Herontmoeting ná 55 jaar
’n Leeftyd gelede is in herinnering geroep vandat die vreemdes besef het wat hulle in gemeen het.
Tanja Bause – ’n Goeie skoot toeval het bygedra dat twee vroue wat regoor mekaar in dieselfde straat in ’n klein kusdorpie in Suid-Afrika grootgeword het, mekaar 55 jaar later weer in Windhoek opgespoor het.
Delana Stadler en Sally Giel het beide as kinders in Pentrichstraat in St. James in Valsbaai gewoon.
Delana vertel: “Ek bied ’n radioprogram elke Saterdagnamiddag op Nova 103.5 aan. Ek speel vir drie ure Golden Oldies, die goeie musiek van toeka se dae. Sowat drie weke terug het ek Louis Armstrong se liedjie Those lazy, hazy, crazy days of summer gespeel. Dis een van my gunstelingliedjies en laat my altyd aan my matriekjaar in die sestigs terugdink.
“Ek onthou dit soos gister. Ons het ons laaste vak, Engels klaar geskryf en het in ’n kring rondgestaan gesing en gelag. Die liedjie was in daardie stadium die nommer 1. Ons almal het mekaar uitgevra wat ons gaan doen voordat ons universiteit toe gaan en een het gesê ek gaan by my ouma op die plaas kuier; die ander een ek gaan na my tannie in Engeland, ensovoorts.
“Ek het gesê ek is baie gelukkig om in St. James te woon en al wat ek gaan doen, is om my lyf op die strand by Dangerbaai te kry. Ek gaan branderplank ry en olyfolie op my smeer. In daardie jare het ons dit gedoen om bruin te word.”
Sally het toevallig na die uitsending geluister en ’n WhatsApp boodskap na die studio gestuur.
“Ek is ook van St. James en ek is bly dat jy sulke goeie herinneringe van die plek het,” het die boodskap gesê.
“Ek het gedink ek sal haar heel moontlik ken omdat St. James so ’n klein dorpie is en gevra waar sy gewoon het. Haar antwoord was Pentrichstraat. Ek was stomgeslaan en toe ek die volgende aankondiging op die radio moes doen, kon ek nie. So ek het maar nog ’n liedjie gespeel, want ek het in dieselfde straat grootgeword,” het Delana gesê.
Ná nog ’n boodskap het die twee vroue agtergekom dat Delana in nr. 9 en Sally in nr.10 gewoon het. Hul huise was reoor mekaar en hulle en hul families het mekaar geken.
SALLY
Sally is gek oor die ouer musiek. Terwyl sy nog in Kaapstad gewoon het, het sy getrou na die Bandstand radio-uitsending geluister.
“Ek het nooit Saterdagaande uitgegaan nie omdat ek Bandstand moes luister. Ek was mal oor die musiek en die program. In Namibië kon ek nooit ’n soortgelyke program vind nie en het verder na die Suid-Afrikaanse radiostasie geluister. Tot daai Saterdag.
“Ek was by die huis besig om te skilder en het tussen die verskillende radiostasies heen en weer geskakel. Ek het op Nova 103.5 afgekom en gedink dis wonderlik, ek luister nou weer na Bandstand, net op ’n Saterdagnamiddag.”
Sally se ouers, Simon en Jo Russel, het haar in Windhoek kom besoek en Sally het die radio aangesit.
“Ons het saam gesing, na die ou dae verlang en teruggedink en ’n baie lekker tyd saam met die aanbiedervrou op die radio gehad. Ons het met vakansie gegaan en net voor my ouers terug Suid-Afrika toe is, het ons weer die Saterdagnamiddag saam voor die radio deurgebring.”
Op dié tydstip het Sally en Delana nog nie van mekaar geweet nie. Eers twee weke nadat Sally se ouers terug Kaap toe is, het Delana op die program oor St. James en Pentrichstraat gepraat.
“Nadat ons WhatsApps uitgeruil en agtergekom het dat ons bure was, het ek my ouers gebel en hulle vertel dat die radiovrou Delana van St. James is. My ma het ná ’n rukkie gesê sy is seker dis Eloise se suster en dat Delana dan die dogter van Phia Goldberg moet wees. Sy het toe vir my pa gevra of hy kan onthou hoe hulle gehelp het om die Goldbergs se hond wat so groot soos ’n perd was te begrawe?
“Ons het almal terugverlang na die dae op St James,” het Sally vertel.
Delana het die Russel-egpaar tien jaar gelede tydens haar ma Phia se begrafnis gesien.
“My ma was die burgemeester van Pentrichstraat en almal het haar geken. Sy en die Russels was baie goeie vriende. Ek onthou ook hul kat Mnr. Tibbels wat nie in die huis mag slaap nie. Die kat het elke oggend voor my glasskuifdeur kom sit tot hy sy warm melk gekry en dan huis toe is,” het Delana gesê.
“Ek onthou jou jonger suster Eloise en jou ma baie goed. Jy was ouer as ek,” het Sally gesê.
ST. JAMES
Die piepklein kusdorpie is geleë aan die klipperige Valsbaai-kuslyn tussen Muizenberg en Kalkbaai. Die dorpie is teen ’n steil berg gebou en is skaars sowat 200 meter by 2 kilometer groot.
Die naam kom van die St. James Katolieke kerk wat rondom 1880 daar gebou is. Die meeste geboue is tussen 1910 en 1950 opgerig nadat die spoorweë aangelê is wat die plek met Kaapstad verbind. Dangerbaai is baie gewild onder branderplankryers.
Pentrichstraat is ’n kort straat wat bergop loop. Elke huis kan net met trappe bereik word.
“Die huise het geen motorhuis nie en al die voertuie moet onder in die straat geparkeer word. My pa is ’n fanatiese karwasser en ek onthou hoe hy en Delana met hul lappe en emmers vol water al die trappe afgestap het na waar die voertuie parkeer was om hulle te was. Daar het hulle in die straat gestaan en elkeen sy voertuig gewas,” vertel Sally.
Sy en haar ouers het nadat sy met Delana kontak gemaak het oor al die ander bure en hul herinneringe gepraat.
“My ouers se hond het gereeld weggehardloop en almal in St. James het dit geweet. Die hond sou ook op die trein klim en by ’n ander stasie loop afklim. Die bure van hel het langs ons gebly. Wanneer ons hond so weggeloop het, het iemand rondgeloop en die hondemis met ’n tandestokkie gemerk en gesê dit is Nicky s’n. Ons was oortuig dis die bure van die hel wat dit gedoen het,” sê Sally.
Volgens Delana het baie mense van Johannesburg vakansiehuise in St. James gehad. Ná die vakansie het hulle die huise toegesluit en weer vir ’n jaar verdwyn, maar Pentrichstraat was soos ’n kern van mense wat almal mekaar geken het en alles van mekaar af geweet het.
“Die stel trappe huis toe was lank en steil, so om asem te skep het almal kort-kort gestop. Dan staan en rus jy voor iemand se huis en dan is daar gesels en opgevang.
“Ek het soms toe ek ouer was uit die huis geglip deur by die dreineringspyp af te gly en die trappe af te hardloop die straat toe. Maar die volgende dag het mense geweet, want jy kan nie al die trappe afstap sonder dat een van die bure jou sien nie,” het Sally gesê.
“Saterdae was ’n nagmerrie, want dan het ma inkopies gaan doen en ons moes die sakke al die trappe op dra huis toe. Ek was nie baie mal ook Saterdae nie,” het Delana gesê.
DELANA IN NAMIBIË
Delana het in 1977 verhuis toe haar man vir werk na Windhoek en Grootfontein verplaas is.
In Suid-Afrika was sy ’n Rotariër en tydens een van hul vergaderings was die bestuurder van Radio Helderberg ’n gasspreker.
“Ek het haar my kaartjie gegee en gesê ek sal graag vir ’n stemtoets kom. Hulle het my geskakel en die volgende het ek elke Sondagoggend vanaf 09:00 tot 12:00 vir die volgende tien jaar ’n program met Golden Oldies aangebied. Ek is bly ek kan nou ’n soortgelyke program in Namibië aanbied.”
Verlede week was sy deel van ’n filmspan wat in Namibië dele van ’n fliek oor die berugte dwelmbaas Pablo Escobar geskiet het.
“Hy het in 1987 drie seekoeie uit die Okavangodelta gekoop en na sy private dieretuin in Colombia geneem. Die fliek se regisseur en produksieleier was hier vir die opname. Hulle het beide van Colombia af gekom. Ek het die rol van ’n Duitse toeris vertolk.”
Nadat die laaste skietwerk afgehandel is, het die regisseur ’n boodskap gekry die produksie tot sover is vir die Cannes Filmfees goedgekeur.
“Hulle het mal gegaan en om te dink ek is ook in daai fliek.”
SALLY BELAND IN NAMIBIË
Sally het in 2018 in Namibië aangekom nadat sy en haar man Karl getrou het.
Hulle het in Mosambiek ontmoet terwyl sy en twee sakevennote vir ’n bosberaad daar was.
“Ek het daar aangekom en die kaalvoet man met die vreemde aksent ontmoet. Die volgende oggend terwyl ek ’n goeie koppie koffie soek, was die man weer daar en ons het begin gesels. Hy het my vertel hy is van Namibië en het ’n plaas besit, maar ná sy egskeiding het hy alles opgegee om homself te vind en was nou ’n duikinstrukteur in Mosambiek.”
Die volgende dag het die drie sakvennote besluit om bietjie met ’n kano op die see uit te gaan. Karl het hulle op die strand afgesien en hulle is weg.
“Ná ’n rukkie het die see baie rof en die hemel donker geraak. Ons het besef ons moet iewers aan land kom, want die klein branders waaroor ons ’n rukkie terug geroei het, het in reuse Noorweë se branders verander.
“Ons het mekaar verloor en ek het by ’n mangrove uitgespoel net toe dit begin reën.”
Volgens Sally was die Survivor TV-reeks daai tyd gewild en sy het begin dink wat ’n Survivor in so ’n situasie sou doen.
“Ek het die kano in die reën geplaas om water op te vang. Ek het my sarong uitgetrek en probeer vasmaak aan iets sodat skepe wat verbyry my sal sien. Ek was nat en het skuiling benodig. Ek het ’n ou strooihut gesien wat gelyk het asof dit 40 jaar gelede verlaat is en ek het die gevoel gekry ek is op een of ander eiland met kannibale gestrand.
“Ná wat soos ure gevoel het, het ek ’n klein boot sien aankom. Aan boord was Karl. Die boot kon nie by my uitkom nie en Karl het in die water geklim, oorgestap, my opgetel en terug boot toe gedra.”
Nadat hulle ook die twee vennote opgetel en by die lodge aangekom het, het Sally gehoor sy was net sowat 20 minute se stap vanaf die lodge. Karl het boonop die lodge langsaan se boot gaan haal omdat hul lodge se boot weens herstelwerk nie beskikbaar was nie.
Later het hy vir haar ’n e-pos gestuur en haar Namibië toe genooi.
“Ons het mekaar nie juis goed geken nie en ek het lank nagedink tot ek op die ou end besluit het ek sal gaan. Karl het my vir sewe dae deur die land gevat en ek het alles gesien, van Sossusvlei se duine tot olifante in Etosha. In daai sewe dae het ek smoorverlief op hom en die land geword.”
Ná die vakansie het sy terug Kaapstad toe gevlieg en drie weke later het Karl haar gebel en gevra of sy in die huis met die groen deur woon?
“Hy het my adres gehad en Google Maps gebruik en voor my deur kom staan. Hy het na my toe getrek en ek het my huis, voertuig en besigheid verkoop. Ons het getrou en in 2018 het ons Windhoek toe getrek om ons lewe saam te begin.”
55 JAAR LATER
“Dis ongelooflik dat ons ná al die tyd deur Nova en die tipe musiek wat sy speel weer die konneksie kon maak. Beide ons vanne het verander en ek kon nie die konneksie van net haar naam maak nie. Net die musieksmaak en toe sy St. James noem, is wat alles begin het,” het Sally gesê.
“As ons terugkyk soos ons ouer word, dink ek nie ons waardeer altyd wat ons gehad het nie. Ons kon nie wag om skool klaar te maak en uit die huis te gaan nie. Maar dis ’n tydperk wat verby is en hom nooit weer sal herhaal nie.
“Ons was ’n gehegte komp mense in daai straat. Deesdae ken mens nie jou bure nie, praat nie met hulle nie, elke huis het mure om en almal is net bekommerd oor misdaad en die ekonomie. Ons het huis tot huis gegaan die trappe af oor die straat en strand langs skool toe geloop – iets wat klein kinders vandag beslis nie meer gaan doen nie. Pentrichstraat en ons kinderdae is ’n tyd wat vir altyd verby is.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie