorsiening maak vir ‘n onderdak droëvragterminaal wat jaarliks 100 miljoen ton vrag sal kan hanteer. Dit sal hoofsaaklik mynbou-grondstowwe wees.
Oor die nuwe skeepsherstelwerf vir Walvisbaai wat as Etosha-3 bekend sal staan, het /Uirab net aangedui dat tenders binnekort vir die projek aangevra sal word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie