Haweloses ‘gered’, toe agtergelaat

Diegene wat by die Khomasdal-stadion gevestig is, sê hulle word van geleentheid ontneem om te “zula” om te oorleef en word gedwing om wanhopig op die regering te wag om in te gryp.
Yandi Du Plessis
Jemima Beukes en Limba Mupetami

“Ons was beter af op die strate.” Dít is die sentiment onder sommige haweloses wat by die Katutura College of the Arts (KCAC) en die Khomasdal-stadion skuiling gesoek het toe ons susterkoerant Namibian Sun hulle verlede week besoek het om 'n blik op hul lewensomstandighede te kry.

Die groep van ongeveer 150 beweer hulle is agtergelaat en sê hulle was beter daaraan toe onder die Wernhil-brug en in “welvarende” stegies in die stad – waar dit maklik is om aalmoese te kry, eerder as om vir kospakkies van die regering by hul tentdorpe te smeek.

Hulle is met die aanvang van die Covid-19-pandemie deur regeringsamptenare byeengebring om die verspreiding van die virus te bekamp, en sê hulle is magteloos deur die regering agtergelaat.

Diegene wat by die Khomasdal-stadion gevestig is, sê hulle word van geleentheid ontneem om te “zula” om te oorleef en word gedwing om wanhopig op die regering te wag om in te gryp.

Hulle beskuldig egter regeringsamptenare – wat in beheer van die skuilings was – daarvan dat hulle voedselhulp en skenkings van barmhartige Samaritane gesteel het, en hulle van Harambee-kospakkies beroof het.

“Ons sien soveel motors en vragmotors wat met vleis en baie kos hier aankom, maar ons sien nooit die kos nie. Ons ‘zula’ net hier, ons ‘gabba’ soggens met 'n roomyshouer vir olie en mielies en as ons ‘gabba’, is dit een of twee keer per week en as hulle lus is om vir ons kos te gee,” sê hulle.

‘ONS KRY SWAAR’

Mnr. David Bernado, een van die haweloses wat van Tsumeb afkomstig is, sê hy ken net die strate en was al verskeie kere in die tronk.

Volgens hom sien hulle vragmotors met vleiskarkasse inkom, maar ontvang hulle slegs “sopbene” waarmee hulle nie eens kan kook nie, omdat hulle geen vuurmaakhout het nie.

Hy sê die Windhoek-munisipaliteit (CoW) voorsien vuurmaakhout aan hulle, maar die afgelope drie weke het hulle niks ontvang nie.

“Ons kry regtig swaar hier. Kyk na die vrou wat daar kook, maak die pot oop en sien watter kos in die pot is. Verlede week het ons 'n wit man met 'n Land Cruiser met vleis hier sien aankom, maar ons het net bene ontvang wat vir honde bedoel is.”

“Die amptenare kom soggens met leë handsakke hier aan en vertrek in die middae met handsakke wat hulle nie eens kan dra nie. Ons wonder wat hulle in die sakke dra. Miskien ons kos. As ons kos vra, sê hulle daar is niks,” het hy bygevoeg.

Hulle is ook onstig oor uitbuiting deur sogenaamde narmhartige Samaritane en kerke wat hulle opdrag gee om vorms vir hulp in te vul, maar hulle nooit te hulp kom nie.

“Daar was 'n pastoor van 'n Suid-Afrikaanse kerk wat ons ons besonderhede laat neerskryf het en ons klere en toiletware belowe het, maar hulle het nooit weer teruggekom nie,” het hulle gesê.

KOMMER OOR DIE TOEKOMS

“Ons het almal een van die maatskaplike werkers se selfoon gebruik om aansoek te doen vir die N$750 (Covid-19-noodinkomste)-toelaag, maar nie een van ons het die geld of terugvoer van haar ontvang nie. Sy is nou weg en ons het niks ontvang nie,” het een van die haweloses gesê.

Hy het bygevoeg dat hulle nie met enige iemand van die media mag praat nie, en soms is die hekke gesluit. Hulle het ook gesê hulle is bekommerd oor hoe hulle dit sal hanteer as dit begin reën.

“Ons het nie eens komberse nie. Een keer het ek 'n kombers in die asblik gekry, dit gewas en dít is wat ek gebruik. Maar die gate het groter geword,” het hy gesê.

Die situasie by die KCAC is nóg meer benard, aangesien daar nie daaglikse porsies kos is nie en haweloses hier aan hul eie genade oorgelaat word.

Alhoewel hulle die sogenaamde Harambee-kospakkies ontvang, kom dit slegs een keer per maand en word dit dikwels weke lank vertraag.

VINGERWYSERY

Die vrywilligers op die perseel het aan Namibian Sun gesê hulle werk onder toesig van 'n maatskaplike werker, me. Alida Wallace.

By navraag het Wallace gesê sy is nie meer by die skuiling nie en is nie meer verantwoordelik vir haweloses nie. Sy het navrae na die direkteur van streekgesondheid, mnr. Tomas Ukola, verwys.

Hy was op sy beurt verbaas om te hoor dat Wallace vrae na hom verwys het.

Volgens Ukola is die maatskaplike werkers onder sy kantoor veronderstel om psigososiale ondersteuning aan haweloses te bied, al is hulle nie verantwoordelik vir die algemene instandhouding van die skuiling nie. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!