Herrie los oor sleepnetvissers

Des Erasmus
Des Erasmus - Ondersteuningsgroepe van die Inspektoraat van Seevisserye het Woensdagoggend beheer geneem oor ‘n seegebied waar ontsaglike kolstertvangste deur sleepnetvissers gemaak is.

Dié gebied is by Dolfynstrand en in die omgewing van die Voëleiland tussen Walvisbaai en Swakopmund.

Honderde jong elwe was, soos die kolsterte, ‘n byvangs van dié instansie wat vir die vang van harders gemagtig is.

Die woordvoerder van die inspektoraat, mnr. Stanley Ndara, het Woensdagmiddag aan Republikein gesê hy is vir twee dae met verlof, maar hy het wel opdrag gegee dat beslag op die geskatte twee ton kolsterte gelê word. Wat vasgestel moet word, is of die vangste binne die goedgekeurde operasionele gebied van die hardervissers was.

Die verteenwoordigers van die inspektoraat was volgens een bron op die strand toe die vangs ingebring was. Die sleepnetvissers is na bewering van die vangplek tot op Walvisbaai begelei.

Fotomateriaal van die omstrede vangs het die sosiale media Woensdag met ‘n plofslag getref in ‘n stadium waar ‘n delikate emosionele toestand tussen ontspanningshengelaars en die toepassers van die viswet voortsleep.

Kolsterte is een van die gewilde eetbare spesies wat algemeen langs die Namibiese kus voorkom. Dit word hoofsaaklik as ‘n panvis gebruik, maar beland ook op die roosters. Elwe is ook ‘n eetbare spesie, maar is gewoonlik baie skaars langs die Namibiese kus. Ontspanningshengelaars se dagkwota is 10 visse, waaronder kolsterte.

Die vanggebied van die hardertrekkers met hul sleepnette word duidelik omskryf. Die vanggebiede is veral om die strandmeergebied van Walvisbaai en in die rigting van Pelikaanpunt. Wat nou vasgestel word, is of Dolfynstrand en die Voëleiland binne of buite die vanggebied is. Hoewel die sleepnetvissers op harders konsentreer, maak hul lisensies vir byvangste voorsiening.

Sleepnetvissers beweeg gewoonlik strandlangs, soms in bakkies soos Woensdag by die Voëleiland en Dolfynstrand. Wanneer daar tekens van vis in die water is, word die nette met klein bote om die skole geroei en dan van die strand af ingetrek. Dit was blykbaar die metode wat ook vir dié omstrede vangs gebruik was. Die kolsterte en die elwe was hoofsaaklik jong vis. Die gebied is nie vir alle vorms van hengel gesluit nie, maar sou ‘n kabeljou aan die hoek kom, moet dit terug in die water geplaas word.

Hengelaars het in die algemeen gehoor aan die verbod gegee met inspeksies wat in die betrokke gebied verskerp was. ‘n Gebied wat in 2001 met die proklamasie van die Dorobpark gesluit was, het ook nou vir die eerste keer toegeklap. Ongeag die koms van Dorobpark, het hengelaars steeds in die geslote gebied gaan vang sonder dat teen hulle opgetree was. Die geslote gebied sluit onder meer die gewilde Lang Duin en Ronde Duin in die rigting van Sandvishawe in.

Terwyl oor die kabeljoubron suid van Walvisbaai gewaak word, het groot skole kabeljou vanjaar by Horingbaai noord van Hentiesbaai uitgeslaan. Hengelaars het hul kwota van eetbare visse per dag Saterdag en Sondag daar binne ‘n uur volgevang. In sodanige vangs van 10 mag net twee kabeljoue langer as 70 sentimeter wees.



Plate voertuie van kabeljouvangers het Saterdag en Sondag, en in ‘n mindere mate ook Maandag, by Horingbaai gestaan. Inspekteurs het ‘n blokkade by Hentiesbaai opgestel waar terugkerende hengelaars van Horingbaai se vangste nagegaan is.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer