Hep E woed in streke
Sinkhuise wat in mense se erwe opgerig word en dikwels daartoe lei dat 'n sekere aantal mense een toilet gebruik, is steeds 'n groot uitdaging.
Jana-Mari Smith
Die Erongostreek, die streek wat die tweede meeste deur die uitbreking van hepatitis geraak word, het tot dusver van die beste uitslae in die stryd teen die uitbreking van die siekte behaal.
“In die Erongostreek alleen het ons beduidende afnames gesien, maar ons is versigtig om dit aan 'n enkele faktor toe te skryf. Ons dink wat ook al die fisieke of ander faktore mag wees, die plaaslike leierskap het 'n noodsaaklike rol gespeel,” het dr. Bernard Haufiku, wat aan die hoof staan van die land se reaksie op die uitbreking, gesê.
Volgens die jongste syfers is 7 142 gevalle teen 12 Januarie oraloor in die land aangeteken. In die Erongostreek is 22% van alle gevalle aangeteken, wat 1 563 behels. Uit die 59 sterftes as gevolg van die siekte was agt in die Erongostreek.
Die Swakopmund-distrik het sy eerste gevalle in Julie 2018 aangeteken, ná die siekte in September 2017 in Windhoek se informele nedersettings uitgebreek het. Omaruru het 'n uitbreking van die siekte in September 2018 aangemeld. Die laaste bevestigde geval in die distrik is egter in Desember dieselfde jaar aangeteken. In Julie verlede jaar is amptelik verklaar die uitbreking in dié distrik is verby.
Walvisbaai het 'n uitbreking in Februarie 2019 aangemeld –hoofsaaklik in die Twaloloka-informele nedersetting, terwyl Usakos sy eerste gevalle in September verlede jaar aangeteken het.
'n Uitbreking behels dat vyf of meer gevalle in dieselfde gebied binne 'n maand in 'n laboratorium bevestig word.
Die afgelope twee maande, tussen 18 November en 12 Januarie, is 36 nuwe gevalle in die Erongostreek aangeteken. Dié gevalle het hoofsaaklik in Kuisebmond op Walvisbaai (19) en die DRC- informele nedersetting op Swakopmund (11) voorgekom, terwyl die res van die gevalle oor die streek versprei is. Me. Caty Sheya van Walvisbaai se munisipaliteit sê dié plaaslike owerheid het verlede jaar N$209 200 bestee om die uitbreking hok te slaan.
Van die stappe wat die munisipaliteit tot dusver onderneem het, was die intensiewe monitering van aktiwiteite by informele handelspersele en nedersettings op voetsoolvlak, sowel as gesondheidsonderrig en inligtingsessies binne die betrokke gemeenskappe.
Daarmee saam is duisende kritieke sanitasieprodukte versprei. Volgens Sheya het die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) duisende liter niegiftige ontsmettingsmiddel geborg, wat op Walvisbaai en Swakopmund gebruik is.
Vier mobiele chemiese toilette en drie voorafbetaalde waterpunte is ook in die Twaloloka- informele nedersetting geïnstalleer.
Sheya het beklemtoon daar is steeds uitdagings met hoofsaaklik sinkhuise wat in mense se erwe opgerig word en dikwels daartoe lei dat 'n sekere aantal mense een toilet op 'n verhuurde perseel gebruik.
Dit veroorsaak dat huurders alternatiewe maniere gebruik om hul nood te verlig eerder as om die toilet te gebruik.
Mnr. Clive Lawrence, van Swakopmund-munisipaliteit se gesondheidsafdeling, sê dié munisipaliteit het sedert die middel van 2018 altesaam 11 waterpunte teen 'n koste van N$10 000 geïnstalleer.
Altesaam 30 mobiele toilette is in die DRC- informele nedersetting opgerig teen 'n koste van N$90 000 per maand vir huur en dienste. Volgens Lawrence is opnames hoofsaaklik in die DRC- informele nedersetting gedoen kort ná die eerste gevalle aangemeld is. Dit het bevind die betrokke gebied het sowat 229 werkende toilette, en gemiddeld twee tot vier gesinne deel 'n toilet. Navorsers het gewys die toilette wat deur minder gesinne gebruik word, was in 'n beter toestand.
Inwoners het hul kommer daaroor uitgespreek dat baie toilette onbruikbaar is, omdat dit “vol is en vir maande nie gespoel is nie”.
Nog 'n uitdaging was dat net vier werkende waterkrane vir die gemeenskap beskikbaar was.
Ondanks die voorsiening van meer waterkrane en toilette sê Lawrence is die behoefte aan meer waterpunte en doeltreffende sanitasiegeriewe steeds uiters groot.
'n Verslag in Januarie oor die uitbreking in Namibië het gewys nog 'n uitdaging in die streek is 'n gebrek aan vrywilligers vir veldwerk en 'n algehele tekort aan menslike hulpbronne.
Volgens dié verslag is 'n totaal van 3 115 huishoudings en dosyne openbare gebiede soos restaurante en kiosks sedert September 2019 met onderrig oor gesondheid geteiken. Tydens die besoeke is meer as 10 600 gemeenskapslede bereik.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie