Hele dorp op veiling te koop
Hele dorp op veiling te koop

Hele dorp op veiling te koop

Elma Kloppers – ’n Vrystaatse dorpie kompleet met geskiedkundige geboue, ’n magdom van oudhede en 16,4 ha kommersiële, residensiële, landbou- en ontwikkelingsgrond word in Junie op ’n veiling verkoop.

Die dorpie, Verkykerskop naby Harrismith, behoort aan die egpaar Matt Hoffmann en Beth Hillary. Die twee, wat 25 jaar in die vermaakbedryf werk, het wat eens ’n gehuggie was die afgelope 14 jaar met passie in ’n toeristetrekpleister omgeskep.

Die dorpie het 25 inwoners, maar het deur die jare derduisende besoekers van oor die wêreld heen gelok.

“Verkykerskop is vir mense wat links draai en nie net reguit aanry Durban toe nie,” sê Hoffmann.

Hy sê dit is ’n paradys in die kleine, ’n stukkie Vrystaatse geskiedenis waar ’n mens soggens wakker word met ’n ystervark in jou tuin.

Dit is ook die enigste dorp in die land met ’n poskantoor wat sy eie kroeg het. “As jy slegte nuus in die pos kry, is jou dop sommer byderhand.”

Die dorp het met ’n trou­venue, ’n teater waar musikante soos Valiant Swart, The Parlotones, Frank Opperman en Chris Chameleon al opgetree het, ’n boetiekhotel, ’n koffiewinkel en ’n woonwapark. Dit het ook ’n drankwinkellisensie, ’n restaurant-drankwinkel, sy eie polisiekantoor, ’n slaghuis, verskeie huise en skure.

Die huise het name soos Outpost Inn en Deco Cottage en die restaurant heet Smileys.

Vir Hoffmann is een van die hoogtepunte die ou algemene handelaar Three Trees, een van ’n handjievol oorspronklike winkels in sy soort in die land, kompleet met sy ouwêreldse lekkergoedtoonbank. Die winkel dryf al meer as 100 jaar handel.

Hy sê ’n buitelandse besoeker het op ’n keer gesê ’n besoek aan die dorpie is soos om by ’n surrealistiese rolprentstel te wees.

Die egpaar wil verkoop omdat hulle glo dit het tyd geword om af te skaal en in ’n stadiger tempo te leef, want dit ’n groot verantwoordelikheid is om so ’n plek te bestuur.

Oor die prys wat hy verwag, sê hy hy weet nie wat ’n dorpie kos nie. “As dit gaan oor vervangingswaarde, is dit iewers tussen R5 miljoen en R10 miljoen.”

Die grond en die geboue word op 8 Junie 11:00 op die perseel deur VleisSentraal Auctioneers opgeveil. 10:00 word 750 lotte oudhede, motorfietse, outomobilia en versamelaarsitems wat oor ’n leeftyd bymekaargemaak is deur Old Johannesburg Warehouse Auctioneers verkoop. Op 7 Junie word al die spysenieringstoerusting en huishoudelike goedere sonder reserwe opgeveil. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!