Herrie oor Maria u00adIsaacks-begrafnis
Herrie oor Maria u00adIsaacks-begrafnis

Herrie oor Maria ­Isaacks-begrafnis

Aktivis mag nie op Versailles ter ruste gelê word
Maria Eiseb
Maria Eiseb - “As dit die apartheid-era was, het ons verstaan, maar as die mense wat ons gekies het vir ons so behandel, dan weet ons nie hoe nie,” het die groep, ||Naosan |Aes (vuur van die voorvaders), gesê oor die begrafnisreëlings van me. Maria Sululu Isaacks eerskomende naweek.
Haar familie is deur die Khomasstreekraad ingelig dat haar oorskot nie begrawe mag word op die plaas Versailles waar sy hervestig was nie.
“Hoe kan iemand so behandel word? Destyds, toe Maria Sululu Isaacks haar ma by Ongombo-Wes wou begrawe, het ons met dieselfde probleem gesit. Dit was toe dat ons die groep ||Naosan |Aes gestig het om grond te kan kry. Nou is dit weer dieselfde met haar,” het haar oom, mnr. Anton #Auseb, aanRepublikein gesê.
“Hoekom is ons nie die dag toe ons op Versailles, suidoos van Rehoboth, hervestig is, gesê niemand mag daar begrawe word nie,” wou me. Claudia Namises weet. Sy is ’n voormalige vryheidsvegter wat saam met me. Isaacks in die stryd was.
Volgens #Auseb is ’n memorandum deur me. Penina Ita van die Katutura landelike kiesafdeling se kantoor by hulle afgelewer wat sê hulle kan nie die begrafnis op Versailles hou nie.
Volgens die familie en die mense wat hul meegevoel wil betoon, wil hulle nou weet of daar ooit eendag ’n plek vir hulle sal wees om begrawe te word.
“Ons weet nie of ons eendag sal kan sê dit is ons grond nie, en nog minder dat ons daar begrawe mag word,” het ’n bejaarde vrou met trane in haar oë gesê.
Volgens Namises het die mense van die Khomasstreek ook nie grond nie. “Mense wat in Khomas gebore is, het nie plek nie. Ons wil ook by ons voorouers begrawe word,” het sy bygevoeg. “Dit is baie hartseer en dis ’n skande. Hoe kan iemand wat vir die vryheid van die land geveg het, nie ’n plek hê om begrawe te word nie,” het sy gevra.
Die familie het gesê hulle gaan voort met die begrafnisreëlings ten spyte van die memorandum wat hulle ontvang het. “Ons sal vir Isaacks begrawe op Versailles, op die grond waarvoor sy geveg het,” het hulle gesê.
“As ons daaraan skuldig is, is haar oorskot ook saam met ons skuldig en ons is bereid om saam met die oorskot in die tronk te wees”, het hulle bygevoeg.
“Tot die dood toe word daar met haar gestry. Sy was al ook oor daardie plaas in hegtenis geneem en nou word sy in haar dood steeds agtervolg. Kan dit moontlik wees?” wou #Auseb weet.
Volgens Ita word niemand toegelaat om familielede op ’n plek waar hulle hervestig is, te begrawe nie. Sy het verder gesê as die mense nou begin om mekaar daar te begrawe, word begraafplase geskep en dit sal later moeilik wees om die grafte te verwyder, veral as daar baie mense in die toekoms op die plaas moet woon. Daar is nie grafte nie en hulle kan nie nou begin om ’n begraafplaas te ontwikkel nie, het sy bygevoeg.
“Die mense van ||Naosan |Aes moes toestemming by die goewerneur van die Khomasstreek gekry het,” het sy gesê.
“Hulle sê dit is hulle grond, maar hulle is net op ’n huurpag van 99 jaar op Versailles, dit is nie hul eiendom nie,” het sy bygevoeg. “As ’n leier is dit my plig om die gemeenskap raad te gee en ook om hulle te beskerm,” het sy gesê.
Intussen het mnr. Clinton Swartbooi, adjunkminister van grondhervorming, kort voor druktyd gister by navraag gesê hy sien nie ’n probleem daarmee dat Isaacks daar begrawe word nie.
“Die mense is nie met hul hervestiging daaroor ingelig dat hulle nie daar begrawe mag word nie. As sy geweet het daar is so ’n reël, sou sy nie op haar sterfbed so ’n wens uitgespreek oor dié plek waarvoor sy geveg het nie,” het Swartbooi gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!