Heckmair-verhoor begin weer
Heckmair-verhoor begin weer

Heckmair-verhoor begin weer

Me. Bianca Heckmair het gister in die Windhoekse hoërhof getuig in die saak teen die twee Amerikaners wat tereg staan op haar broer, André Heckmair, se moord.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Die Heckmair-verhoor het vandeesweek in die Windhoekse hoërhof hervat en me. Bianca Heckmair, die oorledene se suster, en personeel van die Cardboard Box Backpackers is van die staatsgetuies in die getuienisbank.

Die Amerikaanse burgers mnre. Marcus Thomas en Kevin Townsend staan tereg op onder meer ’n klag van moord op mnr. Andre Heckmair wat tien jaar gelede in Windhoek met ’n enkele skoot in sy kop doodgeskiet is terwyl hy agter die stuur van sy voertuig was.

Me. Bianca Heckmair het tydens haar getuienis die gebeure van Desember 2010 tot Januarie 2011 aan die hof uitgelê.

Sy het getuig haar broer het op 18 Desember in Windhoek van Switserland – waar hy studeer het – geland. André, Bianca en hul ouers het op 21 Desember na hul vakansiehuis op Wlotzkasbaken gereis. André se meisie, me. Christine Wruhwiler, het 26 Desember in Windhoek geland en sy en Bianca se kêrel het dieselfde dag by die familie in Wlotzkasbaken aangesluit.

Volgens Bianca het almal op 6 Januarie teruggekeer Windhoek toe en het Wruhwiler dieselfde dag teruggevlieg Switserland toe.

André, Bianca en hul ouers het op 7 Januarie glo saam hul nuwe mediese kaarte in Windhoek gaan haal, waarna André Bianca se voertuig gebruik het om ’n middagete-afspraak om 13:00 na te kom.

“Toe ek hom vra vir wie hy gaan ontmoet, het hy net gesê dis twee Amerikaners,” het Bianca getuig.

André se ma, me. Birgit Heckmair, wat verlede jaar Oktober in die getuiebank was, het ook getuig André het vir haar gesê hy het daardie dag ’n afspraak met twee Amerikaners. Hy het selfs vir hulle ’n bespreking by 'n eetplek in Windhoek gemaak.

Bianca het getuig sy het omstreeks 14:00 'n oproep van 'n polisieman ontvang wat gesê het die man wat haar motor bestuur het, is "onwel". Sy en haar ouers het toe na die toneel gesnel.

EIENAAR GETUIG

Cardboard Box Backpackers se bestuurder en sekretaresse het reeds getuig en Woensdag was dit die eienaar, mnr. Chad Wratten, se beurt.

Wratten het getuig hy het van 11 Desember 2010 per e-pos met Thomas gekommunikeer en Thomas het ’n kamer vir twee mense vanaf 26 Desember 2010 tot 9 Januarie 2011 bespreek. Heckmair is op 7 Januarie 2011 geskiet.

Wratten het getuig hy het Thomas en Townsend op 27 Desember by Cardboard Box Backpackers gesien, maar hy het nie met hulle gepraat nie. Hy het ook getuig dat hy nie Townsend se naam geken het tot hy weke later sy foto en naam in die koerant gesien het en hom erken het nie.

HET WRATTEN HOM MISGIS?

Die verdediging het gepoog om onder kruisondervraging Wratten se storie in twyfel te trek deur te vra of hy hom moontlik kon misgis het met die mans wat hy by die verblyfplek gesien het en met die foto in die koerant. Wratten het voet by stuk gehou en gesê hy is 100% seker dit is dieselfde mans.

Townsend se prokureur het gesê daar is geen dokumente wat bewys Townsend was saam met Thomas by die verblyfplek nie. Slegs Thomas se naam verskyn op die ontvangsregister wat op 27 Desember ingeskryf is.

Die e-posse bevat ook nie die naam van die ander persoon vir wie Thomas akkommodasie bespreek het nie.

Wratten het wel getuig hy het Townsend op 27 Desember saam met Thomas by Cardboard Box Backpackers gesien.

Thomas en Townsend verskyn elk op een klag van moord, ’n klag van roof met verswarende omstandighede, drie klagte van die oortreding van die ammunisiewet en een klag van regsverydeling en/of poging tot regsverydeling.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!