Heeltyd speeltyd - kreatiewe sakpaswenke

Jacqueline Louw
Ons is op die drumpel van die lang Desember-­vakansie, met die kleinspan wat baie aandag en vermaak gaan verg.
Celinda Groenewald het ’n paar sakpas-selfdoen-speletjies by inspirerende bloggers gekry. ’n Kartondoos en ’n bietjie kreatiwiteit sal vir ure se vermaak sorg.

Skaduwee-poppekas
Estefi Machado se blog estefimachado.com.br voer ’n mens mee met al die oulike projekte en pragtige foto’s.
Verdryf vakansie-verveeldheid vinnig met dié skaduwee-poppekasteater wat enige kind se verbeelding sal aanwakker.

Benodigdhede
• Kartonboks
• Wit sneespapier
• Swart karton (of dik papier)
• Maskeerband of kleeflint
• Gom
• Sosatiestokkies
• Skêr
• Potlood en swart viltpen
• Flits of lantern

Maak só
1. Sny die bodem van die kartonboks uit en knip die kantflappe af.
2. Bedek die bodem van die boks met die sneespapier en plak dit met maskeerband vas. Dit sal as die skerm dien.
3. Gebruik die flappe wat afgeknip is om versierings vir die poppekas te maak. Sny dit in mooi patrone en versier met die viltpen. Plak dit met gom aan die kante van die teater vas om ’n mooi raam vir die skerm te maak.
4. Maak nou die skaduwee-karakters. Teken vorms en karakters op die swart karton.
5. Sny die silhoeëtte uit en plak elkeen aan die bopunt van ’n sosatiestokkie vas.
6. Die skaduwee-poppekas en karakters is nou reg vir aksie! Plaas die flits of lantern agter die boksteater sodat die lig op die skerm skyn, neem stelling in met jou karakters en laat ure se pret volg terwyl die kinders hul eie stories uitdink.

101 aktiwiteite
’n Mens hoef nie ’n fortuin aan speelgoed te bestee omdat jou kinders verveeld is gedurende die vakansie nie.
Daar is ’n rits bronne waaruit ’n mens inspirasie kan put om jou kind te vermaak, sonder die hulp van die televisie of tegnologie.
In die boek 101 Kids Activities That are the Bestest, Funnest Ever gee Holly Homer en Rachel Miller tonne, en dikwels gratis, speel-idees.
Die twee vroue van Texas besit ook die hoogs suksesvolle KidsActivitiesBlog.com, wat meer as 2 miljoen klikke per maand kry.
Homer vertel:
“Ons is al jare lank doenig met ons blog, wat handel oor eenvoudige aktiwiteite vir kinders en hulpbronne vir ouers. Ons glo regtig dit sluit eindelose vermaak in wat ’n mens reeds by die huis het. Maak net die rommellaai in jou kombuis oop!
“Een van die grootste voordele van ouerskap is dat jy van voor af soos ’n kind kan speel. Ek dink die moderne samelewing kalwe dié pret weg. Dit is nie net vir ’n gesin wonderlik om met speel herinneringe te skep en bande te smee nie; ouers trek net soveel voordeel uit speel soos kinders.”

Staan tegnologie in die pad van speel?
“Ja en nee. Tegnologie is wonderlik en het die manier verander waarop gesinne funksioneer.
“Danksy tegnologie kan ek en my man van die huis af werk en meer tyd saam met ons kinders deurbring.
“My 13-jarige kan ’n speletjie met oorfone speel en met sy maats klets, al bly hulle kilometers van mekaar. My 8-jarige kan enige tyd met sy ouma FaceTime. Al dié dinge bring mense nader aan mekaar, maar daar moet ook grense wees.
“Tegnologie kan speel aanvul, maar moenie die bron daarvan wees nie.
“As mense benodig ons fisieke aanraking, wilde en woeste buitespel en om saam te kan lag sonder dat kabels en drade in ons pad staan.”

Enige raad teen ­verveeldheid?
“Dit is oukei vir moderne kinders om verveeld te wees.
“Hulle is nie daaraan gewoond nie, maar dit sal lei tot vermaak wat die kind self lei.
“Ons boek dien dus as inspirasie. Kinders sal die instruksies nie stap-vir-stap volg of hulle oor die eindproduk bekommer nie, maar bloot hul passie deur middel van skeppendheid uitdruk.
“Dit is belangrik dat ouers elke dag ’n bietjie tyd opsy sit om saam met hul kinders laf te wees. Dit is so maklik soos dit.”
101 Kids Activities That are the Bestest, Funnest Ever word uitgegee deur Page Street Publishing (ISBN 9781624140570) en kos R300.
Inry-pret vir die ­kleinspan
Amy Smith van die blog motherhoodandmiscellany.com het ’n paar gewone kartonbokse gebruik om ’n “inry”-verjaardagpartytjie vir haar dogtertjie te hou.
Sy het “motors” van die kartonbokse gemaak.
“Die kinders was gek daaroor en nadat hulle die fliek Brave gekyk het, het hulle die motors in die huis rondgestoot terwyl hulle wroem- en toetergeluide maak,” sê Amy.
“Die karre was later bykans heeltemal verwoes, maar aangesien dit omtrent niks gekos het om te maak nie en dit die doel gedien het, het dit nie saak gemaak nie.”
Dié idee sal net so goed werk vir ’n fliekaand tydens die vakansie saam met niggies, nefies of maatjies.
Om dit nog meer pret te maak, kan die kleinspan hul eie “motors” versier asook toegangkaartjies en speelgeld maak om snoepgoed soos springmielies, lekkers en koeldrank te koop.

Benodigdhede
• Kartonbokse
• Skêr
• Papier en kleeflint
• Papierborde, verf of plakkers om mee te versier

Maak só
1. Sny al die flappe aan die kartonboks af, buiten een aan die kort kant, wat as die paneelbord sal dien.
2. Slaan die oorblywende flap af en plak met kleeflint vas om ’n paneelbord te skep. Draai dit heeltemal met papier toe. As alternatief kan ’n mens dit ook verf.
3. Sny die papier aan die bokant oop, vou dit in en plak aan die binnekant van die boks vas om ’n sitplek te skep. Dit is amper soos om ’n geskenk toe te draai.
4. Nou is dit tyd om te versier! Gee die kinders se verbeelding vrye teuels. Verf papierborde swart vir die wiele en stuurwiel en geel vir die ligte. Wat van ’n nommerplaat met die kind se naam?

Skattejag in die tuin
Cheri Heaton van die blog iam­mommahearmeroar.net het dié maklike skattejag vir haar seuntjie Rex geskep.
Dit is ’n heerlike aktiwiteit vir buite speel en om kinders meer oor die natuur en hul omgewing te leer.
Die opsies met dié aktiwiteit is ook eindeloos. Vir ouer kinders kan ’n mens selfs verskillende items in die tuin wegsteek en leidrade gee. Deel in spanne op en kyk wie kry eerste al die items.

Benodighede
• Karton eierhouer
• 12 (of 6 of 18) items uit die tuin
• Wit papier
• Kamera en drukker (opsioneel)
• Skêr
• Gom of kleeflint

Maak só
1. Maak 12 interessante items uit die tuin bymekaar en neem foto’s daarvan.
2. Maak ’n collage van die foto’s op ’n rekenaar (’n gratis program soos picmonkey.com werk baie goed) en druk dit uit op wit papier. Jy kan ook prentjies van blare, bas, bessies of gras uit ’n tydskrif knip, woordleidrade vir ouer kinders gebruik of prentjies teken.
3. Sny die collage uit en plak dit op die eierhouer vas sodat jou kind elke vonds in die regte holte kan plaas.
• Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!