• Tuisblad
  • Sport
  • Henk soek twee vir vroue-aflosspan – sonder Jolene

Henk soek twee vir vroue-aflosspan – sonder Jolene

Atletiek
Andrew Poolman
Andrew Poolman – In die afwesigheid van die bewese wêreldklas naellopers Christine Mboma en Beatrice Masilingi word die soeknet gespan vir talentvolle vrouenaellopers om ’n mededingende 4x100 meter aflosspan saam te stel.
Mnr. Henk Botha, afrigter van die twee Olimpiese 200-finaliste in Tokio 2020, sê die onbeskikbaarheid van die nasionale kampioen in die 100 meter, Jolene Jacobs, dra by tot die dilemma.
“Jolene is tans beseer en ons weet ook nie hoe op stryk Ané Rautenbach is nie, wat lanklaas gehardloop het nadat sy van ’n besering herstel het,” sê Botha.
Jacobs se seisoen is verby voor dit begin het. Sy is voor die naweek geopereer met ’n rekonstruksie van haar dyspier en sy wonder inderdaad of sy ooit weer kompeterend sal kan hardloop.
Jacobs (29) het Vrydagaand ’n video bekendgestel waar sy versigtig met krukke oor die weg kom, met die byskrif: “Eerste treë na herstel! (dag 01 van 273). My atletiekseisoen is vir 2022 klaar, but I’ll be back. Ek is ongelooflik emosioneel hieroor, maar ek weet daar is ’n doel met alles.
“Ek het ’n baie lang pad wat wag, maar ek weet met almal wat my ondersteun en help gaan dit ’n ‘breeze’ wees. Ek het ’n operasie ondergaan vir ’n ‘tendon and hamstring avulsion en reconstruction’. Dit gebeur seker as jy te vinnig hardloop.”
By Atletiek Namibië se nasionale kampioenskap van April 2021 het Mboma, Rautenbach, Jacobs en Masilingi die nasionale 4x100-aflosrekord tot 44.77 gesnoei.
Dit was egter voordat Mboma en Masilingi vir die eerste keer in die Europese seisoen gaan meeding en sedertdien op skouspelagtige wyse van krag tot krag gegaan het. Beide het in die 200 meter die eindrondte van die Olimpiese Spele in Tokio gehaal en onderskeidelik tweede en sesde geëindig.
Hierdie nasionale rekord het egter net tot Augustus bly staan, toe Ndawana Haitembu, Masilingi, Nandi Vass en Mboma by die o.20- wêreldkampioenskap in Nairobi met ’n puik 43.76 ’n silwermedalje vir Namibië gewen het.
Botha sê: “Ons werk daaraan om ’n vroue-aflosspan bymekaar te sit. Ons wil minstens twee kompetisies aanbied voor die senior Afrika-kampioenskap (6-12 Junie in Mauritius).”

NASIONALE KAMPIOENSKAP WINK
Atletiek Namibië hou sy nasionale kampioenskap op 2 en 3 April in Windhoek.
Voor dit lê nog drie Grand Prix-byeenkomste voor – 19 Februarie op Rietfontein (nommer 4), 5 Maart op Oshakati (nr. 5) en ’n onbevestigde venue vir nr. 6 op 16 Maart.
By afgelope naweek se Grand Prix III in Windhoek se Onafhanklikheidstadion het Johanna Ludgerus (Korrektiewe Dienste) die 100 meter vir vroue in 12.31 sekondes voor Hanganeni Fikunawa (12.51) van Unam en die skoolmeisie Epifania Johannes (Kakadhinwa- klub, 12.67) gewen.
Ludgerus het haar egter kort tevore ook in die 400 uitgeput vir ’n tweede plek (58.56) ná die wenner Nandi Vass (58.19).
Om die dag af te sluit het, Unam se kwartet, insluitend Fikunawa en Vass, die 4x100 aflos in 49.74 teen Kakadinwa gewen.

NARIB MIK NA STATEBONDSPELE
Ernst Narib, wat laas naweek die 100 meter in 10.60 gewen het, sê hy werp alles in die stryd om vir die Statebondspele in Birmingham te kwalifiseer.
“Dit is al sedert 2019 my groot doelwit om vir die Statebondspele te kwalifiseer, die finaal te haal en ’n medalje te wen. Dis darem ’n vlak so effens onder die Olimpiese Spele en lyk dus meer bereikbaar.
“Die Afrika-kampioenskap in Mauritius is ook in my visier. By vorige Afrika-kampioenskappe het ek in die semifinaal uitgeval, maar vanjaar wil ek die finaal haal. Ek is op ’n ouderdom (31) waar ek nie meer te veel jare oor het om vir die groot medaljes mee te ding nie.”
Narib is ’n faktor in die 100, 200 en 400 meters met beste tye van 10.29 (laasjaar in Februarie, Windhoek), 20.62 (April 2021 in Lusaka) en 46.17 (2014 in Potchefstroom).
Hy sê hy put inspirasie uit Wayde van Niekerk wat ewe veelsydig in hierdie afstande meegeding het voor sy Olimpiese goud en wêreldrekord in die 400 meter.
“Ek het Saterdag die nuwe jaar in die 100 begin, maar dis net deel van my opbou om my fokus op die 200 meter in te stel, waar my tye die naaste is om vir Statebond- en Afrika-semifinale en -finale mee te ding.”
Narib, wat laasjaar die nasionale 100-titel in 10.73 gewen het, sê hy was Saterdag beïndruk deur die skoolseun Anthony Vries (10.62), vir wie hy net-net geklop het. “Ek dink die outjie het baie potensiaal en kwalifikasie vir die junior wêreldkampioenskap is binne sy bereik. Ons oefen saam by (afrigter) Lucky Gawanab.
• In die 400 meter het Mahmad Bock Saterdag net-net die manswedloop teen André Retief gewen en hoewel hulle tye nie indrukwekkend was nie (48.10 teen 48.07) het Bock agterna verklaar dat hy ook elke dag daaraan werk met die Statebondspele in die oog.
“Ek het nog werk om te doen. Ek beoog om bietjie later my piekvorm te bereik. Die kwalifiserende tyd (45.5) is net breukdele weg van my persoonlike beste (46.2) en ooglopend is dit binne my bereik.”
Ander noemenswaardige en ambisieuse wenners van Grand Prix III sluit in die 1500m-manswenner Dawid Dam van Omaruru (4:01.13), die Paralimpiese verspringer Bradley Murere (6.09m) en die 17- jarige Saara Shikongo van Kakadinwa-klub in die 1500 meter (4:40.52).


FOTO’s Andrew Poolman
Sandro Diergaardt, nasionale kampioen, het die verspring met sy beste poging van 7.56 meter gewen.
Jasper Engelbrecht, wenner van die spiesgooi met 59.20 meter.
André Retief (voor) en die wenner Mahmad Bock (in blou) jaag mekaar ná die eerste draai van die 400 meter.
Die tienerjarige Saara Shikongo beïndruk met haar opgang in die middelafstande.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!