Henties se galg sal herskep word
Die gemeenskap kan nou hand bysit om die galg in iets positiefs te omskep wat beide kriminele en morsjorse afskrik.
Elvira Hattingh – Ná ’n maande lange tweestryd oor Hentiesbaai se galg, het die dorpsraad beslis dit moet herskep word in iets wat die natuurlike hulpbronne van die kusdorp verteenwoordig – soos ’n houtvis of iets kleinerigs.
Dit kan dan deur die burgemeester van die dorp ingehuldig word. Mnr. Herman /Honeb, Hentiesbaai se burgemeester, het gister gesê dit volg ná ’n “baie moeilike stryd om die twee groepe mense bymekaar” te bring.
/Honeb sê hy het op 29 Junie ’n tweede klagskrif ontvang – dié keer om die galg te red. Hy sê daar was twee denkstrome oor die galg, maar die meeste mense was dit eens dat dit verwyder moes word.
“Plaaslike inwoners het nou die geleentheid om met ’n ontwerp van so ’n struktuur vorendag te kom,” het hy verduidelik.
“Ons wil dit in iets omskep wat kriminele afskrik, maar mense ook motiveer om die dorp skoon te hou en terselfdertyd wegdoen met enige negatiewe verbindings wat daaraan geheg word.”
Mnr. Sifried Garoeb, een van die aktiviste wat vir die behoud van die galg staan, het verduidelik die plan is nie om die houtstruktuur van die galg te verwyder nie, maar eerder iets anders as ’n tou moet daaraan gehang word.
/Honeb sê hulle het reeds enkele voorstelle ontvang en mense wat wil hand bysit, kan die uitvoerende hoof van die munisipaliteit binne die volgende twee maande kontak.
“Die sterkste boodskap is dat ons die dorp so misdaadvry as moontlik wil hou. Ons wil ook die fokus op ons mense hou.
“Voor daar enige vooruitgang kan wees, moet daar vrede en harmonie binne die gemeenskap bestaan,” het /Honeb gesê.
AGTERGROND
Die welsynsorganisasie EM Love Foundation, wat die aktiviste-beweging vir die verwydering van die galg gedryf het, het vroeër vanjaar aangevoer die struktuur dien as ’n simbool van ’n pynlike verlede van rasseonderdrukking.
Hierteenoor het sommige inwoners gemeen aktiviste “skep hul eie rassekwessie” rondom die galg, terwyl die geskiedenis van die spesifieke baken dit nie regverdig nie. Die gedenksteen aan die voet van die galg dui aan dit is in 1978 opgerig as ’n versoek om die dorp en die strande skoon te hou.
Die galg se tou het in die tussentyd verdwyn, terwyl onbekende persone op 27 Junie onsuksesvol gepoog het om die galg met brandspiritus aan die brand te steek en af te kap.
Die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) het sedertdien ook toegetree deur op 18 Junie ’n publikasie deur me. Nishi Felton vry te stel waarin die geskiedenis aangehaal word om te illustreer dat die galg ’n simbool van ’n uiters traumatiese koloniale verlede in Namibië is – al is niemand ooit spesifiek aan Hentiesbaai se galg gehang nie.
Inwoners het reeds voorgestel dat, in die plek van die tou, ’n “mooi bord opgehang kan word wat die eintlike bedoeling van die boodskap van die galg verduidelik”.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie