Heckmair-moordsaak sloer al 10 jaar

Die moordverhoor van twee Amerikaanse burgers is reeds meer as 100 keer uitgestel.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith – Die verhoor van die twee Amerikaners wat beskuldig word van die moord op die Namibiër Andre Heckmair 'n dekade gelede, duur al langer as sewe jaar en is sedert die aanvang daarvan in 2014 al meer as 100 keer uitgestel.

Regskenners en die Namibiese regbank wys daarop dat talle van die vertragings in die hofverrigtinge van mnre. Marcus Thomas (36) en Kevan Townsend (35) die gevolg is van regstaktieke wat die beskuldigdes gebruik het. Die twee staan tereg op die sluipmoord op Heckmair (25) in Januarie 2011.

Kenners is dit eens dat die duo, ondanks die trae hofverrigtinge, volgens alle maatstawwe 'n regverdige verhoor kry.

Die reaksie volg nadat die Amerikaanse hip-hop-kunstenaar Diddy (Sean Combs) onlangs die proses gekritiseer het deur te sê die duo is nie 'n regverdige verhoor gegun nie. Dié uitlating is egter wyd as onwaar afgemaak.

“Die bewering dat die beskuldigdes nie 'n regverdige verhoor kry nie, het niks om die lyf nie,” lui 'n verklaring wat die regbank verlede week uitgereik het.

Luidens die verklaring toon 'n omvattende studie na die verhoor se vordering tot dusver dat “enige onnodige vertragings deur die beskuldigdes alleen veroorsaak” is.

In die verklaring word opgesom: “Daar was nie 'n enkele geval waar die hof nie gereed was om die hofverrigtinge op 'n gegewe datum te hervat nie. Dieselfde geld vir die vervolging.”



REGTE

Die regskenner en regsdosent aan die Universiteit van Namibië, mnr. John Nakuta, verduidelik hoewel 'n regverdige verhoor op 'n lang lys kriteria gebaseer is, is dit belangrik om daarop te let dat “'n verhoor nie perfek hoef te wees om regverdig te wees nie”.

“Die meeste vertragings in hierdie verhoor is veroorsaak deur die beskuldigdes wat hul regte uitgeoefen het, soos erken in die Namibiese Handves van Regte,” het Nakuta bygevoeg.

Hy het benadruk dat die Namibiese regstelsel, veral die hoër howe, verbind is tot die beskerming van die oppergesag van die reg.

In verband met die duo se dekadelange aanhouding in die Windhoek Sentrale Gevangenis, het hy beklemtoon borgtog kán geweier word as bevind word daar is 'n “werklike risiko dat die beskuldigde op die vlug kan slaan. Dié beginsel is nie uniek aan Namibië nie.”

Die kwessie dat Townsend 'n moontlike vlugrisiko was, was een van die hoofredes wat in Oktober 2020 aangevoer is toe hoërhofregter Orben Sibeya sy borgtogaansoek geweier het.

'n Spoedige verhoor is inderdaad 'n belangrike aspek van 'n regverdige verhoor, maar “die staat kan slegs die skuld kry vir vertragings wat deur die span staatsaanklaers veroorsaak is, en nie vir dié wat deur die beskuldigdes veroorsaak is nie”, het Nakuta benadruk.

Norman Tjombe, 'n menseregte-prokureur, stem saam dat hoewel Namibië se grondwet 'n spoedige verhoor waarborg, moet elke saak op die feite beoordeel word. “In hierdie geval het die Amerikaners grootliks tot die vertragings in die verhoor bygedra.”

Nakuta reken dit sal verstandig van Thomas en Townsend wees “om hul regstrategie te verander. Om aan te hou met die vertragingstaktieke is slegs tot hul eie nadeel.”



VERTRAGINGS NÁ VERTRAGINGS

Thomas se mislukte ontsnappingspoging een dag voor die aanvang van die verhoor in November 2014, het tot die eerste beduidende vertraging in die verrigtinge gelei.

Sy daaropvolgende stryd om verstandelik ongeskik verklaar te word, deels weens beserings wat hy tydens sy mislukte ontsnapping opgedoen het, het die fokus van die verhoor op psigiatriese evaluerings en bewyse geplaas, voordat hy einde 2016 geskik verklaar is om verhoor te word.

Thomas het toe sy eerste van drie mislukte pogings aangewend om Christie ­Liebenberg as regter in die verhoor te laat herroep.

Elke mislukte aansoek is gevolg deur pogings om teen die besluit te appelleer, wat verdere vertragings veroorsaak het. Die jongste poging het in 2020 misluk.

Nadat die verhoor vir verskeie dae aan die gang was, is dit in 2017 tot die volgende jaar uitgestel weens die afwesigheid van die beskuldigde, asook prokureurs wat siek was.

In 2019 het Townsend, gefrustreerd deur sy medebeskuldigde se doen en late, om 'n afsonderlike verhoor aansoek gedoen. Sy aansoek is egter geweier. Sy aansoek om borgtog is dieselfde jaar geweier.

In 2020 en vanjaar het die Covid-19-noodtoestand nóg meer vertragings tot gevolg gehad.

Thomas het vroeër vanjaar sy prokureurs laat vervang, en verdere pandemieverwante beperkings het die verhoor weer tot Augustus laat sloer.

Die verhoor is vandeesmaand opnuut vertraag toe een van die prokureurs siek geword het.

Oor die duur van die verhoor het die beskuldigdes altesaam sewe aansoeke ingedien.

HANDVOL PROKUREURS

'n Ander belangrike aspek van Thomas se regstryd was die tien prokureurs wat oor die jare aan hom toegewys is.

Minstens drie was net vlugtig aangestel voordat hulle onttrek het weens konflikte in skedulering. In 'n stadium is die verhoor belemmer deur die direktoraat van regshulp wat die hof meegedeel het dat prokureurs huiwerig was om sy saak te aanvaar.

Sy huidige prokureur, me. Lilian Mbaeva, is vanjaar aan hom toegewys.

Thomas het verskeie van sy prokureurs afgedank en volgens Nakute dien dit as bewys dat hy hierdie aspek van 'n regverdige verhoor “mildelik” uitgeoefen het.

Nietemin het die gereelde verandering van prokureurs die voortgesette verhoor by verskeie geleenthede beïnvloed.

“Kan ons werklik die staat die skuld gee vir die vertragings in hierdie geval? Ek dink eerlikwaar nie so nie,” het Nakuta opgemerk.

Tjombe sê: “Hoewel die vertragings van 10 jaar lank mag voorkom, is dit nie onregverdig nie, aangesien die staat steeds getuies roep. Die verhoor duur voort.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!