Help onderwys uit die put
Help onderwys uit die put

Help onderwys uit die put

Mandy Rittmann
OUPA PEET SKRYF:

Die onderwysberoep, net soos geneeskunde en pastorale beroepe, is vroeër beskou as edel en vlekkeloos.

Maar soos met vele ander uitdagings in die lewe het regressie langsamerhand inbeweeg tot waar dit vandag in trurat voortsnel. Baie van ons uit die ou bedeling (let wel - nie kolonialisme/rassisme nie), sien daagliks die ineenstorting van hierdie Godgedrewe beroep.

Hoe meer die permanente sekretaris van onderwys, me. Sanet Steenkamp, en haar indoena, minister Katrina Hanse-Himarwa, vergeefs probeer wal gooi met nuttelose verklarings oor die stand van sake, is die agteruitgang vir almal duidelik.

Koerantlesers word op 'n konstante basis op hoogte gehou. Klagtes oor 'n wye spektrum deur ouers en onderwysers, vingerwysery, ensovoorts, dui op 'n bankrotskap wat niks te doen het met die finansiële bestuur van die land nie.

Baie kort na onafhanklikheid is reisprogramme van inspekteurs en vakadviseurs na skole opgeskort. Hierdie gedissiplineerde, professionele mense is uit onderwys se intensiewe sorg­eenheid (soos in 'n hospitaal) onttrek en leerkragte en leerlinge is aan hul eie lot oorgelaat.

Hierdie ondeurdagte reëling is natuurlik landswyd deur sommige vrot appels verwelkom. Politiek het toe reeds hier sy sieklike rol begin speel.

Talle opregte, professionele leerkragte het hierdie amptelike inspektorale besoeke verwelkom, veral opbouende en professionele raad en kritiek. Daar is ook dikwels op 'n amptelike wyse op tone getrap. Dikwels het oorhaastig saamgeflanste narrevertonings voor 'n klas die leerlinge vermaak. Laasgenoemde het die besoeke altyd verwelkom, want dan beleef hulle 'n onderwyser wat hulle glad nie ken nie.

Dit alles dra by tot die skokkende druipsyfers van die afgelope tyd.

Vergeet van behangsels soos grade en allerhande ander toeties om streek­direkteure te beïndruk. Leerkragte word met 40 minute se klastyd vertrou om suksesvol vakmateriaal aan elke leerling in sy/haar klas oor te dra en in te skerp. Slaag jy nie in hierdie doel nie, begin met selfondersoek. Dink aan struikelblokke soos selfoongebruik, twakpraat met leerlinge, rondhang buite vir 'n smoke break plus rondhangery in die personeelkamer. Dit is een van min beroepe waar werknemers (onderwysers) met moord wegkom.

In Vrydag 10 November 2017 se voorbladberig sien die onderwys­minister weer 'n Eldorado van prestasie tot in 2030. Ons wens haar en haar touleiers sterkte toe.

Hulle gaan dit nodig kry!

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer