Hek is oop vir Roodly met beter, nuwer wiele
Hek is oop vir Roodly met beter, nuwer wiele

Hek is oop vir Roodly met beter, nuwer wiele

Die moontlikheid is nog nie begrawe dat Namibië se “univer­sele” 4x100 aflos­span dalk 'n spesiale uitnodiging na Tokio kan ontvang nie.
NAMPA
Die Motorongelukkefonds (MVAF) het Roodly Gowaseb, Namibië se beste rolstoeljaer, 'n stewige hupstoot gegee.

Die MVAF het Gowaseb se verweerde rolstoel na Europa vir herstelwerk gestuur. Dié uitstappie om Gowaseb se waardevolle stukkie toerusting 'n nuwe baadjie aan te trek, het die MVAF N$137 800 uit die sak gejaag.

Gowaseb beskik nou oor nuwe agterwiele, 'n nuwe voorwiel en 'n nuwe sitplek. Hy het nou ook 'n rolapparaat waarmee hy binnenshuis in sy rolstoel kan oefen.

Hierdie verwikkeling het nie betyds gebeur vir Gowaseb om vir die 2021 Paralimpiese Spele in Tokio (24 Augustus tot 5 September) te kwalifiseer nie, maar sy verbeterde wiele is beslis die begin, eerder as die einde van sy internasionale vooruitsigte.

As individu het Gowaseb 'n aanslag op die 400 meter asook die marathon (42.2 km) geloods en hoewel hy nie die kwalifiserende peil vir Tokio kon behaal nie, bestaan daar tog steeds 'n buitekans van 'n spesiale uitnodiging vir die Namibiese aflosspan.

Mnr. Michael Hamu­kwaya, afrigter en sekretaris-generaal van die Namibiese Paralimpiese Komitee (NNPK), sê Namibië is die enigste land in Afrika wat 'n “universele” 4x100 aflosspan in die veld kan stoot, waarin atlete met ver­skillende gestremdhede saam meeding. Vir die samestelling van dié span is Gowaseb as rolstoeljaer 'n integrale deel.

“Nie eens Suid-Afrika het 'n span nie. Die moontlikheid bestaan nog dat ons dalk 'n spesiale uitnodiging van die Internasionale Paralimpiese Komitee (IPC) vir ons aflosspan na Tokio mag ontvang om Afrika te verteenwoordig,” sê Hamukwaya.

Mnr. Vaino Kameya, 'n afdelingshoof by die MVAF, het Dinsdag met die oorhandiging gesê hulle het op die NPK se pleidooi om bystand gereageer en ingespring om te help. Kameya het belowe die MVAF sal nie hier stop om Paralimpiese atlete by te staan nie.

Hamukwaya sê sonder die MVAF se hulp sou Gowaseb nie hierdie groot tree vorentoe kon gee nie. Hy moes reeds weens tekortkominge aan sy rolstoel die vorige Spele vier jaar gelede in Rio de Janeiro misloop.

“Afgesien van die spesiale handskoene wat hy nog vir resiese nodig het, is hy danksy die MVAF gereed om as rolstoeljaer van krag tot krag te gaan,” het Hamukwaya vertel.

Die afrigter sê hierdie spesiale handskoene word met 3D-drukkers vervaardig en kan tot 500 Britse pond (meer as N$9 600) beloop om aan te skaf. “Soos op vele ander gebiede, maak tegnologie definitief 'n groot verskil in ons sport ook.”

Met die binnenshuise oefenapparaat wat die MVAF in Europa aangeskaf het, kan Gowaseb nou in enige weersomstandighede tuis aan sy spoed en uithouvermoë werk. Tevore moes hy in geval van reën sy oefenprogram laat vaar.

Roekelose voertuie op openbare paaie is boonop 'n lewensgevaarlike risiko vir dié vasberade atleet.

Gowaseb, wat sover benewens die volle marathon ook op die baanitems se kort- en middelafstande soos 400 en 800 meter togespits het, sê hy het groot waardering en is opgewonde om te sien wat hy van nou af kan uitrig.

“Met die ou wiele het ek in Frankryk gaan jaag en nie so goed gevaar nie, maar nou kan ek my vaardigheid ontwikkel en hopelik beter vaar.”

– Nampa en eie berig


FOTO
Groen gevaarte. Roodly Gowaseb ontvang sy renstoel van die MVAF se mnr. Vaino Kameya. Foto Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!