Heineken SA gee NamBrew gas
Uit 'n bedryfsoogpunt behoort beleggers met NBL se jongste halfjaarvertoning tevrede te wees.
Jo-Maré Duddy
Die ekonomie én die verbruiker wat kleitrap, asook “uitdagings” in NamBrew se uitvoermarkte het nie die gô uit dié plaaslik genoteerde groep se jongste finansiële syfers geneem nie.
Hul vennootskap in Heineken SA het egter vir 'n flou wins gesorg.
Die verlies uit dié vennootskap waarvoor Namibia Breweries Ltd (NBL) in die ses maande tot einde Desember 2016 moes opdok, beloop sowat N$138,2 miljoen.
Heineken SA is gebore nadat Diageo in Julie 2015 uit DHN Drinks – 'n medevennootskap met NBL en Heineken – onttrek het. In Oktober dié jaar het NamBrew 'n belang van 25% in Heineken SA én in die Sedibeng-brouery in Gauteng bekom. In sy boekjaar tot einde Junie 2016 moes NBL vir bykans N$61,8 miljoen van Heineken SA se verlies pa staan. Dit beteken sy verlies uit dié vennootskap het in die ses maande daarna meer as verdubbel.
Sowat 60% of N$83,4 miljoen van die jongste verlies is 'n bedryfsverlies. Dit is hoër as verwag, sê IJG Securities in hul kitsontleding van die ses maande tot einde Desember 2016.
Volgens IJG skiet voldoende blootlegging oor Heineken SA – “wat voortgaan om 'n groter en groter rol in die maatskappy se toekoms te speel” – se bedrywighede tekort en ly dié vennootskap steeds “abnormale groot verliese”.
Heineken SA was die vernaamste oorsaak vir die tuimeling van 45% in NamBrew se netto wins. Vir die ses maande tot einde Desember 2016 het NBL 'n netto wins van N$95,99 miljoen getoon, sowat N$78,6 miljoen minder as dieselfde halfjaar in 2015.
Goeie nuus
NamBrew se bedryfswins het in die halfjaar onder oorsig met 6,5% tot sowat N$325,5 miljoen gestyg.
Dié persentasie strook met die stygings van 5,5% van die ooreenstemmende tydperk in 2015 en die 6,3% van dieselfde halfjaar in 2014.
NamBrew se bierafdeling het vir 'n bedryfswins van sowat N$320,9 miljoen gesorg, 7,7% meer as dieselfde tydperk in 2015. Sy ander produkte het 'n bedryfswins van ongeveer N$4,6 miljoen getoon, byna 38,7% minder as die 2015-halfjaar.
Inkomste uit bierverkope het met 13,9% tot bykans N$1,37 miljard gestyg, terwyl dié van ander produkte 9,2% hoër op amper N$115,8 miljoen is.
In die jongste halfjaar het NamBrew net minder as N$455 miljoen se produkte aan Heineken SA verkoop, bykans 50% meer as die ooreenstemmende halfjaar in 2015. Inkomste verdien uit tantième van Heineken SA was sowat N$53,8 miljoen, bykans 8,3% meer as dieselfde ses maande in 2015.
Graeme Mouton, finansiële direkteur van NBL, sê die groep se goeie vertoning is hoofsaaklik deur hoër produksievolumes in Suid-Afrika aangedryf. Biervolumes na uitvoermarkte het met 7,7% gestyg, veral danksy Tanzanië en Zambië. Uitvoere na Botswana en Mosambiek was egter laer as die 2015-halfjaar.
NamBrew is op die plaaslike indeks van die Namibiese aandelebeurs (NSX) genoteer. Dit het Maandag op N$33,60 per aandeel gesluit. Die groep het in Mei 1996 teen N$2,40 op die NSX noteer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie