‘Help ons om huis toe te kom’
Nagenoeg 90 Namibiërs wat uit Suid-Afrika wil terugkeer huis toe, vra mense tuis se finansiële hulp om huurvlugte te reël.
Ronelle Rademeyer - Namibiërs wat in Suid-Afrika gestrand is nadat baie van hulle voor die inperking vir mediese redes na Kaapstad of Johannesburg gereis het, se hoop is op skenkers wat hulle sal help om met huurvlugte terug te keer huis toe.
Me. Maika Eysselein van Windhoek is een van hulle. Haar tweejarige seuntjie het op 31 Maart ’n ope hartoperasie in Kaapstad ondergaan. “Ons het kort voor die inperking van sy toestand uitgevind en moes dadelik reëlings tref vir die operasie in die Kaap,” sê sy.
Eysselein, wat nie haar man en seuntjie se name wil noem nie om hul privaatheid te beskerm, sê ’n ander Namibiese kind het op dieselfde dag hartchirurgie in Kaapstad ondergaan.
Nadat sy bewus geword het van talle ander Namibiërs wat om mediese en ander redes in Suid-Afrika gestrand is, het sy met Air Namibia en FlyWestair kontak gemaak om uit te vind wat ’n huurvlug sal kos.
Volgens haar is die gestrandes deur middel van twee WhatsApp-groepe met mekaar in verbinding. Die een groep is vir mense wat in Gauteng gestrand is en die ander vir Namibiërs wat hulle tydens die inperking in die Kaap bevind.
“Hier is mense wat rugoperasies ondergaan het, ’n bejaarde vrou wat vir kankerbehandeling na Suid-Afrika gekom het, studente wie se koshuise gesluit het en wat nou teen hoë koste hulself hier aan die lewe moet hou en Namibiërs wat uit die buiteland na Suid-Afrika gevlieg het net voor alle vlugte na Namibië gestaak is. Ons is tussen 60 en 90 mense wat wil terugkeer,” vertel sy.
Eysselein sê die groep in Kaapstad het onderhandelinge met Air Namibia laat vaar en is nou met FlyWestair in gesprek.
“Dit sal N$180 000 kos om ’n huurvlug Kaapstad toe te bespreek en N$200 000 vir die een na Johannesburg.”
Volgens haar is daar mense in die groep wat finansieel kan bydra, maar ander wat dit nie kan bekostig nie.
“Mense vra hoekom wag ons nie tot die staat van inperking gelig word nie, of waarom reis ons nie per pad terug nie.”
Sy sê vir mense wat operasies ondergaan het, en veral dié wat rugoperasies gekry het, is dit nie ’n opsie nie.
“Ons seuntjie het ’n groot borskaswond. Ons kan hom nie ure lank in ’n babastoeltjie in ’n motor vasgespe nie.”
Verder, sê sy, bestaan die moontlikheid dat hulle by grensposte of padblokkades opgehou kan word, wat vir mense wat onlangs geopereer is, te vermoeiend sal wees. "Nie een van ons weet boonop of die staat van inperking in Suid-Afrika verder verleng gaan word nie."
Mnr. Fred Riveiro, bestuurder van sakeontwikkeling by FlyWestair, het aan Republikein gesê verskeie prosesse moet gevolg word voordat ’n vliegtuig uit Windhoek kan vertrek.
Dit behels toestemming van die Namibië Burgerlugvaartowerheid (NCAA), die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking (Mirco) en die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, asook met Suid-Afrika se departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco).
“In hierdie stadium lyk dit of FlyWestair Saterdag die vlug na Kaapstad sal onderneem. Air Namibia sal heel waarskynlik die groep Namibiërs in Johannesburg gaan haal,” sê Riveiro.
“Hulle sal met hul aankoms in die land onder kwarantyn geplaas word.”
Eysselein sê die gestrande Namibiërs werk met die Okanti-stigting saam om die geld in te samel. Dié stigting onder aanvoering van me. Michaela Tietz-von Liepzig, staan normaalweg ouers wie se kinders groot operasies moet ondergaan, finansieel by.
Mense wat geld wil skenk, kan dit by Nedbank Namibia Limited inbetaal. Die rekeningbesonderhede is as volg:
Daniela Medical Trust, rekeningnommer 11010022195 en takkode 461609.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie