Hennie tem die Sahara
Hul deeglike voorbereiding in die Namibwoestyn is deur teëspoed in Marokko bederf.
Tielman van Lill - Nadat eers 'n maagvirus en bande aan flarde sy vordering by die 2019 Morocco Desert Challege (MDC) gekortwiek het, het Hennie de Klerk sy TreasuryOne V8 4x4 VW Amarok weer soos 'n glad geoliede masjien laat loop, voordat die volgende teenspoed getref het.
Die Suid-Afrikaner wat laasjaar vierde in sy klas in sy debuut by Namibië se Total Tara-tydren was, en sy navigator Johann Smalberger het verlede Dinsdag se vierde spesiale sneldeel (SS4) van 425 kilometer (Assa na Foum Zguid) in die sesde posisie geëindig.
Die paar het die vorige dag heelwat tyd verloor en moes in winderige toestande en stof die Amarok laat uithaal om verlore tyd in te haal.
De Klerk sê die terrein was ongelooflik hard met skerp klippe wat die Amarok se Coopertires (handelsmerk) tot die uiterste beproef het. Omrede hulle baie tyd ingeboet het, moes die TreasuryOne-span agter die vragmotors wegspring, wat ongelooflik baie stof in die barre woestynlandskap opgeskop het. Dit het De Klerk egter nie verhinder om verlore minute in te haal en sterk in die sesde posisie te eindig nie.
“Ons het (Dinsdag) 'n fantastiese dag agter die rug. Dit was 'n strawwe roete, maar gelukkig het die Amarok foutloos sy ding gedoen en sonder teenspoed soos pap bande kon ons verlore tyd inhaal. Die woestyn gooi regtig slegte weer vir ons om mee rekening te hou, met baie stof en erge rukwinde wat dinge lelik deurmekaar kan krap.
“Die vervlakste maagvirus wat ek gehad het, het veroorsaak dat ek nie teen dieselfde pas as normaalweg kon jaag nie. Gelukkig is ek nou gesond en kan weer in die versengende hitte sonder lugverkoeling laat waai,” het De Klerk laat weet.
Woensdag het die TreasuryOne-span die sanderige skof 5 van Foum Zguid na Zagora (308 km) gepak wat soos die Namibwoestyn lyk.
De Klerk vertel: “Sand is my kos en dit was my grootste wapen tydens die 2018 Dakar-tydren (waar hy as beste nuweling vereer is).
“In die duine het ek met die Dakar ongelooflik baie tyd teen die opposisie gewen. Ek het baie dae en ure in Namibië se duine bestee om my weer op my beste peil te bring, en ek gaan dit (in laas Woensdag se skof) tot my voordeel inspan.”
Woensdag met SS5 moes die twee Lac Iriki oorsteek en die hele Erg Chebbi-roete van oos na wes en weer van noord na suid agter hulle kry. Ná die gedeelte moes hulle die onontdekte duinesee van Erg suid van Mhamid aandurf.
Maar vir De Klerk wou die dag nie vlot nie. Een van die Amarok se dryfaslaers het vroeg al gebreek en die span moes geduldig vir hul diensspan wag om die R200 se laer te vervang, wat hulle toe 'n tydboete van 20 ure op die hals haal.
Donderdag het hulle met SS6 van Zagora na Merzouga (370 km) in die 21ste plek weggespring. Weer is De Klerk se vordering deur 'n gebreekte skokbreker in die wiele gery, maar die span slaag daarin om sewende in hul klas te eindig. Dit is 'n dag vir drama met Van Loon, die algehele voorloper, wat ná 'n ongeluk uit die tydren is terwyl 'n ander bakkie aan die brand slaan. Hulle eindig ses sekondes stadiger as hul Suid-Afrikaanse mededingers Thomas Edward Bell en Patrick McMurren se Nissan Navara.
Vrydag was die laaste dag in die duine met SS7 van Merzouga na Bouarfa (427 km).
“Ons was vandag agtste in ons klas en 24ste algeheel klaar. Dis jammer ons het Woensdag teenspoed gehad. Die enigste troos is dat ons nie die enigstes is met probleme nie. Die kuns in die sand is om nie 'n fout te begaan nie en om nie die Amarok te ooreis nie.”
Saterdag was die laaste en kortste sneldeel van Bouarfa na Oujda (219 km) waar sy span ná agt dae en 2 741 km se intense jaagtogte by Oujda naby die Mediterreense See sesde in hul klas en 23ste algeheel eindig.
Ter opsomming sê De Klerk: “Sjoe, hierdie was 'n tydren van uiterstes! Daar was hoogtepunte die eerste paar dae toe ons naby die voorlopers was. Die laagtepunt is die tyd wat ons verloor het met die maagvirus wat ek gehad het voordat ons die volgende dag weer volspoed kon jaag.
“Ons het in totaal 24 ure verloor met die skokbreker en dryfaslaer wat gegroet het, maar die hele ondervinding wasdie moeite werd.
“In geheel het ons baie goed gevaar. As dit nie vir die verlore 24 uur was nie, kon ons onder die voorste vyf deelnemers geëindig het. Die diensspan was uitstekend en Johann was briljant in die moeilike trajekte.
“Ons het nou die woestyne van Suid-Amerika en Afrika kafgedraf. Volgende is dit Asië,” het De Klerk tevrede vertel.
Die TreasuryONE-span het in die motor- en “buggie”-afdeling deelgeneem waar 83 inskrywing vir die hoogste louere meegeding het. Altesaam 1 081 inskrywings is vir die 2019 MDC van 36 lande ontvang. Die MDC word as die wêreld se tweede grootste en strafste tydren gereken.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie