Herrie oor renosterhorings
Herrie oor renosterhorings

Herrie oor renosterhorings

'n Bohaai het losgebars toe die Suid-Afrikaanse minister van omgewingsake haar voorgenome regulasies oor uitvoere bekend gemaak het.
Francoise Steynberg
Jaco Nel



Dit gaan nog baie lank duur voor enige Suid-Afrikaner wettig kan handel dryf in renosterhoring.

Toe Edna Molewa, Suid-Afrikaanse minister van omgewing­sake, verlede week haar voorgenome regulasies aan die publiek bekend gestel het, het 'n bohaai oor die uitvoer van horings losgebars. Die feit dat “enigiemand” voor­taan dalk twee renosterhorings vir persoonlike doeleindes landuit mag neem, het omgewingsaktiviste die harnas in gejaag.

Daar was selfs sprake van “'n deur wat wawyd oopgemaak word” vir renosterboere om links en regs met enig­iemand ter wêreld handel te dryf.

Maar die situasie is ingewikkelder.

Die moratorium op plaas­like horingverkope is reeds ongeldig verklaar deur die hooggeregs­hof én die appèlhof. Die wetgewing is egter nog nie in pas hiermee gebring nie weens 'n hangende aansoek om verlof tot appèl.

Verkope van Suid-Afrikaanse renosterhoring buite die landgrense word egter nie deur die voorgenome nuwe wetgewing gereguleer nie en smokkelaars sal steeds tronkstraf opgelê kan word as hulle buite Suid-Afrika met horing gevang word, het kenners verduidelik.

“Wat die minister voorstel, het absoluut niks met uitvoer uit te waai nie,” sê Izak du Toit, 'n regskenner in omgewingsake. Hy is ook die regsverteenwoordiger van Suid-­Afrika se grootste renosterboer, John Hume.

“Dit was nog altyd wettig om renosterhorings vir persoonlike doeleindes die land uit te neem. Wat die minister eintlik hier voorstel, is 'n beperking op spesifieke persoonlike besittings. Dit is glad nie 'n manier om nuwe dinge sommer so toe te laat nie.”

Horings vir persoonlike gebruik sluit in artefakte soos versierings en aandenkings – veral messe en horingfragmente wat mense aan hul nek hang.



TWEE PER PERSOON

Die minister se voorstel is dat een persoon slegs twee sulke artefakte per jaar mag uitvoer. Daarvoor moet steeds 'n geldige invoer- en uitvoerpermit bekom word.

“Mense het in die verlede dié stelsel misbruik as net nog 'n manier om horings te smokkel,” sê Du Toit. “Daarom is die voorstel nou dat slegs twee horings – pleks van méér horings – oorsee vervoer mag word.”

Ook met 'n jagpermit sou jy wettig 'n trofee mét 'n horing landuit kon neem. In die verlede het smokkelaars “groot groepe vriende” saamgebring na Suid-Afrika, elk met 'n jag­lisensie. Elke persoon kon een trofee terugneem met 'n horing en dit het dikwels in smokkelaars se hande beland.

“Hierdie is 'n goeie inisiatief,” sê Du Toit.

'n Aanklaer van Mpumalanga, wat ook gereeld met renostersake werk, stem nie saam nie.

“Hierdie dokument van die minister skep steeds 'n hele paar skuiwergate,” sê sy.

“Dit skep steeds die geleentheid vir oneerlike mense om horings onwettig landuit te neem onder die dekmantel van bestaande regulasies soos dié. Verskeie mense is ontevrede hieroor.”

Loraine Liebenberg, 'n senior administrateur van Save our Rhino, sê die beoogde wetgewing sal die vraag na horings aanhou stimuleer.

“Sodra 'n mens die vraag stimuleer, sal stropery nooit ophou nie,” sê sy. “In geen mark ter wêreld word daar nié 'n onwettige mark geskep nie.”

Ron Thomson, uitvoerende hoof van The True Green Alliance, skree vir “die ander kant”.

“Ons moes lankal 'n gevestigde uitvoerstelsel vir renosterhorings, ivoor en leeubene gehad het,” sê hy.

“Soos skaap- en beesprodukte. Húlle sal nooit uitsterf nie, want mense kan nie bekostig dat hulle uitsterf nie.

“Sodra jy 'n bepaalde waarde heg aan 'n dier, sal mense begin om na daardie dier om te sien.”

- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!