Helpende hand na vlugtelinge uitgesteek

Mense wat langs die grensgebiede woon, ly onder klimaatskokke soos droogtes, vloede of hittegolwe wat vele huishoudings se voedselsekerheid bedreig.
Yandi Du Plessis
Tuyeimo Haidula op Etunda

Ten spyte van die verwoestende impak van die Covid-19-pandemie, is Afrika se grensgebiede streke van mag en huisves dit veerkragtige gemeenskappe wat weier om deur natuurrampe geknak te word.

Dit was die boodskap op Menseregtedag aan 3 700 Angolese vlugtelinge wat tans by Etunda in die Omusatistreek woon.

Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het Vrydag by dié kamp deurgebring om items te oorhandig wat deur die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP) geskenk is danksy die Namibia Integrated Landscape Approach for Enhancing Livelihoods and Environmental Governance to Eradicate Poverty (NILALEG)-projek se poging om fondse van die Africa Borderlands Centre te verkry.

Die vlugtelinge se lot is dié van hongersnood. Hulle het in Maart na Namibië gekom om van die water- en voedselkrisis in hul tuisland te ontsnap. Die goewerneur van die Cunene-provinsie, me. Gerdina Ulipamwe Didalelwa, het in Mei na Namibië gereis om die vlugtelinge te vra om terug te keer huis toe sodat die Angolese regering na hulle kan omsien. Hulle het sedertdien geweier en ingestem om eers terug te gaan sodra dit reën, sodat hulle hul velde kan bewerk.

Die groep Angolese glo nie hul regering sal daad by woord voeg en bystand lewer nie.

Shifeta het gesê die meeste mense wat langs die grensgebiede woon, ly onder klimaatskokke soos droogtes, vloede of hittegolwe wat vele huishoudings bedreig en veral voedselsekerheid beïnvloed.

“Hulle het na Namibië gekom vir oorlewing weens die langdurige droogte in hul land. Hierdie mense is nie formeel in diens nie en ontvang selde hulp van die regering,” het hy gesê.

Hy reken die werklikheid moet tuisgebring word oor die verwoestende gevolge van aardverwarming en mense herinner aan hul verantwoordelikheid om die omgewing te bewaar.

Shifeta het die goewerneur van die Omusatistreek, mnr. Erginus Endjala, geloof omdat hy die Angolese vlugtelinge met hulle aankoms bygestaan het. Endjala het hom beywer om die lewe vir die mense draaglik te maak. Hy het al by verskeie geleenthede na die situasie verwys as ’n krisis wat dringend opgelos moet word, maar sy pleidooie het op dowe ore geval.

Endjala het gesê sedert hul aankoms is sy kantoor voortdurend op soek na bystand vir die ontworteldes.

“As regering alleen kan ons nie veel doen nie; vandaar ons pleidooi aan barmhartige Samaritane en internasionale gemeenskappe om in hul basiese behoeftes te kan voorsien,” het hy gesê.

Endjala het ook hulp gevra met die voorsiening van opvoedkundige materiaal, aangesien die kamp meer as 1 500 kinders huisves wat van skoolgaande ouderdom is, maar tans nie skool bywoon nie.

Die NILALEG-projek is ontwerp om ’n landskapbestuursbenadering te bevorder wat belangrike landbou- en boslandskappe integreer, armoede verminder deur volhoubare natuurgebaseerde lewensbestaan, woude as absorbeerders van koolstof beskerm en herstel, en gronderosieneutraliteit bevorder.

Vyf fokuslandskappe val onder hierdie projek, waarvan Ruacana een is.

Die UNDP-verteenwoordiger in Namibië, me. Alka Bhatia, het gesê die items wat geskenk is, moet die immigrante se lewensbestaan verbeter en voedselsekerheid bevorder.

“Die UNDP werk nou saam met die regering om oorgrensprogrammering in Namibië te integreer en sodoende oorgrenssamewerking te bevorder, grensgemeenskappe te bemagtig, veerkragtigheid teen klimaatsveranderinge te bou, konflikte te voorkom en op te los, en vroue en die jeug te bemagtig om toegang tot werksgeleenthede en maatskaplike beskerming te verhoog.”

Bhatia het begunstigdes aangemoedig om hul deel te doen om bydraes tot voedselsekerheid in die land te verseker.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!