Heckmair-verhoor verdaag tot 2022
Heckmair-verhoor verdaag tot 2022

Heckmair-verhoor verdaag tot 2022

Gedurende die laaste dae van die moordverhoor vir dié jaar het die verdediging besware teen die getuienisse van Nampol se ondersoekbeamptes gehad.
Kristien Kruger
Stefan Noechel



Die getuienisse van twee voormalige ondersoekbeamptes van die Namibiese polisie (Nampol), Joseph Ndokosho en Frans Kantema, wat verlede week in die Windhoekse hoërhof teen die twee Amerikaners, mnre. Marcus Thomas en Kevan Townsend, getuig het, was die laaste getuienis vir die jaar.

Die verdediging, me. Lilian Mbaeva en mnr. Mbanga Siyomuinji, het Ndokosho en Kantema verlede week deeglik gekruisondervra.

Dié twee ondersoekbeamptes se geskrewe verklarings is vergelyk met hul getuienisse in die hof en die verdediging het op die geringste teenstrydighede klem gelê.

Die verdediging het beweer die polisie het nie 'n lasbrief gehad om die beskul­digdes se kamer die dag van hul inhegtenisneming by die gastehuis te deursoek nie. Hul tweede beswaar was dat hulle sonder 'n lasbrief en volgens artikel 22 van die Namibiese strafwet, die beskuldigdes se toestemming moes vra om die kamer te deursoek.



VERHOOR BINNE 'n VERHOOR

Regter Christie Liebenberg het op versoek van die verdediging, 'n binne­verhoor gelas om die wettige gronde van die ondersoek te bepaal.

'n Binneverhoor word deur die hof gelas en uitgevoer indien kwessies oor feite en die wet, ná of gedurende getuienis, onder die vergrootglas kom. Dit stel die regter in staat om oor verskillende regsvrae op grond van getuienis te besluit.

Die hoofverhoor is daarom tydelik gestaak totdat die binneverhoor afgehandel is.

Kantema was destyds die hoof van die operasie en het getuig hulle het weens die dringendheid nie eers 'n soektog­lasbrief verkry nie. Volgens hom kon die verdagtes op die vlug slaan of bewyse vernietig en was waarskynlik gewapen en in besit van 'n huurmotor.

Die inhegtenisneming het omstreeks 17:00 op 7 Januarie 2011 plaasgevind en dit was volgens Kantema te laat om 'n lasbrief by 'n landdros te kry.

Ndokosho het getuig hulle het vir Thomas en Townsend gevra of hulle die kamer kan deursoek en een van hulle het volgens hom toestemming gegee.



AMERIKANERS GLO 'GEDREIG'

Siyomuinji, namens Townsend, het gesê die twee Amerikaners was onder die indruk hulle word beroof, aangesien die ­polisiebeamptes nie in uniform geklee was nie, gewapen was, nie hulself geïdentifiseer het nie en probeer het om die kamer met geweld binne te kom.

Die beamptes het die beskuldigdes glo met wapens gedreig en fisiek aangerand.

Ndokosho en Kantema het albei dit ontken en getuig hoewel die polisiebeamptes nie uniforms aangehad het nie, het hulle hulself herhaaldelik as polisiemag geïdentifiseer en hul ID-kaarte gewys.

Die duo het ook getuig een van die Amerikaners het by die kamervenster uitgekyk om te sien wie by die deur is.

Die kamerdeur is uiteindelik van die binnekant af oopgesluit en polisiebeamptes het ingestorm. 'n Stoeiery het tussen Thomas en die beamptes ontstaan, maar hy is vasgedruk en geboei. Die kamer is hierna sonder 'n lasbrief deursoek.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer