Hepatitis E slaan kloue op Walvisbaai in
Hepatitis E slaan kloue op Walvisbaai in

Hepatitis E slaan kloue op Walvisbaai in

Die munisipaliteit het bevestig meer as vyf bevestigde gevalle is aangemeld.
Otis Finck
Otis Finck – Die munisipaliteit van Walvisbaai het inwoners van dié dorp gevra om kalm te bly ná ’n uitbreking van hepatitis E bevestig is en gesê dit word deeglik gemonitor en bestuur.

Twee openbare vergaderings is vir volgende week gereël om mense oor dié siekte en die voorkoming daarvan in te lig. Een vind Dinsdagaand om 18:00 in die gemeenskapsaal in Kuisebmond plaas en die tweede een Woensdagaand dieselfde tyd in die Narraville-gemeenskapsaal.

Die munisipaliteit se kantoor vir openbare skakeling het bevestig meer as vyf bevestigde gevalle is aangemeld.

In ‘n verklaring wat Woensdag uitgereik is, sê die munisipaliteit meer as vyf laboratoriumbevestigde gevalle van die siekte in een maand word as ‘n uitbreking beskou.

Die munisipaliteit gee die versekering dat sy gesondheidsafdeling die situasie in die informele nedersettings monitor, en voeg by intensiewe gesondheidsopvoedingsprogramme sal in die volgende weke onderneem word.

Een van die stappe is ‘n veldtog oor voedselveiligheid en persoonlike higiëne onder inwoners en informele handelaars wat kos op straat verkoop.

Chloor en seep vir persoonlike higiëne word versprei saam met pamflette oor die belangrikheid van handewas en die regte voorbereiding van voedsel.

Die pamflette is in Engels en Oshiwambo beskikbaar.

Die veldtog word deur die informele koshandelaars verwelkom.

Volgens die munisipaliteit sal hy voortdurend in verbinding met die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste oor die uitbreking wees en amptenare op hoogte hou van wat op Walvisbaai gebeur.

‘n Spesiale komitee is saamgestel en, benewens die munisipaliteit en die ministerie, woon verteenwoordigers van die Welwitschia-hospitaal, Tunacor, Hangana Fishing, African Selection Management, Gendev, Seawork en Pereira Seafood die vergaderings by.

Die ministerie het in November 2017 aangekondig hepatitis E het in informele nedersettings by Windhoek uitgebreek.

Gevalle is sedertdien in feitlik al die landstreke aangemeld.

In Erongo was Swakopmund, Omaruru, Hentiesbaai en nou ook Walvisbaai dit nie gespaar nie.

Republikein het in Februarie berig 40 mense in Namibië, onder wie 17 swanger vroue en vroue wat onlangs geboorte geskenk het, het reeds gesterf.

Statistiek tot 20 Januarie soos bekend gemaak deur die ministerie toon 4 318 bykomende gevalle is in die meeste van die landstreke aangemeld.

Hepatitis E is ‘n lewersiekte wat deur die hepatitis E-virus (Hev) veroorsaak word.

Dit is lewensbedreigend vir swanger vroue en mense met ‘n swak immuunstelsel.

Gebrekkige sanitasie is een van die hoofoorsake van die siekte, wat versprei wanneer ontlasting met drinkwater en kos in aanraking kom.

Die inkubasietydperk is twee tot tien weke.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer