Hele Namibiu00eb tot 4 Mei ingeperk
Hele Namibiu00eb tot 4 Mei ingeperk

Hele Namibië tot 4 Mei ingeperk

Die staatshoof het gistermiddag aangekondig 'n landswye inperking sal tot middernag op 4 Mei geld.
Denver Kisting
Denver Kisting



Namibië sal tot middernag op 4 Mei ingeperk wees in 'n poging om die verdere verspreiding van Covid-19 te stuit.

Só het pres. Hage Geingob gistermiddag kort voor 17:00 by Staatshuis aangekondig.

Die huidige hoktydperk vir die Erongo- en Khomasstreek (waarby die plaaslike owerhede van Rehoboth en Okahandja ingesluit is) verstryk om 23:59 eerskomende Vrydag.

Geingob sê die kabinet het gister­oggend vergader en op dié aanvullende maatreëls besluit.



INPERKING NIE DOELTREFFEND

Dr. Kalumbi Shangula, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, sê die huidige inperking was nie doeltreffend nie.

Gevolglik kan die risiko dat die virus verder as die huidige aangemelde gevalle van 16 versprei het, nie uitgesluit word nie.

Shangula sê van die pasiënte het nie gehoor gegee aan die regulasies nie.

Die neënde geval het byvoorbeeld met sewe aanvullende mense naas hul kerngesin kontak gehad. Dié mense is uit kwarantyn vrygelaat sonder beslissende laboratoriumuitslae.

Geval 15 het selfisolasieregulasies verontagsaam terwyl daar op toetsuitslae gewag is. Onder meer het hy met 'n taxi van sy huis af gereis na die Robert Mugabe-kliniek waar hy op 7 April gehoor het sy toets is positief. “Verskeie kontakte van dié geval mag dalk nie geïdentifiseer word nie,” het Shangula gesê.

Die 21 dag lange inkubasietydperk vir dié mense verstryk eers op 28 April, sê Shangula.

Hy sê dieselfde geld vir geval 16 vóór hy in isolasie geplaas is. Dié pasiënt, 'n mediese dokter by die staat, het met verskeie mense kontak gehad voor sy uitslae beskikbaar was.

Verskeie reisigers het ook die afgelope tyd in Namibië aangekom sonder dat hulle onder kwarantyn geplaas is, het Shangula gesê met verwysing na 85 passasiers wat op 26 Maart op drie vlugte uit Suid-Afrika in die land aangekom het. “Gegewe die bogenoemde scenario is dit duidelik dat die uitbreking nie onderdruk is nie. Daar is 'n saak uit te maak vir 'n landswye inperking.”

Mnr. Ipumbu Shiimi, die minister van finansies, het gesê die noodinkomstetoelaag van N$750 moet spaarsamig gebruik word omdat dit 'n eenmalige toelaag was. “Of dit vermeerder sal word met die verlenging van die inperking sal nog bepaal word,” het hy gesê.

Die minister van justisie, me. Yvonne Dausab, het gesê die bestaande regulasies verander wat die tydsduur betref en die insluiting van die hele land. 'n Nuwe stel regulasies sal Vrydag beskikbaar wees, het sy gesê.

Geingob het ook gesê die jongste besluit spruit uit twee prioriteite – enersyds die beskerming van Namibiërs se gesondheid en veiligheid en andersyds die ekonomie.

Geingob sê: “Effektief sal die land op 5 Mei oop wees. Gedurende hierdie tydperk (die verlengde hoktydperk) sal beweging in die hele land beperk word.”

Die staatshoof het opnuut 'n beroep op Namibiërs gedoen om kalm te bly en wetstoepassers toe te laat om ongehinderd met hul werk voort te gaan. “Kom ons wees professioneel. Dié is nie ons vyande nie. Dié is ons mense.”

Hy sê daar word opgetree teen beamptes wat mense se regte veront­agsaam. “Kom ons neem hande en oorwin dié virus – saam as Namibiërs.”- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!