Hepatitis E: 8 071 gevalle, 66 sterftes

Terwyl Namibië tans onder die Covid-19-pandemie gebuk gaan, is die bedreiging van hepatitis E nog nie iets van die verlede nie.
Kenya Kambowe
Kenya Kambowe op Rundu – Terwyl Namibië tans onder die Covid-19-pandemie gebuk gaan, is hepatitis E steeds 'n bedreiging vir die land en sedert dit in Desember 2017 kop uitgesteek het, was dit moeilik om uit te roei.

Teen 16 Mei is 'n totaal van 8 071 hepatitis E-gevalle en 66 sterftes aangemeld.

Dié syfers is Woensdag op Rundu bekend gemaak tydens die aanvang van 'n drie dae lange vergadering vir gesondheidsamptenare in die Kavangostreke en die Cuando Cubango-provinsie van Angola.

Angolese burgers in die suidelike deel van die land wend hulle gereeld tot gesondheidsinstellings in Namibië, wat nie meer moontlik is sedert Angola sy grense weens die pandemie gesluit het nie.

Daar is egter steeds diegene met ernstige gesondheidsprobleme wat amptelike of nie-amptelike toegangspunte gebruik om die land binne te kom, op soek na gesondheidsorgdienste.



OORGRENSVERHOUDINGE

Toe die hepatitis E-uitbreking in Desember 2017 bevestig is, is dit as 'n rare ver­skynsel beskryf, aangesien die laaste uitbreking tussen 1995 en 1996 op Rundu aangemeld is.

Volgens die gesondheidsdirekteur van die Kavango-Wesstreek, me. Fransiska Hamutenya, is 164 gevalle en drie sterftes sedert die uitbreking in 2017 in die twee Kavangostreke aangemeld.

Sy het gesê die vergadering is om oorgrensverhoudinge in die stryd teen die siekte te versterk.

In Januarie 2018 het 'n risiko-evalueringsverslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) swak lewensomstandighede in informele nedersettings as 'n belangrike faktor in die verspreiding van hepatitis E geïdentifiseer.

“Hierdie gebiede is oorvol en het beperkte toegang tot veilige drinkwater, sanitasie en higiëne,” het die verslag gelui.

Daar is ook gewaarsku dat mense meer binne die land rondbeweeg gedurende die vakansieseisoene.

“Al hierdie faktore kon grotendeels bygedra het tot hierdie uitbreking.”

Intussen verhoog die reënseisoen ook die risiko om met hepatitis E geïnfekteer te word, aangesien “mense dikwels reënwater of ander oppervlakwater gebruik vir drinkwater en huishoudelike doeleindes”.



ONKUNDE

Die goewerneur van die Kavango-Oosstreek, mnr. Bonifatius Wakudumo, het gesê die virus eis die lewens van diegene wat oningelig is.

“Die siektes wat ons mense doodmaak en vermink, kan 'n gevolg van onkunde wees.

“Dit hou verband met beperkte blootstelling en beperkte toegang tot poten­siële en voordelige infrastruktuur sowel as openbare dienste, wat die lewensgehalte van ons mense langs die gemeen­skaplike grens kan verbeter,” het hy opgemerk.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!