Helalia bou op na grote in Doha
Die Namibiër was in Durban die wenner van 'n resies waarin meer as 14 000 vroue gehardloop het.
Helalia Johannes is onkeerbaar op dreef, met haar eie Namibiese rekord in die 10 kilometer wat vir die derde keer vanjaar verbeter is.
Die 38-jarige Namibiër het Sondagoggend in Durban vir vuurwarm aksie gesorg toe sy die Spar vroue-uitdaagwedloop in 'n nuwe rekord afgeblits het.
Sy het die 10 km in 30 minute 58 sekondes afgelê – een van die toptien vinnigste tye in 10 km padwedlope ter wêreld vanjaar.
Dit was die vinnigste tyd in die geskiedenis van vrouepadwedlope oor 10 km in Suid-Afrika, en uiteraard ook 'n roeterekord. Die vorige roeterekord van 31.18 is in 2000 deur Colleen de Reuck opgestel.
Johannes, wat vir die Nedbank-klub deelneem, het vir 'n derde agtereenvolgende keer vanjaar ook die Namibiese rekord verbeter. Dit was toe sy die wenner van vanjaar se Spar-reekswedlope in Port Elizabeth (31:50) en nog vinniger in Kaapstad (31:45) was.
Johannes het 'n wentjek vir R30 000 ontvang.
In ses wedlope vanjaar het sy nog nie haar moses teëgekom nie en op die Nedbank-klub se webwerf word gesê die vraag is nie meer of enigiemand haar kan keer om die reeks te wen nie, maar eerder hoeveel vinniger sy nog kan hardloop.
Die Ethiopiër Tadu Nare (Nedbank) het in 32.36 tweede geëindig, met die Suid-Afrikaner Irvette van Zyl (Nedbank) derde in 32.57.
Dié drie atlete het Betha Chikanga by die 1 km-merk verbygesteek. Johannes en Nare het tot by die 4 km-merk saam gehardloop voordat die Namibiër weggebreek het. Vir die res van die wedloop het sy alleen gehardloop.
'IDEAAL'
Die voorste drie atlete het tien Grand Prix-bonuspunte verdien omdat hulle verlede jaar se wentyd van 33.07 verbeter het.
Glenrose Xaba, verlede jaar se algehele Spar Grand Prix-reekswenner, het vierde geëindig in 33.22. Dit was haar beste uitslag tot dusver in vanjaar se reeks.
Johannes het agterna gesê die weerstoestande was ideaal.
“Ek het tot dusver op korter afstande gefokus, maar van nou af begin ek voorberei vir die marathon in September by die IAAF wêreldbyeenkoms in Doha, Katar.
“Ek weet dus nie hoe ek by die volgende uitdaagwedlope gaan vaar nie.”
Die Namibiër is die Statebondkampioen in die marathon ná haar triomf in die Goudkus, Australië, verlede jaar.
'n Totaal van 14 751 hardlopers en stappers het aan die 10 km-wedloop en die pretloop oor 5 km deelgeneem.
Die massa-deelname in Durban stel die prestasie in perspektief, indien 'n mens in ag neem dat Sondagoggend se Nedbank Citi Dash deur Windhoek se hoofstraat die grootste deelnemerbyeenkoms nóg in Namibië se geskiedenis was, met meer as 2 500 stappers en hardlopers.
Die volgende wedloop in die buurland se landwye Spar-reeks is op 3 Augustus in Pretoria.
Johannes se afrigter, Robert Kaxuxuena, het Sondag aan die nuusagentskap Nampa gesê die styl waarmee Helalia op die wenpad is en die nasionale rekords wat sy verbeter, wys dat sy oefenprogram vir haar vrugte afwerp.
Volgens hom is die deelname aan die korter afstande sover vanjaar daarop gemik om haar kragte en beoordeling van tempo vir die marathonwedloop by die wêreldkampioenskap in Doha op te bou.
– Bygewerk van Nampa, Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie