Hengel verloor sy grootste staatmaker
Hengel verloor sy grootste staatmaker

Hengel verloor sy grootste staatmaker

Des Erasmus
Des Erasmus



Een van georganiseerde hengel se grootste persoonlikhede en staatmakers, Paul Ferreira, is in die nagtelike ure van gisteroggend op Swakopmund aan 'n hartaanval dood.

Hy was in 'n hospitaal vir die dreinering van water op sy longe toe die einde van die pad vir 'n merkwaardige man aangebreek het.

Woensdagaand het wyle mnr. Ferreira nog met besoekers langs sy bed gesels en geskerts voordat die dood gisteroggend ingetree het.

Voor die onafhanklikwording van Namibië het Ferreira met onderskeiding in die polisiemag gedien toe hy by verskeie stasies gestasioneer was. Dit het in veral die landelike gebiede aansien aan die man van die gereg gegee. Ná die polisiediens het die alombekende Oom Paul die sakewêreld betree waar hy aanvanklik kampeertoerusting aangehou het met spesialisasie op die gebied van hengel wat gaandeweg oorgeneem het.

Op Swakopmund was hy tot enkele maande voor sy dood nog 'n raakvatter by 'n tak van Leon's Tackle Shop met hoofkwartiere op Hentiesbaai. In die winkel het hy nie net gehou by die nuutste hengeltegnieke nie, hy was ook die man wat stokke en katrolle nagegaan en reggemaak het.

Op die gebied van hengel het hy varswaterhengel in verskillende hoedanighede gedien, die belangstelling behou en op strandhengel gekonsentreer toe hy en sy vrou, Porra, na Swakopmund verhuis het. Uit die geledere van georganiseerde hengel is reeds hulde aan wyle Ferreira gebring en is na hom verwys as 'n man wat die sportkode in haas elke komitee gedien het.

Op die gebied van strandhengel was hy in latere jare 'n bekende weegmeester met 'n besondere kennis van die spesies van die see langs die Namibiese kus, maar ook van die buurlande, Suid-Afrika en Angola. Hy was ook 'n bedrewe rekordhouer met vislengtes en gewigte wat uit die kop opgesê kon word.

Juis sy kennis het van hom 'n goeie kontak van Republikein (So lyk die naweek) gemaak en hy was ook 'n gereelde bydraer tot radioprogramme.

Wyle mnr. Ferreira word deur sy vrou, Porra, en 'n stiefdogter oorleef. 'n Roudiens sal op Swakopmund gehou word, maar finale reëlings was nie teen druktyd bekend nie.

Die naweek lyk maar stroef, Oom Paul.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!