Haweloses slaap sagter danksy plastiek
Tanja Bause
Wie sou kon dink die hergebruik van plastieksakke sorg vir 'n gemakliker nagrus vir haweloses?
Danksy YouTube kon me. Conny Pimenta van Windhoek leer hoe om matte en kussings van plastieksakke te maak.
“Daar is baie video's wat wys hoe die matte gehekel word, maar ek kan glad nie hekel nie. Ek het toe een gevind waar die vrou die sakke met haar hande vleg, en besluit dit is iets wat ek kan doen. Ons het baie hawelose mense in die land en ek kan 'n verskil in hul lewens maak,” sê sy.
Volgens haar was haar eerste mat nie 'n groot sukses nie, maar toe sy dit vir 'n hawelose man gee, was hy byna in trane van dankbaarheid.
“Hy het die mat gevat en dit vir almal gewys en daarmee gespog. Dit het my aangemoedig om met die projek voort te gaan.”
Pimenta het tot dusver vier matte en kussings gemaak en aan haweloses uitgedeel.
“Vir elke mat gebruik ek sowat 400 plastieksakke en dit neem so 10 dae om klaar te maak. Die matte is maklik om te onderhou en skoon te hou.”
Leerlinge aan die St. Paul's Kollege, wat aan die Make a difference-klub behoort, het ook ingespring en geleer hoe om dié plastiekmatte te vleg.
“Met die leerlinge se hulp sal ons baie meer matte kan vervaardig en uitdeel.”
Pimenta wil ook hoede van gebruikte plastieksakke vir die Kankervereniging van Namibië (CAN) maak.
“Ek het tydens my reis deur Portugal mense dié hoedens sien dra. Dit is lig, maklik om te was en kan rek om almal te pas. Ons kan hulle hekel en gratis aan veral die albino-gemeenskap uitdeel,” het sy gesê.
Pimenta is op soek na meer plastieksakke sodat sy en die leerlinge matte vir die haweloses kan vleg.
“Ek is ook op soek na tannies wat kan hekel, wat graag by die projek betrokke wil raak. Hulle kan die kinders van St. Paul's kom leer om te hekel, of op hul eie by hul huise die matte en hoedens hekel. Ek het ook 'n video wat wys hoe om dit te doen wat ek vir mense kan aanstuur,” het sy gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie