Helikopter sonder sitplekke
Helikopter sonder sitplekke

Helikopter sonder sitplekke

Die ongelukverslag van ’n tweede helikopterongeluk wat binne twee weke in April 2016 nóg 'n lewe geëis het, is uitgereik.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Die vlieënier van die helikopter wat die wrak van ’n ander helikopter wou opruim wat twee weke tevore by Moltkeblick in die Auasberge neergestort het, het die sitplekke en deure van sy MD 500 D Hughes-helikopter verwyder en daardeur indirek sy passasiers se lewe in gevaar gestel.

Dit is die bevindinge van die verslag van die direktoraat van ondersoeke na vliegtuigongelukke wat deur die minister van werke en vervoer uitgereik is oor die ongeluk wat op 20 April 2016 ná 06:10 gebeur het.

Boonop het die vlieënier, mnr. Abe van der Merwe (40), voor opstyging die verkeerde aantal passasiers aan die Eros-lugtoring verklaar. Hy het net drie passasiers verklaar, maar daar was vyf.

“Die vlieënier het meer as die maksimum getal mense vir dié tipe helikopter met registrasiemerk V5-HFZ vervoer,” lui die verslag.

Die tweede brandstoftenk is ook onwederegtelik verwyder, volgens die verslag.

Een van sy passasiers, mnr. Tobias Erastus (30), het weens inwendige beserings op die ongelukstoneel gesterf. Twee passasiers, mnre. Johannes Augustus en Theunis Loots, is ernstig beseer en twee ander het minder ernstige beserings opgedoen. Die vlieënier was ongedeerd en het self van die ongelukstoneel af om hulp gebel.

Kapt. Oskar Plichta van die direktoraat wat die herwinningsoperasie van die wrak moes oorsien, is van die ongeluk ingelig en het die bal aan die rol gesit vir dringende mediese hulp en die polisiehelikopter op bystand.

SONDER VEILIGHEIDSGORDELS

Volgens die verslag was die passasiers agter nie vasgegordel nie.

Vier passasiers het sonder veiligheidsgordels op die vloer gesit. ’n Tuisgemaakte houtbord is geïnstalleer en met kleefband vasgeplak."

Mooi weer is deur die vlieënier by Eros-lughawe verklaar, “maar toe hy wou land, het hy nie die sterk grondwind op die berg in ag geneem om veilige landingsprosedures uit te oefen nie”.

Volgens die verslag het die helikopter se stert-rotorlemme 10 meter bo die beplande landingsplek effektiewe werking verloor, die helikopter het begin tol en die vlieënier kon nie weer beheer daaroor kry nie. Dit word as die moontlike oorsaak van die ongeluk beskou.

“Die vlieënier het nie gepoog om die landingsplek in die sterk grondwind in te benader nie,” lui die verslag.

"Daar was geen brand voor of ná die impak nie en die helikopter is met die rolbewegings op die grond vernietig waar dit twee meter van 'n afgrond af tot stilstand gekom het."

Bydraende faktore is die verontagsaming van standaard veiligheidsprosedures, 'n gebrek van bergvlieg-ervaring en die beperkinge van die ontwerp van die helikopter is oorskat.

Van der Merwe, eienaar van Professional Communication Systems (PCS), sou met sy vyf werknemers opruimingswerk gaan doen het van die wrak van die Robinson R44-helikopter waarin mnr. Lambert Roux (44) op 8 April 2016 in digte mis by Moltkeblick suidoos van Windhoek verongeluk het.

Van der Merwe se Namibiese helikopter het op 16 April 2016 omstreeks 06:03 van die Eros-lughawe opgestyg en sewe minute later 163 meter van die helikopterwrak met registrasiemerk V5-HFW in die bergagtige terrein neergestort.

Van der Merwe, ’n kommersiële vlieënier met 253,2 vliegure, en mnr. Avelino Ferreira is die mede-eienaars van die Hughes-helikopter.

Adjunkdirekteur Magnus Abraham het die ondersoek oorhoofs gelei met Plichta as mede-ondersoekbeampte.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!