Hengelspanne klop RSA tweede keer

Die plaaslike spanne het vier uit vyf kategorieë gewen.
Tanja Bause
Tanja Bause

Namibië het Suid-Afrika se bestes verslaan in die internasionale gala-toernooi van die Namibiese Strandhengelvereniging wat van 7 tot 9 Desember by Hentiesbaai aangebied is.

Die Namibiese vrouespan, senior mans, meestersmans en grootmeestersmans het almal beter as Suid-Afrika gevaar. Slegs die Suid-Afrikaanse mans onder 21-span was aan die wenkant.

In die vrouekompetisie is Maryna Viljoen met ’n kabeljou van 18.8 kilogram en 15 nie-eetbare visse van ’n gesamentlike gewig van 149.5 kg as die algehele beste vrouehengelaar aangewys.

Die Namibiese vrouespan het met vangste van 411.7 kg teenoor Suid-Afrika se 406.1 kg gewen. Twee Suid-Afrikaanse vroue was in die individuele tweede en derde plekke, naamlik Kabous Louw met 113 kg en Chantel Carstens met 97.9 kg.

Die gasheerland se grootmeestersmans het ’n wegholoorwinning met 815.5 kg teenoor die 413.5 van Suid-Afrika behaal. Jörg Walter van Namibië was boaan die individuele lys met een eetbare en 18 nie-eetbare visse met ’n gewig van 196.6 kg. Hy is gevolg deur sy landgenote Andre Coetzee met vangste van 168.3 kg en Charles Bothma met 164.4 kg.

Die meestersmans het met ’n verskil van net 3.8 kg teen Suid-Afrika gewen. Hul gesamentlike gewig was 753.4 kg, teen Suid-Afrika se 749.6 kg.

Mike Bailey van Suid-Afrika was in die eerste plek met 258.7 kg. Hy is gevolg deur die Namibiërs Adri Roets (tweede met 215.3 kg) en Etienne Stipp (200.3 kg).

Namibië se senior mans het hul kategorie met ’n verskil van 1 602.8 kg teenoor 1 465.1 kg gewen. Van die individuele hengelaars was die Suid-Afrikaner AJ de Beer eerste met 336.3 kg, gevolg deur die Namibiërs Johan Visser met 295.0 kg (tweede) en Brian Curtis met 289.7 kg.

Die Suid-Afrikaanse o.21-manspan het met ’n totale gewig van 1 001.9 kg teenoor Namibië se 945.1 kg gewen. Die Namibiër Barren van Es was die uitblinker met 254.4 kg, gevolg deur die Suid-Afrikaners Corbin Morris (208.2 kg, tweede) en Tim du Plessis (202.1 kg).

Die weer- en visvangtoestande vir die drie dae was oorwegend gunstig met uitgaande getye in die oggende. Die laaste kompetisiedag was die mees uitdagende in sommige aangewese visvanggebiede vanweë swaar grasgebiede en windtoestande wat effens toegeneem het.

Marina Kruger, wat vir die Namibiese vrouespan gehengel het, sê: “Dit was die eerste keer wat ons suid van Hentiesbaai gehengel het. Die eerste dag het ons by Myl 14, die tweede by Myl 8 en die derde by Myl 30 gehengel. Die mans het op die derde dag by Jakkalsputz gehengel. Tydens die vorige kompetisies het ons altyd noord van Hentiesbaai gehengel,” het sy gesê.

In die toernooi se algehele individuele posisies was AJ de Beer (RSA senior mans) boaan die lys met 336.3 punte, terwyl die volgende vyf posisies soos volg deur Namibiërs gevul is:

2 Johann Visser (senior mans, 295.0 punte)

3 Brian Curtis (senior mans, 289.7)

4 Johan van Wyk (senior mans, 284.4)

5 Andrew van der Westhuizen (senior mans, 265.7)

6 Emil Prinsloo (senior mans, 264.7)

Namibië het vroeër vanjaar tydens die 2021 Gus Kolner-hengeltoernooi in Jeffreysbaai teen Suid-Afrika geskiedenis gemaak. Plaaslike strandhengelaars het ’n nuwe beste prestasie behaal deur vyf uit die ses afdelings te wen (senior B-afdeling, meesters, vroue, binneland/veterane en die ontwikkelingsklas). Dit was ook die eerste keer dat die vroue- en meesterspanne ’n goue medalje in Suid-Afrika verower het.

“In geheel het Namibië se sportmanne en -vroue vanjaar baie goed gevaar, as ’n mens kyk na nie net die hengelspanne nie, maar ook in krieket, atletiek en fietsry,” het Kruger gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer