Heldestatus vir Muharukua
Heldestatus vir Muharukua

Heldestatus vir Muharukua

Die ontslape goewerneur van die Kunenestreek sal 'n heldebegrafnis ontvang.
Estelle de Bruyn
Pres. Hage Geingob het helde­status aan die ontslape goewerneur van die Kunenestreek, me. Angelika Kazetjindire Muharukua, toegeken.

Sy sal 'n volle heldebegrafnis ontvang en reëlings in die verband sal bekend gemaak word sodra dit gefinaliseer is, lui 'n verklaring van die pers­sekretaris van Staatshuis, mnr. Albertus Aochamub.

Geingob en visepres. Nickey Iyambo het Sondag besoek by Muharukua se huis afgelê om hul meegevoel aan die familie te betuig.

Die president was van Swapo se sekretaris-generaal, mnr. Nangolo Mbumba, die adjunkgoewerneur van die Khomasstreek, me. Laura McLeod-Katjirua, en die presidentsvrou, me. Monica Geingos, vergesel.

Muharukua is volgens 'n verklaring deur Staatshuis vroeg Sondag­oggend oorlede. “Ons diepste meegevoel en simpatie gaan aan haar familie, vriende en kamerade,” lui die verklaring.

Muharukua was 59 jaar oud.

Volgens die nuusagentskap Nampa is Muharukua vroeg Sondagoggend in 'n hospitaal in Windhoek oorlede nadat sy vir mediese sorg opgeneem is. Die vermoede is dat sy 'n hartaanval gehad het.

Muharukua was sedert 2015 die goewerneur van die Kunenestreek. Sy was vroeër die adjunkminister van vrouesake en kinderwelsyn.

Boodskappe van meegevoel is ook van die goewerneur van die Zambezistreek, mnr. Lawrence Sampofu, en verskeie ander goewerneurs ontvang. Sampofu het Muharukua beskryf as “oopkop” en iemand wat altyd vrylik haar mening gelug het. Sy sou haar ook nie deur enige iemand laat stilmaak het nie.

Sampofu sê sedert haar aanstelling as goewerneur wou sy alles in haar vermoë doen om beleggings in die Kunenestreek te verseker, veral weens die gebrek aan ontwikkeling daar.

Die goewerneur van die //Kharasstreek, me. Lucia Basson, het gesê sy is stomgeslaan oor die nuus. Sy het gesê hulle het in die 1980's ontmoet toe Muharukua op Gibeon in die Hardapstreek gewoon het waar haar man 'n onderwyser aan die destydse Bantu-administrasie se AME private skool was. “Haar man, Uaundjisa, was my kollega by die Swapo-skool. Sy was 'n baie nederige mens wat haar man in sy stryd teen apartheidsmagte ondersteun het.

“Sy was daartoe verbind om die mense van Kunene te help. As des­tydse adjunkminister van vroue­sake en kinderwelsyn het sy dit duidelik gemaak hoe sterk sy oor vroueregte voel. Sy is as ware veteraan dood,” het Basson gesê.

Omusati se goewerneur, mnr. Erginus Endjala, het 'n beroep op Namibiërs gedoen om hulde te bring aan die lewe wat Muharukua gelei het.

Volgens Endjala was Muharukua meer as net 'n goewerneur. “Sy het die rol van moederfiguur en mentor vir jonger politici vervul.” Hy sê hy het altyd vir raad en onderskraging op haar staatgemaak. As goewerneurs het die twee nou saamgewerk en volgens hom het Muharukua 'n belangrike rol gespeel om goeie betrekkinge tussen die twee streke te verseker.

Omaheke se goewerneur, mnr. Festus Ueitele, het Muharukua se dood as 'n groot verlies vir die Namibiese nasie bestempel en gesê sy was van rare stoffasie. Hulle het onder meer saam in die Nasionale Vergadering gedien. “Sy het werklik ontwikkeling in Namibië op die hart gedra en het nooit in die NV opgehou om ons daaraan te herinner nie.” Volgens Ueitele het Muharukua in elke portefeulje waarmee sy belas was, met nederigheid en waardigheid gedien.

- Nampa/eie berig

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!