Helde in die agtergrond

'n Namibiese rolprentmaatskappy help stil-stil in die agtergrond met die logistieke reëlings om die avontuurdrome van bekendes te bewaarheid.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Terwyl die meeste mense droom van 'n lewe van luuksheid en gemak, is daar diegene wat die onbekende aandurf, hulself uitdaag met wat ander glo bo-menslike prestasies van uithouvermoë is – of dit nou in die naam van avontuur, oorlewing, wetenskap of bekendheid is.

Ontdekkingsreise van moderne superhelde soos Mike Horn, Ness Knight en Ed Stafford verg deeglike beplanning, maar daar is baie werk agter die skerms om dit moontlik te maak. Nóg meer as die avontuur in een van die mees uitdagendste omgewings vir die mens, die Namib­woestyn, plaasvind.

Die Namibwoestyn is nie net die oudste woestyn in die wêreld nie, maar dit bied 'n massiewe onbewoonde en beskermde gebied van die Kunenerivier in die Noorde tot by die Oranjerivier in die Suide.

Dan spog die Namibwoestyn nog met die grootste duine in die wêreld wat van die koue Atlantiese Oseaan tot in die binneland strek. Dit bied die perfekte toestande om verlore te raak.

Terwyl die ontdekkers en avonturiers hoë bergreekse wil uitklim en die ongenaakbare woestyn wil deurkruis om te bewys dat hul liggame tot die uiterste beproef kan word, is daar tog 'n groep van onbesonge helde in die agtergrond.

Vir elke suksesvolle avontuurverhaal waaroor jy lees of op TV sien, word baie meer ure bestee om te verseker dat alles seepglad verloop. Dit behels dat die regte toerusting beskikbaar is, aansoeke vir visums gereël en afgehaal is, akkommodasie en vervoer beskikbaar is, permitte vir toegang en verfilming in beskermde gebiede en parke in orde is, asook mediese hulp in geval van noodgevalle. In die geval van 'n verfilmingspan wat 'n avonturier volg, moet 'n gemaklike basiskamp gereed wees.

Dis waarvoor Magic Touch Films daar is om groot rolprentproduksies in Namibië te fasiliteer.

“Wanneer dit by ekspedisies in Namibië kom, moet jy na die ver­skillende tipe ekspedisies kyk wat onderneem word. Elkeen het sy eie stel logistieke vereistes wat kan lei tot vele uitdagings waarvan jy nooit kon droom nie,” sê Elnette Pearson, hoofbedryfsbeampte van Magic Touch Films.



BEKENDE AVONTURIERS

Pearson verwys na die verskillende vereistes van 'n ekspedisie soos byvoorbeeld dié van die Suid-­Afrikaanse avonturier Mike Horn.

Hy het onlangs 'n span skrywers deur die mees ruwe dele van die land gelei. Hulle het in viertrekvoertuie gereis.

“Vergelyk dit met die Britse vroulike avonturier Ness Knight, wat alleen met 'n fiets deur die Namibwoestyn gery het,” vertel Pearson.

“Britse avonturier Ed Stafford bly weer saam met sy ondersteuning­span op een plek.”

Magic Touch Films was die fasiliteerder vir al hierdie ekspedisies.

“Die belangrikste deel van ons werk as fasiliteerder is om te verseker dat die avonturier of atleet op hul spesifieke uitdaging kan fokus. Die geringste oponthoud of kwessie kan hul ekspedisie ontspoor waaraan hulle somtyds jare aan gewerk het om te bereik.”

Guy Nickels, die uitvoerende hoof van Imwe Namibia Holdings waaronder Magic Touch Films val, stem saam met Pearson: “Magic Touch het een van die hoogste gegradeerde fasiliteringsmaatskappye in die wêreld geword. Danksy jare se ervaring en plaaslike kennis om met internasio­nale en plaaslike verfilmingspanne te werk, kan hulle ekspedisies en spanne van enige groot – plaaslike of inter­nasionaal – fasiliteer.”

Vir die span van Magic Touch Films is dit 'n uitdagende, dog diep lonende ervaring om met avonturiers te werk.

Volgens die span is baie elemente van fasilitering dieselfde soos die verskeie permitvereistes of die beplanning van 'n basiskamp, maar elke fasilitering bring sy eie uitdagings.

“Baie tyd is nodig om 'n haas uit 'n hoed te ruk, maar een ding waaroor ons baie trots is, is dat Magic Touch altyd sorg dat ekspedisies en avonture glad verloop.”

Magic Touch is die topproduksiemaatskappy van realiteitsprogramme in oorlewing wat in Namibië geskiet word, so volgende keer wat jy 'n uitgeputte avonturier sien wat sy finale bestemming bereik, dink aan dié agter die skerms.

Dit was dalk 'n span van Magic Touch wat dit alles moontlik gemaak het.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer