Heerlike boeretroos met tonne liefde gebrou

Günther Martens se passie om die perfekte koppie koffie te brou, word in sy koffiekroeg op Klein Aub verwesenlik.
Tanja Bause
Tanja Bause – Die dorpie Klein Aub is ongeveer halfpad tussen Windhoek en Sossusvlei. Langs die grondpad – net buite die dorp – is 'n groen bord met 'n pyltjie wat in Conny's Coffee se rigting wys.

By die hek is nog 'n bord wat aandui dat die koffiekroeg slegs 200 meter verder met die kort paadjie af is. Op die perseel is geboue en onder andere die koffiekroeg met 'n groot stoep waar Günther Martens sy gaste met 'n breë glimlag ontmoet.

“Aub” beteken fontein en die vroeë inwoners het hulle daar gevestig waar daar water is.

Koper en silwer is in 1963 in Klein Aub ontdek en 'n myn is begin; die myn was tot 1987 bedrywig. Die mynaktiwiteite het die dorpie laat ontstaan, vertel Günther.

“Die Van Heerden-familie het hier op die perseel met 'n winkel begin. Die koffiekroeg het vis en skyfies verkoop. Die familie het 'n klein pendeldiens begin waarmee hulle mense van die myn na die winkel en wegneemeteplek en terug gery het. Dit was die uithangplek in daardie jare.

“In 1987, toe die myn toegemaak het, het hulle dogter Catherine – ook genoem Conny – die restaurant in die wegneemeteplek oopgemaak.

“Die eerste toergids het in 2006 op pad na Sossusvlei hier vir middagete gestop en nadat ek in 2017 oorgevat het, het hulle nog steeds by my kom eet.”

Günther bak sy eie brood en muffins in 'n sonkrag­oond waarin hy ook sy kos gaarmaak. Hy bedien ligte etes vir mense wat onverwags stop en middagete vir toeriste wat vooraf bespreek.

“Die toeristeondernemings laat weke voor die tyd weet wanneer hulle kom en met hoeveel mense; dus kan ek voorberei. Ek kan ongelukkig nie elke dag kosmaak en hoop dat mense stop nie. Die mense gaan kos kry, maar dit sal net toebroodjies wees.”



KOFFIEKAPITAAL
Die hoofrede hoekom almal by die koffiekroeg behoort te stop, is die wonderlike en besonderse koffie wat Günther voor die gaste brou.

Sy passie vir die perfekte koppie koffie kom na vore sodra hy oor koffie begin praat – hoe om dit te maak en om die perfekte een vir jouself te kies.

“Ek kon altyd net twee koppies op 'n slag voorberei met die toerusting wat ek tot my beskikking gehad het. Ek het 'n ontwerp geteken en vir my neef, wat 'n skrynwerker is, gegee en hy het dit vir my gemaak. Nou kan ek ses koppies op 'n slag maak.”

Eers word kookwater in die filter gegooi om dit skoon te maak en om die koppie warm te maak. Daarna word elke persoon gevra van watter sterkte koffie hulle hou.

Günther verduidelik die verskillende lande se koffie, smaak, aroma en sterkte. Hy vertel die pad van koffie – vanaf die plant tot in jou beker – terwyl hy bietjie water op die moer gooi sodat die koffie solank kan “blom” soos hy dit noem. Dan word kookwater ingegooi en elke persoon kry sy beker met sy verkose koffie.



GüNTHER DIE MENS

Sy oupa wat koffiebone in Swakopmund gerooster het, het al vroeg 'n liefde vir koffie by hom gekweek.

“Ek het op 'n plaas naby Karibib grootgeword en ons het altyd vir oupa gaan kuier waar hy die bone gerooster het. Tot vandag toe roep die reuk van koffie baie goeie herinneringe by my op.”

Günther het skool op Stellenbosch voltooi omdat sy ouers wou hê dat hy Engels leer. Ná 'n jaar op universiteit het hy vir ses jaar in die versekeringsbedryf in Suid-Afrika gewerk voordat hy terug Namibië toe gekom het om sy eie besigheid te begin.

“Ná onafhanklikheid wou ek die wêreld gaan sien en is met 'n seilboot na Rio de Janeiro se karnaval toe. Ons het so langs die Brasiliaanse kus gebly voordat ek Duitsland toe is.”

Hy het in Duitsland ver­skillende werke gedoen, asook onder meer 'n kursus oor koffie.

“Die Amerikaners het Starbucks-koffiewinkels in Duitsland oopgemaak en 'n vriendin het baie geld op die duur koffie spandeer. Ek het gedink kom ek doen 'n kursus en leer alles van koffie en die maak daarvan en dan kan ons geld spaar.”

Hy het in Duitsland van meditasie gehoor en besluit dit is iets wat hy moet doen. Hy het Indië toe gegaan en vir vyf jaar alles oor meditasie geleer.

“Dit het my wêreld verander en my oë oopgemaak. Ná vyf jaar het ek weereens die wêreld ingevaar om te kyk of ek my kennis kan toepas. Ek kon egter nie Namibië toe teruggaan nie, omdat Namibië daardie tyd nog te klein en te eng was. Dus is ek terug Duitsland toe waar ek vir die volgende agt jaar gehelp het om 'n tydskrif oor mind, body en soul te publiseer.”

Terwyl hy die tydskrif uitgegee het, het hy van Tai chi gehoor en daarin begin belang stel.

“Ek het toevallig die Chinese vrou wat Chi gung-klasse in Duitsland aangebied het, leer ken en haar genader oor klasse. Ek het vir drie maande by haar in China gaan leer. Ná die drie maande het ek besluit ek wil met dít wat ek geleer het, teruggaan Namibië toe en probeer om 'n bestaan te maak. Ek het in 2008 teruggekom en begin om werkwinkels en klasse aan te bied.”

Nadat hy ontwikkelingswerk met die San gedoen het, het sy liefde vir koffie weer op die voorgrond getree.

“Daar was egter te veel koffiekroeë in Windhoek en ek wou koffie verkoop en die manne se masjiene skoonmaak en hulle opleiding gee. Ek kon ongelukkig nie 'n lewe daaruit maak nie en het besluit om woestyn toe te gaan.

“In Solitaire was daar ook genoeg koffiekroeë en restaurante en toe ek op pad Windhoek toe in Klein Aub stop, word ek gevra of ek nie die plekkie wil oorvat nie. Ek het summier besluit ek gaan dit doen en die res is geskiedenis.”

Dus, wanneer julle weer op pad die Suide toe is, stop gerus en drink 'n koppie koffie by die klein koffiekroeg langs die stofpad, waar poskaarte en geld vanoor die wêreld heen teen die muur hang.

“Mense het baie min verwagtinge wanneer hulle hier stop omdat dit eintlik na niks lyk nie, maar die wow-faktor is wat hulle laat terugkeer.”
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!