Helmeringhausen is nie ’n dorp
Eienaar vertel
Tanja Bause – “Helmeringhausen is nie ’n dorp nie.
“Dit is geboue wat op die plaas Helmeringhausen gebou is wat mense as ’n dorp beskou.”
So sê die huidige plaaseienaar, Björn Basler.
Aan die begin van 1900 was Hubert Hester in diens van die Schutztruppe op die plaas Chamis gestasioneer. Hy het ná sy twee jaar diens die buurplaas gekoop en na Helmeringhausen, sy geboortedorp in Duitsland, vernoem.
Hubert se vrou, Hilde, het op 21-jarige ouderdom saam met hom op Helmeringhausen aangekom en die egpaar het die plaas opgebou.
“Dit was die tyd van ossewaens en perde- en donkiekarre. Net ’n paar lewendehawehandelaars het ’n voertuig besit. Karakoelskape was ook nog nie volop nie en almal was afhanklik van die geringe inkomste uit die veeverkope,” het Hilde in 1975 geskryf.
“Eenkeer per maand het die ossewa Bethanie toe gery om lewensmiddele te koop. Dit was ’n reis van drie tot vier dae. Hubert het elke tien tot 14 dae met ‘n perdekar Bethanie toe gery vir sakedoeleindes. Ook om die landdros en polisie te sien, oproepe te maak en die pos te gaan haal. Die bure het per perd of kar opgedaag en op die terugkeer van my man gewag sodat hulle die nuus uit die hoofstat, Bethanie, kon hoor.”
Die plaashuis het mettertyd te klein geword. Hubert het met ‘n ossewa sowat tien kilometer van die huis af kalkstene gaan breek en saans huis toe gekom met die stene. Hy het ook ’n kalkoond gebou om kalk te brand.
“Die oond moes drie dae en nagte sonder onderbreking brand om die kalk te maak. Ek het snags vir my man koffie gebring en die nag saam met hom by die oond deurgebring. Dit was ’n harde tyd, maar die tyd het vinnig verbygegaan, want ons het planne gemaak en gebou.”
In 1925 was daar ’n goeie reënseisoen. Al hoe meer boere het hulle in die omgewing gevestig en met karakoel begin boer.
“Die verkeer het toegeneem. Soveel so dat ons nie meer al die mense wat deur Helmeringhausen gereis het, in ons plaashuis kon huisves nie. ’n Diensstasie, hotel en winkel het ’n noodsaaklikheid geword. Dit is hoe die klein dorpie op die plaas ontstaan het wat ’n werktuigkundige, winkelier en hoteleienaar ’n lewensbestaan gebied het.”
Björn Basler en sy vrou, Katja, het tien jaar gelede die plaas gekoop. Hulle vertel daar is groot feeste soos die Oktoberfest gehou in die 60’s en 70’s toe die karakoelbedryf floreer het. Daar was ook ’n skietklub en in 1958 is ’n tennisklub gestig met twee tennisbane.
“Daar kom nog gereeld ’n paar boere uit die omgewing wat hier tennis speel,” het Björn gesê.
“Die hotel was ook op die perfekte plek geleë, met die mense wat per ossewa van Lüderitz en Aus onderweg na die kus of binneland was.”
Hubert het twee broers gehad wat in Duitsland agtergebly het. Beide is in 1943 tydens die Tweede Wêreldoorlog dood - die een in Italië en die ander een in Rusland.
“Hubert het vier palmbome voor sy plaashuis ter herinnering van sy broers geplant. Drie van die palms staan nou nog voor die huis. Ek het die ou plaashuis stadigaan omskep en dit is nou die hotel. Dit het net kamers,” het Björn gesê.
“Ek het dit gedoen omdat die toeriste nie in ’n kroeg wil sit nie. Hulle verkies die tuin en die oop spasie. In die tuin staan ’n granaatboom wat Hubert in 1926 geplant het. Dit is die oudste boom in die tuin en hy dra nog elke jaar.”
Voor die hotel staan ’n ou geroeste voertuig.
“Ek het met my vliegtuig gevlieg en die voertuig op ’n plaas sowat 30 kilometer van die hotel af gesien staan. Ek het die boer gevra of ek dit kan kry en later uitgevind dit was een van die eerste voertuie wat op Helmeringhausen aangekom het.”
Op die erf van die Boerevereniging staan die oorblyfsels van ‘n ossewa. Dit is volgens Björn een van die laastes wat gebruik is om boumateriaal van Lüderitz af deur die woestyn na die Duwisib-kasteel te vervoer.
“Die winkel, poskantoor, boerevereniging en diensstasie behoort nie aan die plaas nie. Dié erwe is uit die plaas gesny en behoort aan verskillende mense. Ek het nou 48 hektaar wat ook die hotel en ou plaashuis insluit, apart van die plaas geregistreer. Die sogenoemde dorp is nou op sy eie en die plaas Helmeringhausen is op sy eie geregistreer.”
Die hotel het 28 kamers en die ou poskantoor oorkant die straat word as selfsorgeenheid uitverhuur.
Toe die Paaiekontrakteursmaatskappy (RCC) die grondpad opgeknap het, het hulle met hul vragmotors voor die hotel verbygery. Die vorige eienaar van die hotel het gesê die stof is nie aanvaarbaar nie en dat hulle ’n teerpad moet bou. Vandaar die kort teerpad wat voor die hotel verbyloop.
“Met die verloop van jare het baie verander en ook verbeter. Alles het tot stand gekom weens die verloop van dinge. Maar ’n mense moenie vergeet dat daar ’n man was wat nie net aan homself en sy vooruitgang gedink het nie, maar ook aan die welvaart en gerief van sy medemens,” het Hilde geskryf.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie