Henri beken glo teenoor vriend
Henri beken glo teenoor vriend

Henri beken glo teenoor vriend

Julian Jansen - Henri van Breda, wat Donderdag nog volgehou het hy het nié op een na sy hele gesin met ’n byl uitgewis nie, het glo vroeër ’n bekentenis teenoor ’n vriend gemaak. Rapport verneem van bronne in die polisie en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) dat Stefan van der Westhuizen (23), ’n voormalige vriend van Henri, die owerhede genader het met dié inligting.

Met Henri se skuldigbevinding verlede week het hofgangers verbaas opgekyk toe Van der Westhuizen hoorbaar begin snik.

“Ai, my vriend . . .” het hy gesug en sy trane afgedroog toe polisiebeamptes Henri geboei uit die hof lei.

Henri wil appelleer teen die bevinding dat hy sy pa, Martin, ma, Teresa, en broer, Rudi, vermoor het en sy suster, Marli, probeer vermoor het.

Van der Westhuizen word tans in ’n Kaapse kliniek vir depressie behandel.

Hy sê aan Rapport hy was baie geheg aan Henri en Marli. Hy het die Van Breda’s in 2015 ontmoet en het gereeld saam met Henri gekuier. Hulle het gereeld soesji gaan eet, gesels en saam gerook. Henri is tydens sy verhoor in hegtenis geneem vir die besit van dagga. Hy is vrygespreek toe sy meisie, Da­nielle Janse van Rensburg, erken het dit was haar dagga.

Van der Westhuizen sê die enigste gevaarligte wat aanvanklik geflikker het, was Henri se musieksmaak. “Ek het die rockmusiek wat Henri in die motor gespeel het absoluut gehaat, maar wou dit nie vir hom sê nie. Dit sou sy hart gebreek het,” sê hy half verleë. Maar die verhouding het begin versuur in die herfs van 2016. Henri het hom een aand opgewonde genooi om die gruwelprent Hardcore Henry in Claremont te gaan kyk, vertel hy. Die karakter Henry word opgewek uit die dood en is deels mens en robot. Sy geheue is uitgewis en hy moet sy vrou red van ’n psigopaat wat die wêreld wil oorneem. Van der Westhuizen was skepties, want die fliek het eers om 23:00 begin. Hy onthou veral hoe grusaam die fliek en hoe ironies die titel was. By nog ’n geleentheid was hulle op pad na die bioskoop in die Cavendish Square-winkelsentrum in Claremont.

“Henri was ongewoon stil, nie lekker nie; weet nie of hy siek was nie.

“Ek kon aanvoel dat iets hom pla. Ek moes net weet wat presies.”

Hulle het toe gery. “Ek het opgef*k,” het Henri skielik gesê.

Van der Westhuizen was sprakeloos en verward oor dié skielike opmerking. “Ek sal nooit die emosie in Henri se oë vergeet nie, die trane . . .” sê hy. Die res van die rit was in stilte.

“Ek het gevoel of my hart aan die brand was, asof ek Henri net daar aan die keel kon gryp. Net die gedagte dat ek dalk lángs ’n moordenaar sit!”

Die spieël het finaal tussen hulle gebreek toe Van der Westhuizen kort daarna vir hom gesê het hy dink Marli begin glo dit was haar broer wat hulle aangeval het.

“Hy het rooi geword in sy gesig,” sê Van der Westhuizen.

Henri het hom in ’n woedebui aan die nek gegryp, sê hy. Na dié voorval het die twee mekaar minder gesien.

Van der Westhuizen het Henri een of twee keer in die hof gaan ondersteun. Hy glimlag verleë: “Henri was toe nie meer so gaaf met my nie.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!