Henties-behuising: Subkontrakteurs kla
Verskeie redes waarom 'n laekostebehuisingskema tot stilstand gekom het, word uit verskillende oorde ontvang.
Otis Finck op Hentiesbaai
Die Hentiesbaai-munisipaliteit het 'n regsgeding aanhangig gemaak om te verseker 'n laekostebehuisingskema in Omdel uitbreiding 7 op Hentiesbaai, wat skielik tot stilstand gekom het, word voltooi.
Dit volg na verskeie klagtes van subkontrakteurs teen die projek se hoofkontrakteur ontvang is.
Mnr. Mahne Kruger, die strategiese uitvoerende beampte vir korporatiewe dienste, ekonomiese ontwikkeling en stedelike bestuur by die munisipaliteit, sê verskeie kennisgewings is aan die gesamentlike onderneming (JV)-vennoot, Bay Construction, gestuur met geen geskrewe terugvoering nie.
Volgens Kruger is die munisipale raad bewus van die kwessie en simpatiek teenoor die subkontrakteurs, maar prosedures moet gevolg word.
“Ons kan nie die regsproses vooruit loop nie,” het hy gesê.
Kruger sê die raad is genader om 'n openbare-private-ooreenkoms aan te gaan en het die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling genader om raad oor die haalbaarheid van die projek te verskaf.
“Die was nie 'n tendertoekenning nie,” het hy benadruk.
Die JV-ooreenkoms bepaal dat die munisipaliteit grond beskikbaar stel in ruil vir laekostebehuising.
Volgens mnr. Edward Yon, een van die subkontrakteurs, het hy aansienlike finansiële verliese gely as gevolg van Bay Construction se onvermoë om betalings te maak.
Yon van Edward Yon Construction is een van twee subkontrakteurs wat 'n ooreenkoms met Bay Construction aangegaan het. Mnr. Alvin Naidoo is die eienaar van Bay Construction.
Yon sê sy maatskappy en ISS Construction het 'n kontrak in Junie 2019 met Bay Construction geteken om 27 huise by Omdel uitbreiding 7 te bou. Die hoofkontrakteur het waarborge belowe, wat 'n voorskotbetaling op die persentasie voltooide werk binne 60 dae ingesluit het.
Yon beweer Naidoo het hom verseker die fondse is by die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) beskikbaar.
“Die hoofkontrakteur en bankamptenare het die terrein na 60 dae besoek. Hulle het 'n skatting en waardasie gedoen van die werk wat op 5 Julie 2019 voltooi is. Naidoo het gesê hy wag net op die bank om die fondse beskikbaar te stel sodat hy ons kan betaal.”
Yon sê die betaling het nooit gerealiseer nie.
“Die rede wat Naidoo verskaf het, was dat die werk wat tot dusver voltooi is, geen betaling regverdig nie en die geld dus nie beskikbaar gestel gaan word nie. Volgens Bay Construction se waardasie, was die huise net 30% voltooi.”
Volgens Yon het hy in daardie stadium reeds N$380 000 op materiaal, vervoer- en verblyfstoelae en arbeid spandeer.
Hy sê die tien huise wat hulle moes bou sou teen 'n koste van N$95 000 elk gebou word met 'n totale waarde van N$1,5 miljoen.
“Hulle skuld my N$495 000 sonder die rente wat vir die afgelope 13 maande bereken is.”
Reputasie
“Ons reputasie en finansiële geloofwaardigheid lê aan skerwe,” het Yon gesê. Volgens Yon maak Naidoo gedurig leë beloftes. Naidoo sou blykbaar ook geld van vorige projekte gebruik om die subkontrakteurs te betaal. Naidoo is tans in Suid-Afrika in inperking en sy prokureur behartig sy sake.
“Die kontrak stipuleer duidelik dat daar op 'n geskikte leweringsbasis gewerk moet word en dat diensverskaffers na voltooiing betaal sou word. Nie een van die subkontrakteurs het die huise voltooi wat aan hulle toegeken is nie. Hulle het die ooreenkoms onderteken met die wete dat hulle nie die kapasiteit het om die diens te lewer nie. Ek worstel nou met die munisipaliteit,” sê Naidoo.
Yon beweer Naidoo het die DBN genader onder die voorwendsel om werksgeleenthede vir Namibiërs (veral vir kleiner kontrakteurs) te skep en op grond hiervan is 'n ooreenkoms gesluit dat fondse beskikbaar gestel sou word namate die projek vorder.
Hy sê die 12 huise wat aan sy maatskappy toegeken is, is nog nie voltooi nie, terwyl 'n tweede subkontrakteur vyf van die 15 huise wat aan sy onderneming toegeken is, voltooi het.
“Ons is bekommerd omdat ons deur 'n betroubare bron verneem het dat N$5 miljoen by verskeie geleenthede uit die DBN-rekening onttrek is. Dit was die totale koste vir die konstruksie van 100 huise.”
“Ons moenie terugsit en toelaat dat dit die aanvaarbare manier word om sake te doen nie. Daar was geen amptelike oorhandiging van die perseel nie en die kontrakteurs moes die water uit hul eie sakke aansluit. Die perseel wat aan ISS toegewys is, was ook verkeerd. Hulle het dit ontdek nadat die opgrawing van die fondament reeds voltooi is. Dit het die projek ook twee maande laat stilstaan.”
Yon het gesê die oorspronklike ooreenkoms tussen die munisipaliteit en die hoofkontrakteur bepaal dat 30 huise gebou moet word in ruil vir luukse erwe wat ontwikkel sou word as betaling vir die voltooide huise.
Altesaam 27 huise moes in Augustus 2019 reeds voltooi wees.
Volgens Naidoo het die munisipaliteit reeds gedreig om die kontrak te kanselleer weens die stadige vordering.
“Sou dit gebeur, sal die subkontrakteurs betaling ontvang vir die dienste wat gelewer is. Drie ooreenkomste is reeds gekanselleer en ek moes ingryp. Ek het probeer om te help waar ek kon en het die meeste werkers uit my sak betaal. Ek kan ongelukkig nie die verskaffers betaal vir materiaal wat gebruik sou word vir die bou van die onvoltooide huise nie.”
'Kom ons maak klaar'
Yon is vasbeslote dat die munisipaliteit die kontrak met Bay Construction moet beëindig en dit aan die subkontrakteurs oorhandig om te voltooi.
Die burgemeester van Hentiesbaai, mnr. Hermann Honeb, het gesê hy is bewus van die kwessie, maar hy het nie geweet dat die hoofkontrakteur na bewering al die geld vir die projek onttrek het nie.
“Dit is 'n jammerte die projek het tot stilstand gekom. Die verlate perseel is 'n doring in die oog van die raad. Ek het die uitvoerende hoof opdrag gegee om die saak te ondersoek. Hy sal 'n tegniese verslag verskaf, en ons sal die pad vorentoe as 'n dringende saak bespreek. Die kwessie sal ook op raadsvlak aangespreek word.” sê Honeb.– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie